Vra vir Faffa

Lewerslak – wanneer word die groot skade veroorsaak?

Vraag

Watter stadium van lewerslakwurms rig die grootste skade aan?

Antwoord

Vraag:
Watter stadium van lewerslakwurms rig die grootste skade aan?

Antwoord:
Voordat die vraag oor watter stadium van lewerslakwurms die grootste skade aanrig, beantwoord kan word, moet ‘n mens die lewensiklus van die parasiet eers verstaan. In herkouers vind ons 2 soorte lewerslakwurms nl. die gewone lewerslak (Fasciola hepatica) en die reuse lewerslakwurm (F.gigantica).

Die volwasse lewerslakwurms wat tweeslagtig is, leef in die galbuise van die finale gasheer waar hulle eiers lê. Saam met die gal vloei die eiers deur die galbuis tot in die derm en word in die mis van die gasheer uitgeskei. In eiers wat in varswater val, ontwikkel daar ‘n vrylewende larf (mirasidium) wat na ongeveer 9-21 dae uitbroei as die temperatuur warm is.

Die mirasidium dring dan ‘n hardedop waterslak binne waar verdere ontwikkeling plaasvind. Na ongeveer 4 tot 5 weke word ‘n verdere larfstadium, die serkarieë, uit die waterslakke vrygestel.

Hierdie baie klein paddavisagtige larfies, wat kleiner as ‘n speld se kop is, swem rond en soek ‘n voorwerp (bv. grassteel, blaar), waarop hulle dan ensisteer. Hulle kan selfs op die oppervlakte van die water ensisteer. Die larfies word dan metaserkarieë genoem. ‘n Beskermende kapsel word om hulle gevorm en hierdie kapsel is redelik weerbestand solank daar klammigheid teenwoordig is. Sommige mag selfs vir ‘n jaar besmetlik bly as hulle in waterige toestande soos vleie en fonteine op plantegroei voorkom.

Hierdie stadium besmet die gasheer as hulle saam met plante deur die gasheer ingeneem word. Alle soogdiere is vatbaar en selfs die mens kan die besmetting opdoen. ‘n Groot waarskuwing vir al ons vissermanne!

As die metaserkarieë ingeneem word, word die larfie vrygestel in die dunderm. Hulle dring deur die dermwand, beweeg deur die buikholte en dring deur die oppervlakte van die lewer. Hierdie larfies baan dan hulle weg deur die lewerweefsel en bereik die galbuise 56 tot 77 dae ná infestasie. By reuselewerslakbesmetting kan die klein larfies die lewer ook deur die bloedstelsel bereik. Ek het selfs slakwurms wat hulle pad byster geraak het in die longweefsel van diere gevind!

Onvolwasse slakwurms veroorsaak skade deurdat hulle hul weg deur die lewerweefsel boor en selle gevolglik tot niet gaan. Bloeding vind plaas en witbloedselle is in groot hoeveelhede teenwoordig.

In ‘n massale besmetting kan so ‘n dier van interne bloeding vrek. Somtyds vind erge bloeding onder die lewerkapsel plaas wat ook tot vrektes lei. Indien die dier oorleef, word bindweefsel oral in die lewer vasgelê en verdikking van die galbuise vind plaas. Ontsteking van klein bloedvaatjies in die lewer met totale sluiting van vaatjies kan plaasvind. As gevolg hiervan moet die lewerslagaar die werk oorneem.

Volwasse slakke leef van bloed en veroorsaak klein seertjies in die galbuise. Die selletjies van die galbuise sterf af. Inflammasie kan ook ontstaan. Plasma-proteïne ontsnap in die galbuise weens beskadigde selle en slakwurms neem ook proteïne in.

Bloedarmoede word veroorsaak deur die beskadiging wat jong slakkies veroorsaak, maar word veral veroorsaak deur volwasse slakke wat van bloed lewe. ‘n Ystertekort ontwikkel ook agv die bloedverlies.

Kliniese tekens:
Bleek slymvliese kan gesien word weens bloedarmoede, kwakkeel ontwikkel a.g.v. ‘n groot afname in bloedproteïne en spysverteringsprobleme, gewigsverlies en lusteloosheid, met ‘n afname in melkproduksie, vind plaas. Besmetting veroorsaak ook vertraging in geslagrypheid.

Beeste kan ‘n immuniteit teen herbesmetting ophou, maar dit gebeur selde in skape.

Diagnose:
 

  • Geskiedenis van beweiding in vleie, fonteine, besmette besproeide weidings en waterbakke.
     
  • Miseiertellings: Die tipiese groot geel eiers kan onder die mikroskoop gesien word.
     
  • ‘n Bloedtoets (Elisa) kan gedoen word om teenliggame teen lewerslakke in diere vas te stel (Toetse word op Intervet se proefplaas te Malelane gedoen).

    Voorkoming:
     

  • Skeiding tussen varswaterslakke en gashere.
     
  • Behandel diere met slakmiddel (Fluxacur – Intervet, Reg. No. G3202 Wet 36/1947) wat onvolwasse en volwasse slakke beheer. Sodoende verhoed ons dat hulle eiers lê wat in die gashere se mis afgeskei word en die waterslakke besmet.
     
  • Behandel diere 2 weke nadat hulle uit ‘n besmette gebied gehaal word met dieselfde middel as hierbo genoem, om produksieverliese te verhoed.
     
  • Kamp waterbronne af.
     
  • Gebruik boorgatwater vir diere.
     
  • Maak krippe gereeld skoon om besmetting van waterslakke te voorkom.
     
  • Kopersulfaat (10-15 dele per miljoen of 10 – 15 mg per liter water maak slakke dood). Waak teen kopervergiftiging, veral in skape.
     
  • Eende en visse kan ook gebruik word om varswaterslakke te beheer.
     
  • Jong diere wat baie vatbaar is, moet liefs nie in die vleie wei nie, veral in die herfs en vroeë winter. As waters begin saamtrek, is waterslakke ook meer gekonsentreer en vind erge besmetting van diere plaas.

    Behandeling:
    Die beste aktief om te gebruik wat beide onvolwasse en volwasse stadiums beheer is triklabendasool (bv. Fluxacur, Intervet, Reg. No. G3202 Wet 36/1947).

    Aktiewes wat volwasse lewerslakke beheer is:
     

  • Die salisielaniliedes:
    Superfluke injectable (Reg. No. G3104 Wet 36/1947)
    Tridose oral (Reg. No. G3103 Wet 36/1947)
    Nasalcur (Reg. No. G1831 Wet 36/1947)
    Nem-A-Rid (Reg. No. G3548 Wet 36/1947)
    Nem-A-Fluke (Reg. No. G3563 Wet 36/1947)

  • Die   nitrofenole                                                                                           Middels wat nitroksiniel bevat                                                                                                                                                                                       

  • Die sulfonamiedes:
    Middels wat clorsulon bevat.

  • Die enigste middel teen volwasse lewerslakke wat vir diere, wie se melk vir menslike verbruik gebruik word, ingegee kan word, is oksiklosanied bv. Nem-A-Fluke (wat ook rondewurms beheer). Koeie moet dan weggeneem word van die bron van besmetting en dan weer na 56 dae gedoseer word.

    27 Maart 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X