Vra vir Faffa

Maagwerk by Boerboklammers

Vraag

Ek is 'n nuwe en onkundige boerbokboer. Ek wil graag weet hoe vermy of help ek my nuwe boklammers wie se mae so vreeslik werk? Moet ek hulle weghou van hul ma's vir sekere tye van die dag en is daar iets wat ek vir hulle kan gee daarvoor? Dankie, Stephanie

Antwoord

Boklammers wat gekraal word, kan diarree ontwikkel as gevolg van verskeie redes.

  • Koksidiose
Koksidiose word veroorsaak deur parasiete wat onder die groep protoso? val. Daar is baie spesies van koksidia en hulle is skadelik vir onder andere pluimvee, kalwers en lammers. Oösiste, wat ‘n eieragtige vorm met ‘n sterk dop het, word in die mis uitgeskei. Ooie is gewoonlik simptoomlose draers van koksidia. Die oösiste kan lank oorleef en benodig nattigheid om te ontwikkel. Bokooie lê in die kraal en mis, wat oösiste bevat, sit vas op die spene en word deur lammetjies ingeneem wanneer hulle suip. Nat plekke wat dikwels veroorsaak word deur lekkende waterbakke speel ‘n groot rol in die voorkoms van koksidiose.
Die siektetekens in lammers is laksering wat dikwels slymerig en bloederig mag wees. Dit word veroorsaak deur  die parasiet se ontwikkelingstadiums in die dermslymvlies. Die lammetjies word swak, loop met ‘n gekromde rug en swaaiende agterlyf en hulle kan vrek.
By nadoodse ondersoek kan gesien word dat die dunderm gelerige slym bevat, die slymvlies is dikwels rooierig met grys vlekkies so groot soos ‘n speldekop.
Diagnose
Deur ‘n mismonster onder die mikroskoop te ondersoek, kan die oösiste ge?dentifiseer word. Volgens die aantal oösiste in die mikroskoopveld, tesame met siektetekens wat voorkom, kan saam met u veearts op ‘n gepaste behandeling besluit word.
Behandeling
Middels wat beskikbaar is en wat vir bokke en skape geregistreer is, is: Vecoxan (G1405) met die aktief diclazuril; Disulfox (G3212 met die aktief sulfa dimetoksien; Maxi-sulf LA (G3657) Sulfadimetoksien; Sulfazine 16% Solution (G 1123) en Sulfazine (G1124) met die aktief sulfadimedien; Sulphamezathine 16% (G802) en Sulphamezathine 33 1/3% met die aktief sulfamesatien .
Produkte wat vir skape geregistreer is, is Baycox 5% (G3662) met die aktief toltrazuril; Deccox 6% (G3282) met die aktief decoquinate; Sulfazine 16% Solution (G 1123) en Sulfazine (G1124) met die aktief sulfadimedien; Ecosulf (G3037) met die aktief sulfadimetoksien.
Voorkomende behandeling
Middels wat in voer ingemeng kan word om koksidiose te voorkom (koksidiostate), is die volgende: Middels wat vir bokke en skape geregistreer is: Sacox 120 (G574) met die aktief salinomisien; Salecox 120 (G1882) met die aktief salinomisien; Salinopharm (G1882) met die aktief salinomisien; Taurotec Liquid Premix (G3064) met die aktief lasalosied.
Middels wat vir skape geregistreer is: Deccox 6% granular powder (3282) met die aktief decoquinate; Ceva salinomisien (G2500) met die aktief salinomisien; Combicox 20% (G3816) met die aktief monensin; Rumensin 200 (G1818) met die aktief monensin.
Bestuur
Maak lekkende waterbakke reg en verwyder mis uit krale. Voorsien krale van ‘n konkreetvloer wat gereeld skoongemaak word.
  • Witbankrotwurm
Die witbankrotworm (Strongyloides papillosus), het ‘n buitengewone lewensiklus wat ons partogenese noem. Slegs wyfies kom in die dunderm van bokke en skape voor. Die wyfies lê eiertjies wat larfies bevat en word in die mis uitgeskei en is maklik vir ‘n opgeleide persoon om in ‘n miseiertelling te identifiseer. Die volwasse wurmpies is baie klein en word onder ‘n stereo-mikroskoop uit derminhoud herwin vir identifikasie.
Die lewensiklus van die wurm is baie kort, minder as 14 dae vandat die dier deur die derde larfstadium besmet is totdat die eiertjies wat wyfies lê in die mis van die dier gevind word. Die derde besmetlike stadium larfies dring die vel binne, dring die bloedvaatjies binne en word tot in die longe vervoer waar hulle deur die alveoli breek tot in die lugwe?, en dan opgehoes en ingesluk word. Die volwasse wyfie kom in die dunderm voor en lê haar eiertjies met die larfie daarbinne. Larfies kan ook in die melk van die ooie uitgeskei word en sodoende lammers besmet.
