Vra vir Faffa

Kwartelboerdery

Vraag

Is 'n kwartelboerdery haalbaar? Is daar slagplase wat sal slag? Weet iemand dalk van afsetpunte vir kwartels of moet ek maar self die bemarking aan hotelle en restaurante hanteer? Die belangrikste op die stadium is om te weet van slagpale. Sal terugvoer baie waardeer.

Antwoord

 

Hierdie artikel het in 2003 in die Landbouweekblad verskyn.
Geskryf deur Johan Coetsee
Kan ‘n mens geld maak met kwartels? Beslis, maar jy word nie oornag ryk nie, sê dié navorser, wat besig is met sy meestersgraad oor kommersiële kwartelboerdery. Dit is ‘n nismark wat op die punt van groot ontwikkeling staan.
Kwartels kan goed hoor, al sê die spreekwoord "so doof soos ‘n kwartel". Wat egter baie belangrik is, is dat kwartelproduksie in Suid-Afrika aan die vooraand van buitengewone groei staan. Hoewel boerdery met kwartels reeds dekades lank ‘n volwaardige bedryf oorsee is, is Suid-Afrikaners se siening van dié klein voëltjies nou eers werklik besig om te verander.
Só sê mnr. Pieter de Jager, navorser aan die technikon Port Elizabeth se Saasveldkampus buite George, wat besig is met sy M.Tech.-studie oor die kommersiële kwartelbedryf en sélf ‘n geesdriftige kwartelboer is.
Hy sê daar word wêreldwyd met kwartels geboer en dié spesie se ekonomiese belangrikheid groei oral. Om ‘n ekonomiese kwarteleenheid te bedryf, moet minstens ‘n duisend wyfies aangehou word. Hoewel berekeninge onderhewig is aan baie faktore wat van boerdery tot boerdery sal verskil, kan tot R40 per voël per jaar gegenereer word.
Voordat almal egter kwartelboerdery as ‘n maklike ekstra inkomste sien, is daar sekere aspekte wat in ag geneem moet word, sê mnr. De Jager. Een van hierdie aspekte is die feit dat, al word ‘n prys van R35/kg tot R50/kg vir die vleis betaal, dit sowat sewe kwartels verg om een kilogram vleis te produseer. ‘n Ander feit is dat kwartelprodukte in dié stadium grotendeels te duur is vir die deursnee Suid-Afrikaanse verbruiker om dit op groot skaal te gebruik.
Hy sê die algemeenste kwartel wat wêreldwyd kommersieel gebruik word, is die Japannese kwartel (Coturnix coturnix japonica), wat glo al in die 11de eeu vir hul mooi sang deur die Japannese aangehou is.
Die grootste verskil tussen wilde kwartels en die Japannese kwartel is dat laasgenoemde swaarder is en ook ‘n beter eierproduksie het. Vroeg in die 20ste eeu het die Japannese begin selekteer vir beter vleis- en eierproduksie en teen 1940 was die bedryf ver gevorderd en gevestig.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die meeste kommersiële lyne vernietig en die Japannese het hul bedryf daarna uitgebou uit kwartelbloedlyne uit Korea, China, Taiwan en wilde kwartels in die natuur.
Mnr. De Jager sê vandag word wêreldwyd met kwartels geboer en hul belangrikheid as boerderyvertakking neem oral toe – ook in Suid-Afrika, hoewel die bedryf hier nog in sy kinderskoene is.
Wat kwartels ‘n besonder produktiewe boerderyvertakking maak, is die voëls se vinnige groeitempo, hul vroeë geslagsrypheid, die kort generasie-interval en hul hoë eierproduksie. Hulle benodig ook ‘n kleiner voer- en groeispasie as wat die geval is met hoenderboerdery.
Wanneer die Japannese kwartel onder ‘n lang dagliglengte – 14 uur of meer – grootgemaak word, begin eierproduksie op die ouderdom van vyf weke wanneer die voël sowat 75 % van sy volwasse gewig bereik het.
Die voeromsetverhouding tot in daardie stadium is 3,1 : 1 en die maksimum groeitempo word ongeveer op die ouderdom van 15 dae bereik. Dié groeitempo plat af op die ouderdom van 45 dae en dít sal dus die mees ekonomiese slagouderdom wees, sê mnr. De Jager.
Kwartels se volwasse liggaamsgewig is sowat 180 g vir mannetjies en 220 g vir wyfies – die wyfies is dus groter. Daar is egter sekere riglyne om vir ‘n groter liggaamsgewig van tot 400 g te selekteer, maar wanneer vir ‘n hoër volwasse gewig geselekteer word, word aan eierproduksie, voeromset en uitbroeipersentasie ingeboet.
