Vra vir Faffa

Longontsteking in beeste: Verskuilde verliese en voorkoming

Vraag

'n Leser wil weet wat die oorsaak van longontsteking by beeste is en hoe dit voorkom kan word. Dr.Willem Schultheiss beantwoord sy vrae.

Antwoord

Vraag:
Wat is die oorsaak van longontsteking by beeste en hoe kan ek dit voorkom?

Antwoord:
Oorsaak van longontsteking

Baie faktore lei tot longontsteking in beeste. Een kiem alleen kan nie verantwoordelik gehou word vir longontsteking nie. Beeste is baie sosiale diere en smee hegte bande met sommige kuddemaats. Vermenging in nuwe groepe en vervoer is voorbeelde van spanningsvolle situasies vir beeste. Die stres veroorsaak ‘n verhoogde kortisol konsentrasie in die bloedstroom wat die weerstand teen siekte sal verlaag en witbloedselgetalle verminder.

Die kwaliteit van ingeasemde lug kan ook bydra tot longontsteking. Stof en ammoniak sal die slymvliese irriteer en die bees word daardeur meer vatbaar vir infeksies.

Die omgewing bevat altyd ‘n mindere of meerdere mate van virus. Virus oorleef langer in ‘n kouer, natter klimaat en het sy oorsprong altyd uit ‘n draerbees.

 

  • Aansteeklike Bees Rinotrageïtis (IBR) longontsteking wat deur ‘n herpesvirus veroorsaak word, word deur sekere beeste in die kudde gedra en uitgeskei veral as die stresvlakke hoog is (soos met koorsblare in mense en snotsiekte in blouwildebeeste). Indien die bees se immuunstelsel nie die aanslag van die virus kan hanteer nie, sal die virus skade aan die slymvliese van die asemhalingstelsel veroorsaak
  • Para-influensa tipe 3 (PI-3) virus veroorsaak longinfeksies in beeste met geen of milde kliniese tekens wat ontwikkel. In kombinasie met ander virusse, bakterieë en stressituasies kan erge longontsteking egter ontwikkel.
  • BVD (Bees Virus Diarree) virus kan ook bydra tot longontsteking deurdat dit die immuunstelsel onderdruk en word die bees dus meer vatbaar vir ander virusse (bv. IBR virus). Soos IBR virus, word BVD virus deur draerbeeste versprei.
  • Bees Respiratoriese Sinsitiale virus (BRSV) kan ook longontsteking veroorsaak, alhoewel daar in meeste diere geen kliniese tekens is nie.

    Bakterieë, waarvan sommige normaal in die boonste asemhalingsweg van die beeste voorkom, is opportunisties en vererger die skade wat die virus aangerig het. Voorbeelde van patogene (siekteverwekkende) bakterieë is Mannheimia haemolytica, Pasteurella multocida en Histophilus somni. Ander patogene soos Mycoplasma bovis (mikoplasma) kan die graad van longontsteking vererger en die verloop daarvan verleng (meer kronies maak). Teen hierdie tyd toon die bees kliniese tekens en die behoefte aan behandeling word deur die produsent besef.

    Kliniese tekens van longontsteking

    Dit is bewys dat teen die tyd dat ‘n ervare persoon die kliniese tekens van longontsteking waarneem, die bees al minstens 3-4 dae siek is. Dit is begryplik gegewe dat beeste van nature prooidiere is en dat, deur kliniese tekens te wys, die kans om die voedselketting via roofdiere binne te gaan, verhoog word. Die eerste teken is ‘n afname in dieet inname (weiding, melk, volvoer) wat in sommige omstandighede moeilik meetbaar is. Die bees se sosiale gedrag word geaffekteer deurdat hy/sy wil wegkruip (skaam) en nie die normale ondersoekende gedrag toon nie. Daarna volg ‘n toename in asemhalingstempo en word neusafskeidings waargeneem. Teen die tyd dat beeste hoes of moeilik asemhaal, is die siekte reeds ver gevorderd. Dit is ‘n kuns om siek beeste vroegtydig te identifiseer vir behandeling.

    Behandeling van longontsteking

    Hoe vroeër behandeling ‘n aanvang neem, hoe beter die resultate. Indien inflammasie as gevolg van die infeksie toegelaat word om voort te gaan, word die skade aan longweefsel toenemend erger. Bakterieë verdubbel hulle getalle elke 20 minute in longweefsel. Dit is dus belangrik om ‘n antibiotikum te gebruik wat vinnig werk en doeltreffend is teen ‘n breë spektrum van bakterieë.

