Vra vir Faffa

Lewerslak en besmette drinkbakke

Vraag

Kyk eers of vee se suipkrippe met lewerslakke besmet is voordat verdere behandeling oorweeg word.

Antwoord

Vraag:
Ek as beesboer in die Limpopo het ‘n groot probleem daar ‘n deel van my plaas tot binne in die Nyl strek en uiteraard is veral die reuse -lewerslak ‘n probleem. Verder is ek verheug om te sien dat u kategories stel dat nie alle dieregesondheidsmaatskappye die gereelde dosering van diere aanbeveel nie. Die ondersoek van mismonsters is seer sekerlik ‘n oplossing. Dan kan selektiewe strategiese dosering toegepas word. Maar dit kan slegs geskied indien die neem van mismonster korrek is en dit deur ‘n betroubare instansie ondersoek word. Het u vir my raad asb.? – dr. A.F. Saaijman.

Antwoord:
In die verlede was uitbrake van reuse lewerslakwurm besmetting waarmee ek in enige deel van Noord-Transvaal te make gehad het, sonder uitsondering die gevolg van besmetting van drinkbakke, en nie natuurlike waterbronne nie.

Indien beeste ook uit krippe/drinkbakke suip, sal dit die moeite loon om eers daarin te kyk voordat verdere stappe oorweeg word. Indien die besmetting in die drinkbakke is, is dit maklik om te beheer. Die hardedopslakkies wat die tussengashere van die parasiet is, is op tot ietwat meer as ‘n sentimeter lank en sit gewoonlik teen die kante, of vreet aan blare in die drinkbakke.

Een probleem is dat nie alle slaksoorte dié parasiet oordra nie, maar as daar wel slakke is, is dit die moeite werd om daarmee te begin. Doppies kan vir identifikasie ingestuur word, maar aan die ander kant kan mens ook veiligheidshalwe besluit om hulle in elk geval uit te roei as daar enige soort slak is, want desnoods kan dit wel die "regte" soort wees wat die parasiet kan huisves.

Een behandeling van die water teen die slakke is koper sulfaat, maar dit is belangrik dat die dam waaruit die krip of bak gevoed word, ook behandel word en die dosis reg beraam word, anders kan vergiftiging van die diere wat die suiping gebruik, volg.

 

  • Geskryf deur dr. Jan van Wyk, van die departement Veterinêre Tropiese Siektes, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit Pretoria.

    5 Oktober 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X