Vra vir Faffa

Maak voorsiening vir droogtes

Vraag

Wat kan ons uit huidige droogte leer wat ons slimmer en meer voorbereid maak vir die volgende een wat kom?

Antwoord

  • Die natuurverskynsel van droogte kom siklies  en gereeld in Suid-Afrika voor en kan verwag en dus voor beplan word om te sorg dat die nadelige effek daarvan so min as moontlik is.
  • Hierdie opmerkings is op tipiese seisoenale en eenjarige droogtes van toepassing, daar waar ons kan sorg dat ons broek nie tot op ons knieë sak nie – soms is die droogtes meer jare agtermekaar en ons kan nie effektief daarvoor voorberei nie.
  • Daar is nie ‘n kortpad of wondermiddel nie, diere het daagliks ‘n minimum hoeveelheid verteerbare energie nodig om te oorleef (onderhoud) en addisionele energie om te kan produseer – addisionele voer moet dus verskaf word of die getal diere moet verminder word om met beskikbare voer hierdie energie te kan verskaf.
  • Die herkouer beskik oor ‘n unieke verteringstelsel van mikrobevertering en hersirkulasie van stikstof en is in staat om energie uit laegraadse ruvoer (vesel) te ontsluit – hierdie eienskap moet maksimaal benut word deur ook die regte aanvulling (stikstof of proteїen) te verskaf.
  • Daar is tye van oorvloed en goedkoop voer wanneer ruvoer oor tyd opgeberg moet word en opgeberg moet bly, selfs in tye van gunstige klimaatsomstandighede – ten minste 3 maande se gebruik moet so opgeberg word en beskikbaar bly.
  • Die hoeveelheid ruvoer wat nodig is om aan die onderhoudsbehoefte van beeste te voldoen, is 10kg ruvoer per GVE (grootvee-eenhede; 450kg LM) per dag – dit beteken 100 ton voer (±400 ronde bale van ±250kg elk) vir 100 dae vir 100 GVE’e.
  • Hierdie bale moet verkieslik in miedens van 50 ten minste 20m weg van mekaar af, gepak word om die risiko van brand te verlaag.
  • ‘n Veiliger keuse om ‘n voorraad voer vir sporadiese droogtes op te berg en wat nie ‘n brandgevaar inhou nie, is kuilvoer in een of ander vorm – om droogtevoer  vir 100 GVE’e vir 100 dae in die vorm van mieliekuilvoer op te berg, sal ±160 ton nat kuilvoer nodig wees wat teen 16kg per dag per GVE verskaf moet word.
  • Saam met hierdie ruvoer of kuilvoer kan goeie kwaliteit hoendermis (droë braaikuikenmis) opgeberg word, wat hoogs effektief en ekonomies as droogtevoer aangewend kan word – onthou om die diere teen botulisme of lamsiekte in te ent (ten minste twee keer en ten minste twee weke uit mekaar).
  • Indien hoendermis ook gebruik word, kan 50% van die 10kg ruvoer per dag en 10% van die 16kg kuilvoer met hoendermis vervang word om ‘n onderhoudsvoer te maak – hier sal die hoendermis as stikstofbron dien om beide die ruvoer en kuilvoer se tekort aan stikstof aan te vul en die energie te ontsluit – die minimum lek, indien enige, sal dan ook nodig wees.

Geskryf deur: Dr. Kobus Swart, PhD; Pr. Sci. Nat, Dierevoeding. (kobus@mixcure.co.za)

www.mixcure.co.za

24 September 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X