Vra vir Faffa

Liggaamstemperatuurwisselling in diere

Vraag

Wat veroorsaak temperatuurstygings en dalings in boklammers? Boklam het temperatuur meestal 40,5°C plus. Wanneer die bokkie gespuit word, daal die temperatuur tot 38,7°C . Dan uit die bloute styg die temperatuur na 41°C en daal weer na 39,8°C toe. Party lammers het ‘n loperige maag. Wat kan die oorsaak wees?

Antwoord

Daar het alreeds ‘n artikel verskyn oor die normale temperatuur van ‘n lam:

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/normale-temperatuur-van-n-lam/

Die Merck Veterinary Manual gee die normale temperatuur van ‘n skaap aan as 38,3 tot 39,9°C

Op die internet verskyn daar ‘n volledige artikel oor die mens se liggaamstemperatuur en wat dit beïnvloed en ons kan baie uit hierdie inligting leer en toepas op diere.

https://en.wikipedia.org/wiki/Human_body_temperature

Plek van meting: ‘n Paar basiese feite wat genoem word, is dat die temperatuur verskil afhangende van waar die temperatuur geneem word. Die temperatuur wat binne in die liggaam geneem word bv. rektaal of vaginaal, is effens hoër in vergelyking met orale meting en lg. weer hoër as ‘n  velmeting. Metings onder die arm of in die oor verskil ook van mekaar. Temperature verskil ook tussen gesonde individue.

Gedurende die dag: In ‘n mens varieer temperature gedurende die dag met ongeveer 0,5°C. Laer temperature in die oggend met hoër temperature in die laat middag en aand soos die liggaam se behoeftes en aktiwiteite verander. Die liggaam se temperatuur verander ook as ‘n persoon honger, slaperig, siek of koud kry.

Gedurende verskillende dae:   Temperatuurverskille kom ook voor tussen verskillende dae.

Hormonale invloed: Vrouens se temperature wissel gedurende die menstruele siklus. Die temperatuur styg skerp nadat ovulasie plaasvind as gevolg van estrogeenproduksie, wat afneem en progesteroonproduksie wat toeneem.

Seisoenale invloed: Temperatuur kan ook wissel tydens seisoenveranderinge. Mense wat in verskillende klimaatstreke woon se temperature mag ook verskil.

Fisiese fiksheid: Toename in fiksheid veroorsaak ‘n toename in temperatuurverskille gedurende die dag.

Ouderdom: Met toename in ouderdom verminder die gemiddelde liggaamstemperatuur en die verskille in temperatuur gedurende die dag. Ouer pasiënte se vermoë om liggaamstemperatuur te genereer gedurende ‘n koors verminder. Daarom moet ag daarop geslaan word as ‘n ouer persoon ‘n effense koors ontwikkel, aangesien dit op ‘n ernstige onderliggende oorsaak mag dui.

Variasies veroorsaak deur eksterne faktore

Inname van energie: Temperatuur verhoog na inname van enigeiets wat kalorieë bevat.

Oefening: Toename in oefening verhoog temperatuur.

Psigologiese faktore: Persone, wat baie opgewonde is, se temperatuur verhoog.

Kleredrag: Deur meer klere te dra, verlangsaam temperatuurwisselings en verhoog liggaamstemperatuur. Deur met ‘n elektriese kombers te slaap, word die liggaamstemperatuur verhoog.

Slaapversteuring beïnvloed die liggaamstemperatuur. Vir meer besonderhede besoek bg. webadres.

Koors

Die temperatuur basisvlak is die vlak waar die liggaam probeer om sy temperatuur te hou. Die hipotalamus speel ‘n groot rol om die basisvlak te handhaaf. Wanneer hierdie vlak verhoog word, is die gevolg koors. Meeste koorsreaksies word deur infeksiesiektes veroorsaak en as dit wenslik is om die koors te verlaag, kan koorswerende middels gebruik word.

Hipertermie

Hipertermie, oorverhitting, hitteslag geskied wanneer die liggaam meer hitte absorbeer as wat daarvan ontslae geraak kan word. Die kondisie ontstaan na lang blootstelling aan hoë temperature. Die hitteregulerende meganismes van die liggaam word uiteindelik oorweldig en is nie in staat om  die hitte effektief te hanteer nie wat tot gevolg het dat die liggaamstemperatuur onbeheerbaar klim.  Hipertermie bokant 40°C bedreig die lewe en is ‘n noodsituasie wat onmiddellike behandeling benodig. Simptome is kopseer, verwarring en uitputting. As deur sweet dehidrasie plaasgevind het, is die vel droog en rooi.

Koel die liggaam af deur skaduwee, water te drink, verwydering van klere, deur ‘n waaier, in koue water te bad en die liggaam te hidreer.

Met ‘n koors word die liggaam se basistemperatuur verhoog deur die aksie van die gedeelte van die brein wat die liggaamstemperatuur beheer. Met hipertermie word die liggaamstemperatuur verhoog deur eksterne faktore sonder toestemming van die hittebeheersentrums.

Hipotermie: Die liggaamstemperatuur val onder die vlak wat nodig is vir normale metabolisme en liggaamsfunksies. Hierdie toestand kom voor weens blootstelling aan koue lug of water.

Die hoër temperature in die bokkies wat gemeet word, is heelwaarskynlik a.g.v. ‘n infeksiesiekte bv. E.coli, pasteurellose of ‘n klostridiale infeksie.

Kalibrering van termometers: Dit is belangrik dat termometerlesings van nuut aangekoopte termometers vergelyk moet word met ‘n geykte termometer. Dit is veral van belang waar proewe gedoen word.

Vergelyk lesings met ‘n paar klinies gesonde diere om vas te stel of ‘n dier wel ‘n hoë koors het.

Vir inligting oor hierdie siektes gaan na hulp.landbou.com, klik op Indeks van antwoorde, klik op Skape en Bokke, klik op die verskillende siektes.

Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Human_body_temperature soos op 7 Januarie 2016

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

11 Januarie 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X