Vra vir Faffa

Lamvrektes ná brandsiek-behandeling

Vraag

Altesaam 39 lammers het gevrek nadat 'n boer sy kudde teen brandsiekte moes behandel. Wat kan die oorsaak wees?

Antwoord

Vraag:
Dr. Malan, ek het ‘n groot probleem. Ek moes al my diere behandel nadat brandsiekte geïdentifiseer is. Ons het volgens instruksies en met samewerking en toesig van veeartseny die hele kudde met MDB Iver 1% (Ceva) behandel. My probleem is egter dat ek 39 lammers wat wissel tussen ‘n week en 1 maand oud verloor het. Kan u my asb. help en raad gee, want met die heersende kostes in ons bedryf kan jy nie bekostig om foute te maak nie. – Gileam Viviers (nimmer@iway.na)

Antwoord:
Die aktief, ivermektien, het ten minste ‘n 10-keer-die-dosis-veiligheidsgrens in herkouers, perde, varke en honde, behalwe in kolliehonde.

U meld nie of dit skape of bokke is wat behandel is nie. Soos reeds voorheen in antwoord 1764635 bespreek is, moet bokke nie met ivermektien ingespuit word nie, maar die orale dosering ontvang. Vrektes wat soos sponssiekte lyk, is ná toediening van ivermektien d.m.v. inspuiting in bokke gekry.

Ek kan maar net raai dat moontlike oorsake die volgende kan wees:
 

  • Die dosis vir ivermektien inspuiting is 1 milliliter per 50 kilogram.
     
  • As ‘n klein lammetjie 5kg weeg, moet die lam eintlik 0,1 ml ontvang. Is die middel met so ‘n klein akkurate spuit toegedien? Swak lammers is ook meer vatbaar vir die gevolge van oordosering.
     
  • Indien nie steriel gewerk word nie (gekookte naalde moet gereeld geruil word) kan kieme ingespuit word en lammers sal aan sponssiekte of ander infeksies vrek.
     
  • Enige skaap kan ná inspuiting aan bloednier vrek as hulle nie immuun teen die gifstof van die bloednierkiem is nie.

    Indien sulke vrektes voorkom, moet die registrasiehouer van die middel verwittig word van die vrektes en hulle sal die voorval ondersoek of laat ondersoek. U plaaslike veearts kan ook verwittig word en nadoodse ondersoeke moet gedoen word en die nodige monsters geneem word om by ‘n korrekte diagnose uit te kom. Die middel kan ook laat toets word om vas te stel of daar nie ‘n bakteriële besmetting teenwoordig is nie. ‘n Paar jong lammers kan ook die korrekte dosis en selfs twee keer die normale dosis met die middel toegedien word en dan dopgehou word om te sien of hulle soortgelyke tekens ontwikkel.

    • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Intervet.

    1 September 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X