Vra vir Faffa

Maklike breek van bene by beeste

Vraag

Ons bly teen die Botswana-grens. Ek wil graag weet hoekom my beeste se bene baie maklik breek. Ek het al verskeie beeste geslag, dan is die bene baie bros. Vanoggend is beeste bymekaargemaak vir die speen van kalwers, 3 van die beeste se boudbene is af, (hul het oornag in kraal gestaan). Is dit 'n tekort aan kalsium of iets anders, help asseblief!

Antwoord

Beeste wat bene breek – spontane frakture

 

Frakture in beeste is ‘n frustrerende probleem, aangesien dit gewoonlik met aansienlike verliese saamloop. Die vraag is dan gewoonlik wat die oorsaak van die frakture is? Beeste wat spontaan hulle bene breek en veral as daar verskeie gevalle voorkom oor kort periodes, dui op ‘n spesifieke oorsaak. Dit is raadsaam dat sulke gevalle deeglik en sistematies ondersoek moet word sodat ‘n finale diagnose so spoedig moontlik gevind kan word. Sonder ‘n diagnose is dit baie moeilik om regstellende voorstelle te maak.

 

Die mees algemene oorsake van spontane frakture is: ‘n fosfaattekort of wanbalans; oormaat inname van fluoried; of ‘n kopertekort of wanbalans. Omdat meeste van hierdie probleme met voeding geassosieer word, is dit ook raadsaam om die rantsoen wat gebruik word, te bekyk. Onthou om nie die drinkwater te vergeet as bron van minerale nie!

 

Die bevestiging van ‘n diagnose in die geval van frakture mag somtyds ‘n krisis wees. Ongelukkig word die hulp van professionele persone en laboratoriums benodig. Indien van die diere geslag moet word a.g.v. frakture (dit is gewoonlik die geval) is dit belangrik om van die bene te versamel vir laboratorium analises. Versamel ten minste 2 ribbes, 2 lang bene en die hele onderkaak van elke karkas. Jou plaaslike veearts sal kan help met die versameling van die regte bene. Die bene kan gebruik word om kalsium-, fosfaat-, magnesium- en fluoorvlakke te bepaal. Onthou om ook die lewer te versamel van die karkas. Lewerweefsel is ideaal vir koperkonsentrasie bepalings.  

 

Dit is raadsaam om die waterbronne op elke plaas, wat as drinkwater gebruik word vir diere en mense, ten minste 2 maal per jaar te laat toets. Abnormale hoë fluoried konsentrasies sal hierdeur vasgestel kan word. Die belangrikste bron van fluoried is grondwater en dit word gewoonlik met diep boorgate geassosieer. Deur die onderkaak te versamel kan die tande ook bekyk word vir tekens van fluorose. Hoë fluoriedinname be?nvloed die tande van mense en diere. Die ander effek wat die oormatige inname van fluoried het, is dat dit bene bros maak wat weer spontane frakture tot gevolg het.

 

My voorstel van ‘n plan van aksie:

  1. Kyk na die daaglikse kalsium en fosfaatinname (voeding), asook die balans in die diere se rantsoen. Onthou dat die beskikbaarheid van die fosfaat vir die dier ook in ag geneem moet word. Sommige fosfaatbronne is van min nut vir diere, omdat dit baie swak geabsorbeer word uit die dermkanaal.
  2. Skakel hoë fluoriedinname uit as oorsaak van frakture deur die drinkwater te laat toets.
  3. Neem kennis dat ‘n kopertekort of wanbalans ook ‘n rol kan speel as oorsaak van frakture. Lewerweefsel is ideaal hiervoor en kan gevries word.
  4. Deur die bene van aangetaste diere skoon te maak en te bekyk, plus mineraalanalises op die bene te laat doen, sal jy gou agterkom wat die moontlike onderliggende probleme is.
  5. Gebruik jou plaaslike veearts om te help met die ondersoek.

 

Geskryf deur: dr. Jan Myburgh, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria

17 Maart 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X