Vra vir Faffa

Koste vir huur van ramme

Vraag

Ek is van plan om die komende seisoen ramme van ’n buurman te huur. Is daar dalk n riglyn om te bepaal hoeveel ek moet betaal? Voorbeeld: 100 ooie @R20/kop? Die ramme is van goeie gehalte.

Antwoord

Eerste berekening deur dr. Jasper Coetzee vir ‘n ramprys van R5 000

 
Daar is verskeie metodes, waarvan sommige ingewikkeld en omslagtig is, om die huurkoste van ramme te bereken. Die eenvoudigste metode is om die gemiddelde prys te neem wat ‘n strooitjie ramsemen kos met die aanname dat ‘n ram 33 ooie dek (d.i. 3 % ramme). Afhangend van die ras en die gehalte van die ramme varieer die koste van R40 tot R200/strooitjie. As dus ‘n strooitjieprys van R60 as gemiddeld geneem word en as aanvaar word dat ‘n ram gemiddeld 33 ooie dek, is die huurprys R1 980 (d.i. R60 x 33) per ram. Daar is sommige produsente wat ramme huur en slegs 60 % van hierdie prys, dus R1 188 per ram betaal.
 
‘n Ander metode is om die gemiddelde ramprys van die betrokke ras (bv. R5 000) te deel deur die aantal jare (bv. 4 jaar) wat ‘n ram gebruik word asook die aantal ooie (bv. 33) waarmee die ram per paarseisoen gepaar word, dus
 
Gemiddelde ramprys (R5 000)
 
Aantal jare ramme gebruik word (4) x aantal ooie gepaar (33)
 
 
=  R37.88/ooi, dus as die ram met 33 ooie gepaar word is die huurprys R1 250/ram
 
Die huurder moet die ramme wat hy huur vir markwaarde teen alle risiko verseker.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere. (jasperco@iafrica.com)
 
 
Tweede berekening deur dr. Hannes Dreyer vir ‘n ramprys van R4 000
Die volgende koste-ontleding kan as riglyn gebruik word. Word gebruik as norm om insetkostes van skaapboerdery te bereken.
Gemiddelde aankoopprys van ramme = R4000 elk
Gemiddelde tydperk gebruik   = 3 jaar (kan varieer volgens streek)
Ramme per ooi   = 1 op 30
Ramkoste per ooi    = R44-44
Ramkoste per KVE (kleinvee eenheid) = R30-31
Hierdie is ‘n aanduiding van wat dit die boer sou kos om ramme aan te koop.Indien die dekseisoen van die lener verskil van die verhuurder van die ramme is daar vir beide voordeel in so ‘n huurstelsel. Die verhuurder kry ‘n ekstra inkomste wat hy nie sou gehad het nie terwyl die lener weer goeie genetika teen ‘n laer bedrag kan bekom. ‘n Prys van R20 – R25 per ooi wat by die ramme kom kan dus vir albei voordelig wees.
Daar moet net ‘n skriftelike kontrak opgestel word waarin die volgende duidelik uitgespel word :
Tydperk van huur
Huurbedrag
Kondisie van ramme voor en na gebruik
Wie is verantwoordelik vir ramverliese
Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)
22 Oktober 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X