Vra vir Faffa

Malkoeisiekte

Vraag

Vertel my meer van malkoeisiekte

Antwoord

Malkoeisiekte of malbeessiekte kom nie in Suid-Afrika voor nie en almal moet ten alle koste saamwerk om te voorkom dat die besmetlike agent in die land ingebring word.

Malkoeisiekte is die algemene benaming vir bees sponsagtige ensefalopatie (Engels: bovine spongiform encephalopathy, BSE). Die eerste geval is in 1986 in die Verenigde Koninkryk bevestig. Die siekte is wydverspreid in Europa gediagnoseer asook in Kanada, VSA, Israel, Oman,  Falkland eilande en die Kanaal eilande.
Die siekte word veroorsaak deur ‘n soortgelyke agent wat scrapie in skape veroorsaak en wat ons ‘n prion noem. Die prion wat BSE veroorsaak, verskil egter van die prion wat scrapie in skape veroorsaak.
BSE affekteer volwasse beeste, hoofsaaklik melkkoeie deurdat hulle as kalwers aan besmette voer blootgestel is.
Die siekte is dodelik en sulke diere kan nie behandel word nie. Die inkubasieperiode duur gemiddeld 60 maande. Diere wat aangetas is , is tipies 4 tot 6 jaar oue diere (varieer tussen 20 maande en 19 jaar).
Tot dusver is daar nie bewys dat diere mekaar kan aansteek nie.
Daar is ‘n verwantskap tussen die agent wat BSE veroorsaak en soortgelyke siektes wat in ander diere (katte, koedoe en njala in Verenigde Koninkryk vasgestel) asook ‘n variant van Creutzfeldt-Jakob siekte wat in mense voorkom. Daar word vermoed dat die besmetlike agent voorgekom het in die sentrale senuweeweefsels of eetbare dele wat in kontak gekom het met hierdie weefsels. Hierde siekte moet dus as oordraagbaar aan die mens beskou word en dus is beheer uiters noodsaaklik.
Daar is baie streng voorkomende maatreëls ingestel  waar daar ‘n voorkoms van BSE vasgestel is. Aanmelding van alle diere wat die siekte het, moet geskied. Diere word uitgeslag en alle materiaal wat besmetting kan veroorsaak, moet uit die voedselketting verwyder word. Hierdie weefsels sluit in die sentrale senuweestelsel, die o? en derms. Hierdie weefsels moet volledig vernietig word.
Die siekte word hoofsaaklik deur vleis en beenmeel wat  met die BSE agent besmet is, versprei. Waar BSE voorgekom het, is die insluiting van enige geprosesseerde dierlike prote?ene in veevoer wat vir diere in die voedselketting van die mens bestem is, verbied.
Kliniese tekens:
Aanvanklike tekens is ‘n verandering in temperament en gedrag: Diere is bang, oorgevoelig, skop, oormatige kopbeweging, skei van die groep af. Verandering in houding en beweging en loop wankelend. Oormatige gelek. Daar is ‘n val in melkproduksie. Die verloop van die siekte kan 1 tot 6 maande duur. Diere word swakker, verloor gewig en diere word gewoonlik na die slagplaas gestuur.
Diere word getoets deur hulle bloot te stel aan ’n skielike geraas, beweging en aanraking en dan hulle reaksie hierop te evalueer. BSE diere reageer hierop deur te skrik, kop in die lug te gooi, spoegloop, snork, weg te hardloop, paniekerig in sirkels te hardloop en te skop by aanraking.
Daar is nog nie ‘n toets om die siekte op ‘n lewendige dier vas te stel nie.
Diagnose:
BSE kan nadoods bevestig word deur breinsnitte mikroskopies te ondersoek en deur ander chemiese toetse uit te voer.
Voorkoming:
Daar is ‘n risiko dat malbeessiekte (BSE) Suid-Afrika kan binnekom deur ingevoerde afvalpille, beenmeel, lewende diere en embrio’s. Die land kan dit nie bekostig nie en daarom tree die Regering voorkomend op om dit te keer.
Daar is ‘n BSE-verwysingslaboratorium by die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut (OVI) tot stand gebring om te keer dat dié siekte Suid-Afrika ingebring word. Om dié rede moniteer Onderstepoort ook die inbring van dierevoer om te verseker dat die siekte nie op dié manier die land binnekom nie.
Die OVI sal verdagte gevalle op plase ondersoek. Diere wat simptome van hondsdolheid toon, maar negatief daarvoor toets, sal voortaan ook by die laboratorium vir BSE getoets word. Die OVI is tans besig om ‘n inligtingstelsel op die been te bring waarvoor minstens 12 000 diere getoets sal moet word.
 
Bronne:
Coetzer, J.A.W. en Tustin, R.C. 2004. Infectious diseases of livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X
 
Radostits, O.M., Gay, C.C., Hinchcliff, K. W. en Constable, P.D. 2007. Veterinary Medicine. Elsevier. ISBN 978 0 7020 2777 2
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
 
14 Februarie 2010
 
Lees ook:
Beenmeel vir beeste en wild
Ingestuur deur Janbez op 22 Augustus, 2005 – 12:11
Vraag
Wat is die doel van beenmeel as byvoeding by beeste? Wat is die alternatiewe en hoeveel moet ‘n bees per dag inkry? Is dit nodig om die inname te beperk met sout? – Daan Erasmus (daan.erasmus@kumbaresources.com)
Antwoord
Deur: Dr. JASPER COETZEE
Vraag:
Wat is die doel van beenmeel as byvoeding by beeste? Wat is die alternatiewe en hoeveel moet ‘n bees per dag inkry? Is dit nodig om die inname te beperk met sout? – Daan Erasmus (daan.erasmus@kumbaresources.com)
Antwoord:

Beenmeel bevat ongeveer 24 % kalsium, 12 % fosfor en 12 % proteïen. Beenmeel is vroeër hoofsaaklik as ‘n kalsium- en fosforbron gebruik. Beenmeel wat vir dierlike gebruik verkoop word, moet gesteriliseer word volgens die regulasies vervat in die Veevoerwet (wet 36 van 1947). Dit word gedoen om die verspreiding van siektes te voorkom.

"AFMA (die Assosiasie vir Veevoervervaardigers) instituted a voluntary ban on the use of bone meal in ruminant feeds since 1997 and 29/5/2001 respectively; Rendered products from ruminants may not be fed to ruminants."
AFMA het pas die volgende voorstel aan die Departement van Landbou vir kommentaar gestuur: "No person shall feed any mammalian derived protein (with the exception of milk and milk products) to any animals other than carnivores and predators. " Gevolglik gebruik geen geregistreerde veevoermaatskappy beenmeel nie. Veral ná die uitbreek van malbeessiekte word die gebruik van beenmeel totaal ontmoedig.
As alternatief word fosfaatlekke aan beeste gevoer (klik hier om ‘n artikel daaroor te lees).
· Dr. Jasper Coetzee is verbonde aan Voermol Voere.
22 Augustus 2005

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X