Vra vir Faffa

Laksering

Vraag

Ons het bokke op ons plot. Ons een ram het gevrek van maagwerkings. Ons is nog baie onkundig met bokke. Ons wil weet wat ons bokke se mae laat werk en wat ons moet doen sodra ons sien die bok se maag begin werk. Is daar iets waarmee ons hulle kan spuit? ASB help! (njbresler@gmail.com)

Antwoord

 

Voordat die vraag beantwoord word, word die volgende wat in die Handboek oor Veesiektes van Mönnig en Veldman verskyn het aangehaal:
Laksering of Maagwerking
Laksering is nie ‘n siekte nie, maar gewoonlik net ‘n simptoom van ‘n siekte. Dit is ‘n simtoom van ‘n groot verskeidenheid siektes en dis baie keer onmoontlik om die juiste oorsaak vas te stel. ‘n Spesifieke behandeling is dus dikwels onmoontlik en daarom moet ‘n mens maar simptomatiese behandeling toepas wat net teen die simptoom as sodanig gemik is.
Dit is miskien van pas om hier iets te sê oor die uitdrukking “nat-galsiekte” wat so baie deur boere gebruik word. Blykbaar word enige siekte waarvan maagwerking die uitstaande simptoom is, deur baie boere as “nat-galsiekte” beskrywe. As al die moontlike oorsake van maagwerking in o?nskou geneem word, is dit miskien duidelik dat die term ‘nat-galsiekte” nie sy bestaan regverdig nie en slegs ‘n verwarrende benaming is wat werklik geen betekenis het nie. Daar word so dikwels deur boere gevra vir ‘n behandeling teen “nat-galsiekte”. Dis natuurlik onmoontlik om ‘n spesifieke behandeling voor te skrywe en weer moet ‘n mens jou toevlug neem na simptomatiese behandeling. Dit sou miskien goed wees as die benaming “nat-galsiekte” geheel en al nie gebruik word nie.
Laksering is altyd die gevolg van ‘n prikkeling van die derm. Hierdie prikkeling kan ontstaan as gevolg van die aanwesigheid van sekere chemiese stowwe sonder dat daar juis ‘n ontsteking van die derm bestaan, bv. na die toediening van Engelse of Glaubersout. Die gevalle van laksering wat ‘n mens onder diere te?kom, is egter gewoonlik die gevolg van ‘n ontsteking van die dermslymvlies, bv. by gevalle van arseenvergiftiging, paratifus (salmonellose), kolibasillose, koksidiose, ens. Die dermslymvlies word werklik beskadig en geprikkel en laksering volg.
Kliniese tekens                                                                                                                                 Die ontlasting by gevalle van laksering kan baie verskil. Dit kan dun en waterig wees, bloederig, slymerig of swart en teeragtig.
As dit sigbare spikkels, of klonte, so te sê vars bloed bevat, is dit ‘n aanduiding dat die ontsteking en gevolglike bloeding in die agterste gedeelte van die derm bestaan en dat die bloed dus onverteerd saam met die ontlasting uitgeskei word, bv. by koksidiose van kalwers en kuikens.
Wanneer dit swart (donker) en teeragtig is, is dit ‘n aanduiding dat die bloeding ver voor in die derm plaasvind en dat die bloed reeds verteer is wanneer dit uitgeskei word.
Dun, waterige ontlasting dui gewoonlik aan dat die ontsteking nie so straf is nie of dat dit miskien nie die gevolg is van ‘n ontsteking nie, bv. by gevalle waar ‘n draad of spyker deur die maagwand in die hartsak insteek en indirek swelsel (edeem) van die dunderm veroorsaak.
Laksering is ‘n baie uitputtende siekte en dit lei baie gou tot donkerrooi slymvliese, vermaering, ‘n waggelende gang en diepgesonke o?. Laksering veroorsaak ‘n strawwe verlies van water en soute (elektroliete) uit die liggaam en daarom moet daar by die behandeling van gevalle van laksering altyd water gegee word om vir die waterverlies te vergoed.
Die volgende is ‘n paar siektetoestande wat gewoonlik met strawwe laksering gepaard gaan:
1)    Vergiftiging met
·         Metaalgifstowwe bv. arseen
·         Plante bv. tulp, tjienkerientjee, slangkop, ens.
·         Graankosse wat met sekere soorte swamme besmet is
2)    Wurmbesmetting, bv. veral by lammers, maar ook onder ouer skape te wyte aan bankrotwurms, peervormige slakwurm ens.
3)    Aansteeklike siektes by
·         Kalwers e.a. beeste: koksidiose, wit laksering, paratifus, ens.
·         Hoenders: hoendertifus, koksidiose, wit laksering, paratifus, ens.
·         Varkies, bv. aansteeklike enteritis
