Vra vir Faffa

Lammers is lam met en na geboorte

Vraag

Ek boer op `n plaas in die Sutherland-distrik. Ooie is besig om te lam en hier het al `n paar lammers aangekom wat heeltemal lam is as hulle gebore word. Hul koppe val van links na regs. Dan is daar ook dié wat op 10, 12 dae lam word en gladnie weer kan opstaan nie. Die ooie kry droë lusern en mielies en Molatek-lek. Gee gladnie hoendermis nie, glo nie daaraan nie. Wat kan die moontlike oorsaak wees?

Antwoord

Lammers wat gebore word met ‘n abnormaliteit laat mens dadelik dink aan die siektes wat bekend is vir aborsies.

Ensoöotiese aborsie kan swak lammers tot gevolg hê en ook senuweesimptome.  Die siekte kan sluimerend in die trop wees en selde merkbare aborsies veroorsaak, maar dan breek dit skielik uit en veroorsaak tientalle aborsies en swak lammers wat maar net nie wil groei nie.  Die siekte kan bevestig word deur ‘n veearts met monsters van die lam en plasenta wat na ‘n laboratorium gestuur word.  Alle skape behoort teen ensoötiese aborsie ingeënt te word 30 dae voor hulle die eerste maal by die ram kom.  Dit kan na 2 jaar herhaal word indien moontlik.

In goeie reënjare kry ons lammers met breinabnormaliteite wat veroorsaak word deur ‘n groep virusse wat deur muskiete oorgedra word. Een hiervan is die Akabanavirus wat brein en ledemate aantas.  Daar is geen entstof beskikbaar nie. Die bloutong entstofvirusse kan ook ‘n rol speel indien dragtige ooie blootgestel word veral in die eerste maand van dragtigheid wanneer die brein van die lammetjie gevorm word.

Flavivirus kom veral voor in  Angorabokkies –hulle word normaal gebore, maar beentjies split oop. Hulle drink nog normaal.

Daar is ook ‘n paar siektes wat in die eerste tien dae in lammers voorkom wat swakheid en vrektes veroorsaak.  Kolibacillose en bloedpens kom voor waar lammers in hokkies of krale gebore word.

Dit is ook moontlik dat voeding oormate en tekorte ‘n rol kan speel en selfs enkele gifplante en swamme.

Dit is dus belangrik om bevestiging te kry by u naaste veearts. Stellenbosch provinsiale laboratorium is die naaste aan Sutherland om te help met ontledings.  Die soort siektes gee soms net ‘n paar gevalle en dan word dit ‘n baie groot probleem die volgende jaar.

Geskryf deur: Dr. Johan A van Rooyen M.Med.Vet.,M.B.A., M. in Sust. Agric. PDTE

Veterinêre Spesialis Praktisyn (Kleinvee) Steynsburg Animal Hospital Steynsburg Dierehospitaal PO

E-pos: flocprotec@telkomsa.net

____________________

Dit sou nuttig wees om die ras van die skape wat aangetas is te weet. ‘n Volledige nadoodse ondersoek op die lammertjies moet gedoen word om vas te stel of daar êrens ‘n letsel in die senuweestelsel is. Ek weet van lammers wat gebore word met dele van hul brein wat afwesig is en wat eers kliniese tekens ontwikkel wanneer hulle vrek van uittering of ‘n ander toestand.

Daar is genetiese afwykings wat beskryf is bv. ‘n familiale episodiese ataksie (koördinasiesteuring -publikasies deur Anne Ridler) waar lammers gebore is wat erg aangetas is terwyl ander net trillings getoon het. ‘n Ander kondisie is segmentale aksonpatie wat blykblaar Merino tipe lammers aantas as hulle ouer (paar maande)word. Die toestand begin met ‘n swaai rug wat progressief erger word.

Genetiese afwykings is ook in Dorpers beskryf maar nie met senuwee tekens nie.

Akabane en bloutongvirusse affekteer neurologiese ontwikkeling maar sou ‘n mens ook ander kongenitale afwykings soos artrogripose verwag.

Lyk vir my of daar problem is met energie voorsiening aan die lammetjies. Is daar enige gifplante in die area? Is die ooie gedip en gedoseer voor lamtyd? As ‘n wurmmiddel wat albendasool bevat in die eerste maand van dragtigheid oordoseer word, kan abnormale lammers aankom.

‘n Bietjie meer inligting oor die kudde sal baie help.

Geskryf deur: dr.  Rhoda Leask,  BScAgric, BVSc, MMedVet(CaprOv), Dip. ECSRHM, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (rhoda.leask@up.ac.za)

25 April 2015


Kommentaar

Kommentaar (2) “Lammers is lam met en na geboorte

  1. David Krynauw
    David Krynauw

    Ek het laasjaar 60 uit 80 aborsies onder my inheemse bokooie gehad (op +- 90 dae). Daardie stadium is die weiding met lusern aangevul met beperkte lekke. Met die uitstekende verslae van Dr Last van Vetdiagnostics in Pietermaritzburg is ‘n jodium tekort gediagnoseer! Dadelik het ek toe by my apteek Lugols druppels gaan koop en vir 4 dae 3cc in die waterbakke gevoeg (enigste drinkwater vir 200 bokke). Twaalf dae later het die aborsies gestop en is 20 gesonde bokkies gebore (almal lewe nog). Sederdien gee ek daagliks vars P6 lek (20g per bok) en my diere was nog nooit in beter kondisie nie.

  2. madeleine
    madeleine

    Kommentaar hi David die vars P6 lek waarvan jy praat is dit molatek se rumitive 6p ?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X