Vra vir Faffa

Lammers is geel by geboorte

Vraag

Wat veroorsaak dat sommige lammers geel is met geboorte?

Antwoord

Lammers wat met ‘n normale geboorteproses gebore word se geboortekleed is kleurloos en deurskynend.  Geellammers is meestal ‘n teken van geboortestres wat deur verskeie faktore veroorsaak kan word.  Hoe langer die lam voor geboorte in die geboortekanaal vertoef, hoe groter is die kans dat die lam met ‘n geel geboortekleed gebore gaan word. Ongebore lammers (fetusse) kry hulle suurstof via die bloed wat van hulle moeder deur die naelstring vervoer word.  Wanneer die lammers te lank in die geboortekanaal vertoef, vind onvoldoende suurstofuitruiling plaas wat ook kan gebeur indien die naelstring toegedruk word.  Wanneer dit gebeur, ervaar die lammers ‘n suurstofnood, sulke lammers word benoud en as gevolg daarvan skei hulle hul ontlasting (mekonium) in die baarmoeder uit wat dan letterlik oor die lammers “spoel” en die lam dan geel verkleur.  Die ontlasting se kleur en dus ook die geboortekleed van die lammers kan varieer van geel tot bruinerig of groenerig van kleur. Hierdie verkleuring van die geboortekleed vind nie net plaas as die bekkenbeen-opening van die ooi te nou is nie of wanneer die lammers in die verkeerde posisie lê tydens geboorte nie, maar dit word meestal deur voeding geïnduseer (veroorsaak).

Geellammers loop ‘n hoë risiko om te vrek weens hulle onvermoë om kort na geboorte op te staan en te suip.  Waar geellammers tydens die geboorteproses ‘n suurstoftekort ervaar, toon hulle dieselfde tekens as wanneer ‘n mense ‘n beroerte gehad het.  Hulle kan dikwels nie suig of sluk nie, sukkel om kort na geboorte op te staan en te loop en onder ekstensiewe toestande is hulle die eerste lammers wat vrek weens verhongering, blootstelling en verwaarlosing (word meestal agtergelaat as die ooi gaan water drink of voer vreet).  Net soos mense kan hulle weer herstel, mits hulle aanvanklik eers met ‘n maagbuis ‘n 20 % glukose-oplossing en biesmelk binne die eerste drie ure na geboorte en daarna elke drie tot vier ure gevoer word totdat hulle herstel het.

Navorsing wat deur myself (Coetzee et al., 1990) en my nagraadse studente gedoen is, het getoon dat ‘n deurvloeiproteïentekort en/of kalsiumtekort aanleiding gee tot ’n hoë voorkoms van geellammers. Beide ‘n deurvloeiproteïen- en ‘n kalsiumtekort gee aanleiding tot die stadiger en swakker sametrekking van die baarmmoeder wat tot gevolg het dat die lammers te lank in die geboortekanaal vertoef. Deurvloeiproteïen of  te wel deurvloei-aminosure is belangrike bestanddele van hormone en speel ook ‘n belangrike rol by die opname van kalsium en is beide noodsaaklik vir ‘n normale geboorteproses. Die nuutste navorsing toon dat 20 % meer deurvloeiproteïen gedurende laatdragtigheid as die huidige riglyne gevoer moet word (Vipond et al., 2009).  Die nuutste aanbeveling is om ooie daagliks minstens 100 g van ‘n hoë gehalte deurvloeiproteïenbron per fetus in laatdragtigheid en minstens 200 g per lam in vroeë laktasie te voer (Macrae, 2013).

In die geval van ‘n kalsiumtekort kan dit aanleiding gee tot kliniese (akute) of subkliniese melkkoors kort voor, tydens en kort na lam.  Twee oorsaaklike faktore is nodig voordat melkkoors kan ontwikkel, naamlik (i) ‘n hoë behoefte (aanvraag) vir kalsium en (ii) lae kalsiuminname oor ‘n periode van weke of selfs maande.  Die belangrikste bydraende faktore wat tot melkkoors by lammerooie aanleiding kan gee, is ‘n deurvloeiproteïentekort gedurende laatdragtigheid; enige skielike voedingsverandering veral korter as drie weke voordat die ooie lam; die voer van slegs grane veral as daar ‘n tekort aan ruvoer is; diarree veral waar sappige weidings met ’n hoë voginhoud bewei word; beweiding van plante ryk aan oksalate; kort periodes sonder voer of water; enige oormatige spanning (bv. weens langafstand vervoer of aanjaag; skeer en dip korter as vier weke voor lam); te hoë kaliuminname (bv. aangeplante weiding en lusernhooi); te hoë kalsiuminname; ‘n magnesiumtekort; te hoë inname van natrium (sout) en sekere buffers; ensovoorts.

