Vra vir Faffa

Listeriose – gesig van skaap is verlam

Vraag

Ek het al verskeie gevalle gehad waar Romagnolas se een kant van hulle gesig (kop) verlam raak. Dit raak later so erg dat die tong bly uithang, die oor hang en dit lyk asof die skaap beroerte gehad het. Hulle raak net erger en vrek dan.

Antwoord

 

Opskrif: Listeriose – gesig van skaap is verlam

Vraag: Ek het al verskeie gevalle gehad waar Romagnolas se een kant van hulle gesig (kop) verlam raak. Dit raak later so erg dat die tong bly uithang, die oor hang en dit lyk asof die skaap beroerte gehad het. Hulle raak net erger en vrek dan.

Antwoord:

Uit die beskrywing wat gegee is, het die skaap heelwaarskynlik listeriose.

Oorsaak

Listeriose word veroorsaak deur ‘n bakterie Listeria monocytogenes. Hierdie kiem kom wydverspreid in die natuur voor, maar die siekte kom sporadies voor en die insidens is laag.

Infeksie

Die kiem tas veral skape, bokke en beeste aan. In Suid-Afrika is die siekte in bokke, skape en chinchillas gevind. Die siekte kan wel in mense voorkom, is baie raar en kan die dood veroorsaak. Die siekte is nie van groot ekonomiese belang in Suid-Afrika nie.

Kliniese tekens

Daar is drie sindrome:

  • Meningoënkefalitis ( brein vorm). Hierdie sindroom kom algemeen in herkouers voor. Die mortaliteit in diere wat hierdie sindroom het, is feitlik 100%.

Die verloop van die siekte is gewoonlik 2 tot 3 dae in skape en bokke. Diere is terneergedruk, loop in sirkels, het inkoördinasie met beweging, kop is gekantel, unilaterale verlamming van die gesigsenuwee, pap lip, ore en ooglede en verlamming van die spiere van die kakebeen en farinks wat veroorsaak dat diere nie kan kou en sluk nie. Diere staan vir lang periodes met kos wat uit hulle mond hang en met spoeg wat uit hulle bek loop.Hulle raak na ‘n ruk verlam en vrek. Soms kom fietsrybewegings in die voorpote voor en moeilike asemhaling.  Verlamming in een been is al in lammers gesien, maar kom meer in volwasse diere voor.

  • Aborsies of stilgeboortes kom meer algemeen in beeste as in skape en bokke voor.
  • Bloedvergiftiging (septisemie) is die mees algemene vorm wat in fetusse en pasgebore herkouers voorkom en word soms ook in enkelmaagdiere gevind. Verskeie organe word aangetas.

 

Epidemiologie

L. monocytogenes  kom wydverspreid in die natuur voor en is ook al geïsoleer uit ‘n wye verskeidenheid van gesonde en siek soogdiere en voëls asook uit grond, water, riool, modder en kuilvoer. Die kiem kan ook gevind word op rou groente en vrugte. ‘n Groot proporsie van gesonde skape en bokke is subkliniese draers en skei die kieme in hulle mis en melk uit as hulle gestres word.

Die kiem kan ook oorleef in melk waar lae temperatuur pasteurisasie toegepas word asook bevriesing.

Listeriose word dikwels gesien waar swak kwaliteit kuilvoer  met ‘n pH hoër as 5,5 gevoer word. Die kiem kom veral aan die bo-  en sykante van die kuilvoersloot voor. Stres soos bv.ongunstige omgewingstoestande mag ook ‘n rol speel in die voorkoms van die siekte.

Die breinvorm van die siekte kom gewoonlik 30 dae nadat kuilvoer begin voer word voor. Die kieme kan ook deur die wondjies wat deur tandwisseling veroorsaak word, die liggaam binnedring. Daar word vermoed dat die kieme met die gesigsenuwee (trigeminussenuwee) na die brein beweeg.

As die kieme deur die derm opgeneem word, ontstaan bloedvergiftiging en in dragtige diere lokaliseer die kieme in die baarmoeder met die gevolg dat aborsies en stilgeboortes kan plaasvind. Lammetjies kan ook pas na geboorte vrek.

Diagnose

‘n Voorlopige diagnose kan gemaak word op kliniese tekens wat gesien word, maar bevestiging word gedoen deur die kiem, L. monocytogenes uit geaffekteerde weefsel te isoleer.

Die  siektevorm van listeriose wat die senuweestelsel aantas,  kan verwar word met breinabsesse wat deur oorbosluise veroorsaak word, Coenurus cerebralis (lintwurmsist) besmetting, loodvergiftiging, hartwater en vitamien B1-tekort. Dan moet hondsdolheid altyd in gedagte gehou word. In voerkrale kan die siekte met infeksie met Histophilus somni  verwar word.

Die aborsie- en bloedvergiftigingsindrome moet onderskei word van ander oorsake van aborsies en mortaliteite in pasgebore diere.

Beheer

L. monocytogenes is vatbaar vir ‘n groot aantal antimikrobiese middels. Bespreek die behandeling met jou veearts.

Die prognose is egter swak as daar al reeds senuweeaantasting is.

Bron: Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious diseases of livestock. Oxford University Press southern Africa. ISBN 0 19 578202 X

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant en prof. Gareth Bath, Kleinveekonsultant.

30 Augustus 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X