4)    Verkeerde voedingsmetodes, veral by kalwers, bv. te veel melk, koue melk, ongereelde                       voedings, vuil emmers, ens.
5)     Orgaansiektes bv. chroniese nierontsteking, ens.
Die vraag wat hierbo gestel word, is: Wat laat bokke se mae werk?
Moontlike oorsake is:
  • Koksidiose – die volgende parasiete mag diarree veroorsaak: Eimeria arloingi, E. caprina,                  E. ninakolyakimovae
  • Inwendige parasietbesmetting bv. bankrotwurms, bruin maagwurms, knoppieswurm, sambokwurm, peervormige maagslak
  • Ionofoorvergiftiging
  • Vermeerbosvergiftiging
  • Deurdat bokke lief is om struike en plante te vreet, kom gifplantvergiftiging, wat kan wissel van streek na streek voor
  • Bakteri?le besmetting bv. salmonellose, kolibasillose ens.
  • Bloednier by bokke wat algemeen is veroorsaak ‘n diarree
  • Virussiektes wat nie so algemeen is nie bv. Border disease
  • Voedingsteurnisse bv. suurpens
  • Stres – bokke word van oral af aangekoop en word vir twee weke gevoer voordat hulle weer verkoop word.
Behandeling
Probeer altyd die oorsaak vasstel en pas dan spesifieke behandeling toe. So nie, pas simptomatiese behandeling teen die laksering as sodanig toe.
  • Gee ‘n olie-purgeermiddel, bv. kasterolie, rou lynolie, aptekersparaffien. Veral by gevalle van maagdermvergiftiging werk dit van die gifstowwe uit. Middels vir vergiftiging wat beskikbaar is, is Diarrhoea powder Kyron (G1748), PPR (G74), The Antidote (G1833)
  • Gee altyd gekookte water of gortwater in klein hoeveelhede en met kort tussenpose van 2-3 uur om vir die waterverlies te vergoed. Kalwers kan in plaas daarvan gekookte melk verdun met ‘n gelyke hoeveelheid gekookte water, kry. Moet nooit groot hoeveelhede op ‘n slag gee nie, of moet nie toelaat dat die dier homself gaan dik suip by ‘n drinkbak nie. Vir kalwers kan die melk sterker gemaak word en vir gevalle kan die tussenpose verleng word en die hoeveelheid vloeistof vermeerder word soos verbetering intree.
  • Gee vanaf ‘n paar uur ná die purgeermiddel, enige van die volgende middels, apart of gemeng:
Kalkwater, Carron-olie (=gelyke hoeveelhede kalkwater en rou lynolie gemeng), kaolien, looisuur (tannic acid). Hierdie middels kan met veiligheid elke 4-5 uur toegedien word, met ander woorde omtrent 3-4 keer per dag.Verskeie middels is baie goeie ontsmettingsmiddels van die dermkanaal en word met goeie gevolg gebruik vir diere wat ly aan laksering as gevolg van kiembesmetting van die derm, bv. kalwers wat ly aan wit laksering, koksidiose en selfs paratifus. Biologiese produkte wat kan help om diarree te voorkom is: bv.Bioglobin (G2151), Biorem (G958), Biosin (G1114), Intestum (V20494), Ostri-Flora (V13253), Protexin Premium (G2634), Protexin soluble (G1265). Vra u veearts om u meer inligting oor hierdie produkte te gee.
  • Middels wat beskikbaar is om elektroliete te vervang, is bv.:   Excelytes (V14877), Glutalyte (G2730), Glutalyte Equine (V16751), Hydraid Xtra (G2652), Kyron Darrows solution (V10536), Lectade (G361), Rehydion Gel (V18954).
  • Middels vir koksidiose is bv. Baycox (G3662), Deccox (G3282), Ceva Salinomycin (G2500), Combicox (G3816), Rumensin (G1818), Sacox (G574), Salinopharm (G3802), Sulfazine (G1123), Sulphamethazine (G0802).
  • Wurmmiddels: Deur wurmeiertellings en larfidentifikasies te doen, kan u veearts vir u die korrekte wurmmiddel aanbeveel.
  • Sulfamiddels: bv.Cosumix plus (G2036), Disulfox LA (G3213), Ecosulf LA (G3037), Kalftabs NF (G715), M&B Tablets (G330), Maxi-Sulf LA (G3657),  Norodine 24 (G1552), Norotrim 24 (G2620), Stoplaks NF (G503), Sulfazine (G1123), Sulphamezathine (G0802), Trivetrin (G1742)
  • Tetrasikliene: verskeie van hierdie middels is geregistreer vir maagderminfeksies.
U veearts is die beste persoon om ‘n diagnose te maak en die regte behandeling aan te beveel.
Bronne:
Handboek oor veesiektes deur Mönnig, H.O en Veldman, F.J. 1975. Tafelberg-Uitgewers Beperk ISBN 0 624 00359 0
IVS – Index of Veterinary Specialities, volume 48, number 3
Prof. Gareth Bath – persoonlike mededelings
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
28 Maart 2011
Lees ook:
Diarree in skape en bokke
 
 
 
Diarree in beeste

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X