As ‘n produsent egter besluit om wel voluit vir vleisproduksie te selekteer, moet hy eerder kyk na ander subspesies van die Coturnix-kwartel, wat steeds dieselfde eierproduksie as Japannese kwartels, maar ‘n groter liggaamsgewig het. Die Coturnix-kwartel kan beskryf word as die oorspronklike kwartelspesie waaruit talle ander subspesies met verloop van tyd geteel is.
Hy sê die Japannese kwartel produseer sowat 250 tot 300 eiers per jaar en elke eier weeg sowat 11 g – nagenoeg 6 % van die voël se liggaamsgewig. Hoendereiers weeg gemiddeld sowat 3 % van ‘n hen se liggaamsgewig.
‘n Kwartelboerdery neem nie baie ruimte in beslag nie. Tot 30 voëls kan per vierkante meter aangehou word en ál wat nodig is, is ruimte in ‘n skuur of motorhuis. Saagsels word op die vloer gestrooi.
Die koste om ‘n kwartelkuiken groot te maak tot op die ouderdom van vyf weke – wanneer dit gereed is om geslag te word – is sowat R3,50. Dit is wanneer in ag geneem word dat ‘n kuiken in dié tydperk sowat 500 g voer vreet – dieselfde volvoermeel wat vir hoenders gebruik word. Dit kan tot R2,50 per kwartel kos om dit te laat slag.
Kwartelprodukte, wat hoofsaaklik bestaan uit vleis en eiers, het ‘n unieke smaak en voorkoms, en dit maak daarvan ‘n eksotiese lekkerny. Daarom is die teikenmark vir dié produkte die hoër inkomstegroepe. Veral buitelandse toeriste koop dit graag.
Eiers is in dié stadium die belangrikste kwartelproduk in Suid-Afrika en word vars verkoop of in gepekelde vorm aangebied, wat hul raklewe baie verleng. Hulle is baie gewild vir gebruik in slaaie, voorgeregte en peuselhappies.
Eiers word op die vars mark teen gemiddeld R6 per dosyn verkoop, terwyl ingelegde (gepekelde) eiers – waarvan daar 26 tot 28 eiers per houer is – in winkels teen gemiddeld R20 tot R25 verkoop word. Produsente ontvang gemiddeld R12 tot R15 vir sulke houers met ingelegde eiers.
Kwartelvleis word bemark as heel of ontbeende karkasse, of as gemarineerde vleis. Dit het ‘n hoër proteïen- en ‘n laer vetinhoud as hoendervleis, wat dit dus gesonder maak om te eet. ‘n Volwasse, lewende kwartel word vandag teen van R6 tot R10 per voël verkoop.
Mnr. De Jager sê behalwe om kwartels te slag of hul eiers gebruik, gebruik valkeniers die voëls as jagprooi. Vere word soms as versiering en vir die vervaardiging van kunsvlieë gebruik.
Hy sê daar is produsente in Suid-Afrika wat al meer as tien jaar in die bedryf is, maar dit is steeds ‘n nismark en begin nou eers werklik ontwikkel. In dié stadium oorskry die potensiële binnelandse mark vir kwartelvleis en kwarteleiers die werklike mark by verre.
Een van die grootste gevare vir die ontluikende bedryf is die verkeerde siening wat by sommige mense bestaan, naamlik dat kwartels beskou word as troeteldiere soos ander voëlsoorte. Namate die bedryf egter plaaslik groei, sal verbruikerspersepsies noodwendig verander, meen hy.
Mnr. De Jager sê die kommersiële kwartelbedryf in Suid-Afrika hou groot moontlikhede in, soos ook in die buiteland. Die produk voldoen volkome aan die behoeftes van die moderne huisvrou. Daarby is mense ook meer gesondheidsbewus en meer kreatief ten opsigte van hul eetgewoontes. Kwartels kan juis maklik en vinnig voorberei en op opwindende maniere voorgesit word.
Daarom moet die bemarking van kwartelprodukte op bogenoemde gerig wees. Die gehalte en eiesoortigheid van dié produk sal op sigself ook verder goed bemark kan word, meen hy. Hoewel kwartelprodukte in dié stadium dalk duur is vir die gemiddelde verbruiker, sal die pryse daarvan meer op peil kom met ander, soortgelyke produkte namate dit meer beskikbaar en in groter volumes geproduseer word.
Ook ontwikkelende boere kan baat vind by kwartelproduksie omdat min kapitaal aanvanklik benodig word, die voëls ‘n klein groeispasie benodig en ‘n vinnige generasie-interval het. Dit kan vir dié mense ook ‘n uitstekende bron van proteïen wees.
Omdat die bedryf in die land in dié stadium nog baie klein is, sal produsente moet saamwerk om op wêreldvlak mededingend te raak ten einde geleenthede te benut, meen mnr. De Jager.
Navrae: Mnr. Pieter de Jager, tel. 044 8015046.
 