Die lewensikus kan ook buite die dier voorkom waar die geslagtelike lewensiklus geskied d.w.s. mannetjies en wyfies kom voor. As die besmetting eers in ‘n kraal of stal ingekom het, is dit baie moeilik om van die besmetting ontslae te raak.
Boklammers het in Namibi? gevrek en by nadere ondersoek het veeartse vasgestel dat die oorsaak witbankrotwurm was. Dit het daartoe gelei dat die naam Gobabisboksiekte aan die uitbreek gegee is. Wat gebeur het is dat die boklammers in die kraal agtergebly het terwyl die ooie gaan wei het. In die aand het die lammers dan gesuip. Die witbankrotwurmbesmetting het in die krale opgebou deur die partogenetiese siklus en  baie lammers het gevrek vanwe? die besmetting. Die oplossing was dat verskuifbare krale vir die boklammers opgerig is.
Behandeling
As ‘n wurmmiddel teen witbankrotwurm gegee word, moet deur ‘n miseiertelling reduksie toets vasgestel word dat die middel effektief is. Weerstand teen sekere wurmmiddelgroepe is al gerapporteer. Lees die etiket om vas te stel of die middel wel vir gebruik in bokke geregistreer is asook of onvolwasse en volwasse witbankrotwurm beheer word.
Aktiewes wat geregistreer is teen onvolwasse en volwasse witbankrotwurm in bokke is:
Groep1: doramektien, ivermektien, abamektien
Groep 2: fenbendasool, oksfendasool
  • Lintwurms
Bokkies kan met melklintwurm besmet raak wanneer hulle grasmyte, wat ‘n lintwurmmaseltjie (blasie met lintwurmkop) bevat,  saam met gras vreet. Verwyder voorkomend grassies in en om die kraal. Lintwurmsegmente sal in die mis gesien word. Lammers kan ook ‘n boepens en diarree ontwikkel.
Diere kan met ‘n middel wat niklosamied, prasikwantel of resorantel bevat, behandel word.
  • Bloedpens
Bloedpens word veroorsaak deur die kiem Clostridium perfringens tipe B.
Die siekte kom in bepaalde gebiede voor. Lammers word  binne die eerste week na geboorte siek. Lammers het baie pyn, bloederige maagwerk kom voor en hulle vrek.
Nadoodse ondersoek
Die naam bloedpens dui op ‘n bloederige melkpens met seertjies en bloeding in die dunderm.
Behandeling en voorkoming
Behandeling is onsuksesvol en daarom moet ooie voordat hulle gaan lam teen bloednier ge?mmuniseer word. Die lammetjie word dan deur biesmelkimmuniteit teen die siekte beskerm. Deurdat dit ‘n ge?naktiveerde entstof is, moet ooie as hulle die eerste keer inge?nt word  4 weke na die eerste inenting ‘n skraagdosis ontvang. Ooie moet 4 tot 6 weke voor lamtyd inge?nt word.
Moenie elke jaar in dieselfde kamp of kraal lam nie aangesien kieme  daar kan opbou.
  • Kolibasillose
Die kiem Escherichia coli  kan ook erge diarree, asook breinontsteking veroorsaak. Daar is verskeie serotipes van die bakterie en daarom moet jou veearts betrek word om vas te stel watter tipe betrokke is, asook watter antibiotika om te gebruik. Daar is entstowwe beskikbaar en daar kan selfs ‘n outogene entstof van die kieme wat op die plaas ge?soleer is, gemaak word. Kontak u veearts om u te help om die korrekte monsters vir kiemisolasie te neem.
  • Voedingsprobleme
As die lammers in die dag afgehok word en hulle in die aand weer melk drink, kan hulle dalk te veel melk inneem. Die ensiemes benodig om die melk te verteer, mag dalk te min wees en hulle kan diarree ontwikkel. Te veel kragvoer kan ook tot diarreee aanleiding gee. Sorg dat daar genoeg goeie kwaliteit hooi beskikbaar is.
Daar mag dalk ander oorsake van maagwerk in boklammers wees en daarom is dit belangrik dat u u veearts vra om monsters te neem en na ‘n laboratorium weg te stuur sodat die oorsaak so gou moontlik vasgestel kan word. Die regte behandeling en voorsorgmaatre?ls kan dan getref word om verdere verliese te voorkom.
Bronne:
Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg Uitgewers. ISBN 0624 00359 0
Persoonlike mededelings: Prof. Gareth Bath en dr. Jan van Wyk
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
2 September 2010
 
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X