Vra vir Faffa

Lantanavergiftiging

Vraag

Kan jy my asb. meer inligting gee oor die inname van die Lantana indringerplant deur beeste? Hoe lank na die inname van Lantana kan die beeste nog siek word? Hoe kan mens hulle help voor enige siektetekens voorkom? Watter tyd van die jaar is dit veilig om die beeste in die kamp te sit waar Lantana groei? Is dit veilig vir hulle om Lantana te eet na dit dood geryp het? Ons het ‘n groot krisis omdat van ons beeste vrek na die inname van Lantana. Ons is in die Noordwes distrik. Help asb.

Antwoord

Lantanavergiftiging is ‘n enorme probleem in Suid-Afrika en word net by die dag groter. Dit is bekend dat tot 20 beeste al op ‘n dag gevrek het!

Die plant is ‘n uitheemse ornamentele plant, wat as verklaarde onkruid geklassifiseer is en veral in die nat oostelike gedeeltes van Suid-Afrika voorkom, maar word ook al in droër dele gevind. Die plant het klein swart vruggies waarvoor die voëls baie lief is en die saadjies word wyd deur voëls versprei.
Onlangs het ‘n inheemse spesie Lantana rugosa ook vergiftiging veroorsaak.
Lantanavergiftiging kom hoofsaaklik in beeste voor, maar is ook al in bokke gevind. Waarom beeste Lantana vreet, is onbekend. As ‘n duimreël word gesê dat plantvergiftigings gewoonlik voorkom wanneer plante bot en in hulle vroeë groeistadium is, asook tydens droogtes en oorbeweiding, maar vrektes het al in die middel van die somer op goeie weiding voorgekom. Dit is ongewoon dat beeste doodgerypte plante sal vreet, tensy daar niks anders is om te vreet nie.
Die gifstof wat in die plant voorkom, is lantadeen en is ‘n erge lewer- en niergifstof.
Kliniese tekens is gebrek aan eetlus, erge depressie, stase van die rumen, diarree, geelsug en liggevoeligheid. Verbranding van die wit kolle of liggekleurde kolle op die vel kom voor en die liggekleurde neusspieël word aangetas. By nadoodse ondersoek is die lewer geelbruin, geswel en die galblaas is baie vergroot. ‘n Verkeerde diagnose van anaplasmose word dkwels gemaak.
Behandeling help nie veel nie. As ‘n troos kan die volgende probeer word: gee 2,5 kg geaktiveerde koolstof in 20 liter elektrolietoplossing met ‘n maagbuis vir die dier in. ‘n Tweede dosis van die elektrolietoplossing word ‘n dag daarna weer ingegee en kan na 4 tot 5 dae weer herhaal word.
Bron:
Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. en Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosis in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4.
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
27 Mei 2010

Kommentaar

Een kommentaar op “Lantanavergiftiging

  1. Steve Barns
    Steve Barns

    Die selfde bossie gee mense helse hoofpyn as jy aan dit vat of skud… n tuinjong is gevra hoekom hy die bos nie wou kort sny nie en hy het ons gese… so ruk terug het ek een uitgekap en vir n week lank het ek gedink dat my kop gaan bars… BLY VER WEG!!!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X