Vra vir Faffa

Lammers vrek na dosering

Vraag

'n Leser wil weet waarom sommige lammers na dosering gevrek het en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Die lammers is op die ouderdom van twee weke vir bloednier gespuit en is nou op vyf weke gedoseer. Groep twee en vier dosering is gebruik. Hul gewig was 11 en 12 kilogram en slegs 1 ml dosering is gebruik. Die derde lam is nou siek en loop en skud sy kop of lê net. Met oopsny is volgens die boer niks verkeerd gevind nie, slegs kos in die maag. Kan u my dalk help in die verband? Vroeër is groep drie en vier doserings gebruik en geen probleme ondervind nie. – Leon (ventersburg@ovk.co.za)

Antwoord:
Groep drie en vier doserings wat die vraesteller van praat is die imidatiasool plus salisielaniliede groep en groep twee plus vier is die bensimidasool plus salisielaniliede groep. Vir die werking en klassifikasie van wurmmiddels verwys ek u na antwoord 2436830.

Dit is van groot belang dat die regte doseringstegnieke gebruik word. Sien antwoord 2309022 Dosering van kleinvee.

Opmerkings in hierdie geval:

 

  • Volgens die inligting verskaf is die dosis wurmmiddel wat toegedien is, korrek. Onthou om ‘n paar skape te weeg voor dosering om sodoende die swaarste en ligste gewig in ‘n groep van skape vas te stel. Korrekte dosisse kan sodoende bepaal word.
  • Wat nie gemeld is nie, is of die doseerspuit voor dosering gekalibreer is. Stel altyd vas of die korrekte dosis deur die spuit gelewer word.
  • Is daar vasgestel of die doseerspuit se punt rond is? Ek het verskeie kere gevind waar die doseerspuit se punt effens skerp is, die punt deur die mond slymvlies gedring het en van die middel in die mondweefsel ingespuit is. ‘n Dag na dosering het van die skape begin vrek of het hulle baie siek geword. As ‘n nadoodse ondersoek gedoen word, moet baie deeglik na mondbeserings gesoek word.
  • Van die middel kan in die longe gedoseer word. Sny die lugpyp en vertakkings oop en soek vir longontsteking en reste van die middel.
  • Indien lammers op twee weke met bloednier gespuit is en die ooie was teen bloednier ingeënt, mag die teenliggame in die ooi se biesmelk ingemeng het met die lam se immuunstelsel en kon dit veroorsaak het dat die inenting van die lammers met bloednierentstof nie suksesvol was nie.
  • Ek sou voorstel dat u veearts ‘n deeglike nadoodse ondersoek doen om vas te stel wat die oorsaak van die kliniese tekens is wat u gesien het.

    Lees ook:
    2338067 Maak die korrekte diagnose

     

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant.

    1 April 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X