Vra vir Faffa

Laminitis of bevangenheid

Vraag

Wat is laminitis en wat veroorsaak dit?

Antwoord

Hierdie siekte kan in perde, beeste en skape voorkom.

Die harde hoewe van hoefdiere sit aan die lewende weefsel vas deur duisende klein visvingertjies      (soos ‘n borsel) wat pas in klein gaatjies in die harde hoef. Hierdie vingertjies word ook laminae genoem en is ook die wortels van die hoef, want hulle  vorm die horing daarvan.

Wanneer hierdie vingertjies ontsteek, swel en te groot vir die gaatjies word, noem ons dit laminitis of bevangenheid. Dit veroorsaak pyn wat soms baie erg kan wees. Swelsel van die vingertjies word gewoonlik veroorsaak deur kneusing of deur giftige stowwe wat in die liggaam gevorm word en in die bloed sirkuleer.

Veranderinge in die hoewe is nie net tot die laminae beperk nie. Laminitis kan akuut, subakuut, kronies of subklinies wees.

So ‘n besering of beskadiging van die vingertjies kan die gevolg wees van enige van die volgende oorsake:

  • Werk op harde paaie, bv. teerpaaie; veral trekdiere wat nie gewoond is om op harde oppervlaktes te werk nie.
  • Akute laminitis word gewoonlik gesien wanneer diere hulle oorvreet aan mielies, of wanneer mielies vir die eerste keer gevoer word. Subakute laminitis word dikwels gesien in jong bulle in voedingsproewe en voerkraalkalwers wat rantsoene hoog in koolhidrate gevoer word. Hoë vlakke van koolhidrate in die rumen veroorsaak ‘n vermeerdering van die bakterieë Streptococcus bovis en Lactobacillus spp. wat ‘n asidose (versuring) van die rumen veroorsaak . Hierdie versuring veroorsaak dat die gram negatiewe organismes afsterf en dan hulle vasoaktiewe endotoksiene ( gifstowwe wat bloedvaatjies aantas) vrystel. Hoë vlakke van histamiene word aan die begin van die siekte in die bloed gevind. Dit is moontlik dat subakute rumenale asidose die sleutelfaktor in die ontwikkeling van laminitis is. Om subkliniese asidose dus  te voorkom en te bestuur, sal help om die insidens van laminitis te beperk.
  • Langdurige staan in warm sand of harde oppervlaktes. Die gevolge van omstandighede waar diere vir lang periodes (meer as 3 uur) in krale met harde oppervlakte staan, word dikwels misgekyk.
  • As oefening beperk word,  verminder suurstof- en voedseltoevoer na die hoewe.
  • Ná aanvalle van koliek.
  • Vergiftiging met die stywesiekte-bossie (Crotolaria burkeana) wat veral in Griekwaland-Wes voorkom.

Siektetekens:

Perde: Gewoonlik word die perd die aand gesond in die stal gesit en die volgende oggend boomstyf aangetref. Die dier wil nie beweeg nie en as hy verplig word om te loop, is die bewegings baie pynlik en word die voorpote ver en vinnig vorentoe gestoot om altyd te verhoed dat al die gewig op een been gedra word. As hy wel loop, word die voorbene altyd ver vooruit gestoot en die agterbene onder die lyf ingedruk. By die meeste gevalle is die voorpote blykbaar erger aangetas as die agterpote. By strawwe gevalle is die diere koorsig, sweet soms en wil nie vreet nie. ‘n Mens moet nooit die behandeling van bevange diere, veral perde, uitstel nie, aangesien die siekte maklik chronies kan word en dan nooit genees nie. By die strawwe gevalle val die hoewe soms af en moet die diere doodgeskiet word.

By die chroniese gevalle groei die hoewe stadigaan te lank uit en hulle kan selfs na boontoe omkrul. Die hoef toon aan die voorkant duidelike ringe wat na agtertoe nouer na mekaar toe kom. Die sool van die hoef word plat en sag in plaas van hol en hard. Sulke perde loop op sagte grond nog redelik goed, maar as hulle op ‘n harde pad kom, is hulle aansienlik meer mank.

Beeste: Akute en subakute laminitis geskied vining. In meeste akute gevalle is daar ‘n koorsreaksie en diere begin vinniger asemhaal.  Die kloue is warm en die polstempo is vinniger. Die hoewe is pynlik en die dier wil nie beweeg nie. Die dier staan abnormaal  met die bene onder die lyk ingetrek. Die oppervlakkige are van die agterbene sal duidelik sigbaar wees.

Die oorsaak van die akute laminitis moet reggestel word deur bv. oormaat mielies te verwyder. Laat dier beweeg en hou die kloue koel. Antihistamienes en anti-inflammatoriese middels moet so gou moontlik toegedien word. Versigtigheid moet aan die dag gelê word om kortisoonmiddels te gee later as 24 uur na kliniese tekens gesien is.

Kroniese laminitis word waargeneem waar die kloue gebuig, plat, ‘n vierkantige toon en ‘n geriffelde voorkoms (“slipper foot”) het. Dit word veroorsaak deur ‘n langsame proses waar die laminae aangetas word. Dit is veral sigbaar by suiwelkoeie ouer as 5 jaar.

Subkliniese laminitis is veral belangrik in die suiwelindustrie deurdat dit in volwasse koeie aanleiding gee tot soolswere (“sole ulcer”), witlynsiekte (“white line disease”) en toonswere (“toe ulcers”). Dit is veral ‘n groot bekommernis dat die siekte in hoë produserende diere voorkom. Daar mag ook ‘n genetiese komponent teenwoordig wees deurdat sekere diere aangetas word. Hulle loop op ‘n kenmerkende versigtige manier.

Bespreek hierdie kondisies  met jou kuddeveearts om hierdie siekte tot die minimum te beperk aangesien dit aanleiding tot ekonomiese verliese gee.

Vir foto’s van laminitis klik op onderstaande skakel

https://www.google.co.za/search?q=laminitis+in+cattle&hl=en-ZA&biw=1684&bih=769&tbm=isch&tbo=u&source=univ&sa=X&ei=JzBuVNP8K7OKsQTy_oLIDQ&ved=0CCIQsAQ&dpr=0.95

Bronne:

Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg Uitgewers. Isbn 0 624 00359 0

The Merck Veterinary manual. 2010. Tenth edition. Merck and Co, Inc.

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

22 November 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X