Kommentaar

Kommentaar (13) “Kwartelboerdery

  1. Juandre
    Juandre

    Hoe groot word n kwartel?

  2. Gerhard su Plessis
    Gerhard su Plessis

    Waar kan ek kwarteleier houers kry om dit te verpak

  3. Esmelinda
    Esmelinda

    Ons hou so 4 verskillende soorte kwartels aan, gebruik ‘n broeimasjien om die eiers uit te broei, sommige kuikens se onder lyfies raak lam na paar dae van geboorte en dan gaan hulle dood, wat is die rede daarvoor?

  4. Anine Pool
    Anine Pool

    waar kan ek kwartels aan koop om mee te begin boer?

  5. santjie louw
    santjie louw

    Dringend op soek na 2 kwartel pare

  6. Marcel
    Marcel

    Ek wil die ingelgete bottels koop epos my asb
    jbaycompclinic@gmail.com

  7. Elsabe de Jager
    Elsabe de Jager

    Hi, ek sukkel om verpakkingsmateriaal vir kwarteleiers op te spoor. Ek woon in Maputo, Mozambique. Kan U my enige inligting in die verband gee, asb?

    • Jan Bezuidenhout

      Elsabe,
      Ongelukkig het ons nie kontakbesonderhede daarvoor nie.
      Soek op Google of kontak een van die maatskappye wat die materiaal vervaardig.
      Sterkte

  8. melinda fryer
    melinda fryer

    Goeie dag. Ek wil graag raad vra. My seuntjie het 2 kwartels en die wyfie het al verskeie kere eiers gele maar het nog nooit eiers uitgebroei nie.

    Baie dankie
    Melinda melindafryer@gmail.com

  9. Anneline Bezuidenhout
    Anneline Bezuidenhout

    Waar kan ek kwartel eiers te koop kry in Pretoria.

    Groete
    Anneline annelinebezuidenhout579@gmail.com

  10. Tersea
    Tersea

    Ek verkoop kwartel eiers as julle belangstel. Epos: quaileggs66@gmail.com

  11. Cornelia Louw
    Cornelia Louw

    Goeie dag. Wil graag hoor of iemand kan raad gee. Ons het n klompie kwartels uitgebroei in n broeikas. Die kwartels raak egter na twee of drie weke verlam in die bene. Hulle eet gestampte geel mielies. Hulle is in n houthok met sand op die vloer. Dit is nou al die 3e keer dat ons kwartels broei en elke keer raak hulle verlam.

    • Jan Bezuidenhout

      Cornelia, kontak: Colette Grobler, e-pos: Info@devlugt.co.za; tel. 083 756 4877
      Sterkte


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X