    Antibiotika werk nie teen virusse nie. Die keuse van antibiotika word in samewerking met jou veearts gemaak – wat die besluit sal baseer op a) die spoed van werking en, b) die spektrum van doeltreffendheid. Laasgenoemde word in ‘n laboratorium bepaal deur longspoelings van geaffekteerde beeste. Kieme word geïsoleer, gekweek en ‘n antibiogram gemaak. Die lengte van werking van ‘n antibiotikum is ondergeskik aan die spoed van werking en die spektrum van doeltreffendheid.

    Die gebruik van ‘n anti-inflammatoriese middel gelyktydig saam met die eerste toediening van antibiotika, is krities belangrik aangesien dit die ontstaan van permanente longletsels soos verklewings aan die borskas sal help voorkom. Dit sal ook die pyn en koors help verlig en die terugkeer tot normale rantsoen inname help bespoedig.

    Die nagevolge van longontsteking in beeste

    Net soos enige velwond ‘n litteken kan laat, so kan inflammasie in longweefsel permanente skade veroorsaak. Vergelykende studies tussen voerkraalbeeste met- of sonder longletsels by slagting het getoon dat die voorafgaande gemiddelde daaglikse massatoename betekenisvol laer was in beeste met longletsels. Geen sulke slagplaas opnames is plaaslik al in suiwelbeeste en skape uitgevoer nie, maar wetenskaplike logika wil dit hê dat produksie erosie beslis sal plaasvind in ‘n bees met ou longletsels. Longkapasiteit vergeleke met suurstof behoefte is baie kleiner in beeste as in ander huisdierspesies.

    Die voorkoming van longontsteking in beeste

    Naas gesonde omgewings- en kuddebestuurspraktyke is die eerste voorkomende maatreël om toe te sien dat die pasgebore kalf binne 6 ure ten minste 800 en 2 000ml – onderskeidelik vir vleisbeeste en suiwelbeeste – kwaliteit biesmelk inkry. Om hierdie doelwit te bereik, is die korrekte rondom geboortebestuur van die koei uiters belangrik – ‘n onderwerp buite die strekking van hierdie artikel.

    Entstowwe speel ‘n sleutelrol in die voorkoming van longontsteking. Hier volg ‘n voorstel wat deur u veearts geverifieer behoort te word:

     

  • Bovillis Qarat (Reg. No. G2586 Wet 36/1947, Namibië Reg. No. N-SR 1058) aan dragtige koeie 1 maand voor kalwing
  • Bovillis Qarat aan kalfies vanaf 3 maande ouderdom
  • Herhaal Bovillis Qarat in kalwers op 5-6 maande ouderdom (voorspeen)
  • Gebruik Bovitect III (Reg. No. G3211 Wet 36/1947, Namibië Reg. No. N-SR 1093); of ?n ander lewende BVD-bevattende entstof saam met Bovitect P (Reg. No. G3002 Wet 36/1947, Namibië Reg. No. N-SR 1015) na speen (8 maande ouderdom) in vervangingsverse
  • Laasgenoemde moet minstens 2 maal herhaal word voordat die vers die eerste keer op 18-24 maande ouderdom geteel word – m.a.w. weer op 12 maande en 18 maande ouderdom.

    Entstowwe werk slegs as die voedingstatus van die geënte dier op standaard is.

    Slotsom

    Longontsteking is ‘n multifaktoriale siekte wat voorkom kan word deur korrekte bestuur oor ‘n breë front. Indien dit nie moontlik is nie sal die verliese aan produksieverliese en behandelingskoste die winsgewendheid van die betrokke bees betekenisvol benadeel.

     

  • Geskryf deur: Dr.Willem Schultheiss, Intervet/Schering-Plough Dieregesondheid.

    Lees ook:

    1644277 Wat is BVD?
    1644285 Pasteurella
    1659824 Pasteurella-inenting: Wanneer?
    1764629 Beessiektes
    1921690 Bestuursriglyne vir vleisbeeste
    1921741 Bestuursriglyne vir ‘n voerkraal
    1923885 Bestuursriglyne vir melkbeeste
    1939186 Longinfeksies by skape en beeste
    1989565 Pasteurella en longontsteking: Dieselfde siekte?
    2053150 Nuttige boek oor immunisering
    2097335
    Bees hoes bloed
    2110721 Die belang van BVD in SA
    2220063 Ysterregulerende proteïene
    2259720 Konsepplan vir veegesondheid
    2344122 Maak antibiotika diere gesond?

    3 Oktober 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X