Vra vir Faffa

Kortbek en “bull-dog jaw” by skape

Vraag

Wat veroorsaak "kortbek" by skaap? Veral as die skaap reg was op jong ouderdom, maar later as 2 tand en 4 tand kortbek ontwikkel. Groete. Billy

Antwoord

Twee defekte wat dikwels by skape voorkom, is ‘n kortbek (waar die onderkaak korter is as die bokaak) en die “bull-dog jaw” waar die onderkaak langer uitgroei as die bokaak. Eersgenoemde kom meer algemeen voor. In die geval van ‘n kortbek is dit baie moeilik om voordat ‘n skaap gewissel het werklik te kan bepaal of die bek kort is of nie. Die beste is om te wag totdat die dier tweetandstadium bereik het.

Oorerwing
Beide hierdie defekte is oorge?rfde eienskappe. Daar word dikwels deur telers gesê dat ramme wat gevoer word (kragvoer ontvang) ‘n lang onderkaak ontwikkel en dat dit aan voeding toegeskryf kan word. Die feit dat ander ramme wat onder dieselfde toestande gevoer word, dit nie ontwikkel nie, is ‘n bewys dat dit geneties van aard is. Beide hierdie eienskappe word resessief oorgedra. Dit beteken dat beide die ram en die ooi die geen moet dra om tot uiting te kom. Verder kom kortbek by feitlik alle skaaprasse voor.
Nadele
In skape met normale bekke , druk die voorste snytande (onderkaak) perfek op die boonste “dental pad” en dit stel die dier in staat om effektief te wei. Skape met kort of lang onderkake sukkel om gras te vreet en verloor dan ook dikwels na speen drasties gewig. Hulle sukkel ook om in voerkrale maklik te vreet. Tande van hierdie diere is ook van swakker kwaliteit en hulle kan ook probleme ontwikkel om te herkou.
Uitskakel van hierdie probleem
Omdat die oorerwing resessief is, is die probleem dat dit moeilik is om die ouers van lammers wat die defek het, uit te ken. Die vraag is dus : Hoe kan ek ooie en ramme uitken wat normale bekke het, maar hierdie defekte teel ?
Die antwoord is : 1) deur na die nageslag te kyk en 2) kyk of daar van die voorgeslagte is wat die probleem het.
Die maklikste om van hierdie probleem ontslae te raak is :
1)    Sorg dat die ram wat aangekoop of gehou word vir teling se bek reg is
2)    Skot alle diere met enige van die probleme uit
3)    Indien ‘n ram enigsins nageslag met ‘n probleem teel , raak van hom en sy nageslag ontslae.
Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)
2 Februarie 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X