Melkkoors gee aanleiding tot ‘n toestand bekend as baarmoedertraagheid (uterus-inersie).  Hierdie toestand is ook bekend as geboorteverlamming en gee aanleiding tot geboorteprobleme en soms staking van die geboorteproses wat dan tot geellammers aanleiding gee.  Geboorteverlamming en baarmoedertraagheid as gevolg van melkkoors gee onder andere aanleiding tot geboorteprobleme (distokie) weens spierswakheid wat normale geboorte verhoed en onvolledige ontsluiting van die serviks (baarmoedermond) (Curtis et al., 1983).  Dit blyk dat organe wat normaalweg betekenisvolle gladde spierfunksie het (bv. uterus, rumen en abomasum) deur ‘n kalsiumtekort (hipokalsemie) aangetas word en in eersgenoemde geval kan dit tot geboorteprobleme aanleiding gee.

Die voer van anioonsoute aan laatdragtige ooie veroorsaak ‘n verbeterde kalsiumresorpsie uit die skelet asook kalsiumabsorpsie uit die spysverteringskanaal wat tot hoë bloedkalsiumvlakke aanleiding gee.  Hierdie is ‘n relatief nuwe konsep in lammerooivoeding vir die beperking en selfs voorkoming van kliniese en subkliniese melkkoors.  Dit het ‘n matige metaboliese asidose tot gevolg wat kalsiumonttrekking uit die beenstruktuur verhoog en kalsiumabsorpsie vanuit die spysverteringskanaal verbeter (Goff et al., 1991; Horst et al., 1997).  Die ekstra kalsium wat as gevolg van hierdie twee prosesse vir die ooi beskikbaar kom, sal grootliks voorkom dat lammerooie melkkoors met lam ontwikkel en dus geboorte skenk aan geellammers.  Hierdie anioonsoute kan via ‘n deurvloeiproteïengebaseerde “Opstoomlek of ‘n volledige Opstoomlammerooirantsoen” gevoer word (resepte is op aanvraag beskikbaar).  “Opstoomlekke en –rantsoene” vergemaklik en versnel die geboorteproses, bevorder uier-ontwikkeling en biesproduksie en is ‘n belegging vir die volgende laktasie omdat dit melkkoors verminder, melkproduksie verhoog en reproduksieprestasie verbeter (Byers, 1994).  Deur die nuutste en mees gevorderde skaapvoedingstegnologie plaaslik te gebruik om “Opstoomlekke en –rantsoene” te formuleer wat op benutbare essensiële aminosure gebaseer is, rapporteer skaapprodusente dat die voorkoms van subkliniese melkkoors, domsiekte, geboorte verwante steurnisse (bv. geboorteprobleme en geellammers) en gesondheidsprobleme feitlik verdwyn het.  Waar hierdie “Opstoomlekke en -rantsoene” vanaf ses weke voor lam aan laatdragtige ooie gevoer is, het dit uitstekende uierontwikkeling met gevolglike baie hoë bies- en melkproduksie tot gevolg asook verhoogde lamgroeitempo, minder lamvrektes, minder blou-uiergevalle, beter kondisie van die ooie na lam en ‘n hoër daaropvolgende lampersentasie.

Die voorkoms van subkliniese melkkoors in lammerooie is baie meer algemeen as wat besef word.  Dit is verder ook nie algemeen bekend nie dat domsiekte, wat ons dikwels in die praktyk waarneem, dikwels deur subkliniese melkkoors geïnduseer (veroorsaak) word.  Baie domsiekgevalle kan dus verhoed word indien subkliniese melkkoors in lammerooie voorkom word. Indien ‘n hoë voorkoms van melkkoors of verwante steurnisse (bv. geellammers) voorkom, moet die voedings- en bestuurspraktyke gedurende laatdragtigheid en vroeë laktasie hersien word en die nodige aanpassings gemaak word.  Deur laatdragtige ooie in groepe met dieselfde voedingsbehoeftes op grond van die aantal fetusse en verwagte lamdatum te verdeel (Hosie et al., 1991) en hulle dan te voer volgens hulle spesifieke behoeftes (differensiële of presisievoeding) deur die voorsiening van die korrekte “Opstoomlek of -Lammerooirantsoen” kan metaboliese siektes soos melkkoors en domsiekte en dus ook geellammers feitlik heeltemal voorkom word.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Kleinveespesialis (jasperco@iafrica.com)

Selnommer:076 846 8800

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X