Vra vir Faffa

Kompensasie vir BM en TB positiewe beeste?

Vraag

Waarom sal 'n boer BM-beeste laat uitslag teen heersende vleispryse net om BM te beveg, veral as die buurman dit nie doen nie? 'n Brusellose-koördineerder verduidelik.

Antwoord

Vraag:
Ek het onlangs ‘n plaas aangekoop met 55 Charolais-koeie van my buurman daarop. Toe ek twee maande later BM-toetse doen, is bevind dat 27 van die koeie BM positief is. Die staatsveearts het gesê dat ‘n "C" op die beeste gebrand en hulle geslag moet word. Nou vra ek waarom sal ‘n boer die BM beeste laat uitslag teen heersende vleispryse net om BM te beveg, veral as die buurman dit nie doen nie. As die bure nie aktief saamwerk nie, dan is ons besig met ‘n futiele saak. In my omgewing blyk dit dat die ouens hulle nie veel steur aan die BM kwessie nie.
Opvallend egter was dat al die koeie kalwers gehad het en daarby bedoel ek mooi kalwers. Is dit sinvol om die die verskalwers van die BM-beeste met S19 of R51 te ent?
Kan jy die huidige kompensasie vir TB en BM slagtings verduidelik?
Word die dier se slagwaarde of werklike (stoetwaarde) uitbetaal?
Kan ‘n boer appelleer? Riaan Theron (riaan@rsms.co.za)

Antwoord:
Lees ook hiermee saam antwoorde wat reeds in Vra Vir Faffa oor besmetlike misgeboorte (brusellose, BM) verskyn het.

Kompensasie:
Besmetlike misgeboorte
Daar is geen kompensasie van Staatskant af vir BM nie.

Tuberkulose
Indien die dier afgekeur word, sal die Staat die slagwaarde wat die boer sou ontvang het, kan eis – moet ‘n aansoek invul deur die Staatsveearts (ook net indien die dier positief gereageer het op TB toetse en mits sy TB toetse op datum was en hy nie links en regs beeste aangekoop het nie).

In die geval waar die boer ‘n hofsaak i.v.m. TB kompensasie gewen het omdat hy te min uitbetaal is, het die Staat teen die uitspraak geappelleer. Daar word nog gewag vir ‘n beslissing.

Positiewe BM beeste
Positiewe BM beeste moet met ‘n C-brandmerk gemerk word om hulle te identifiseer en om seker te maak dat hulle nie verkoop word nie (behalwe vir slag) om sodoende die verdere verspreiding van dié siekte te keer. Onthou BM is ‘n soönose, d.w.s. BM word van besmette diere na die mens oorgedra.
‘n Koei wat besmet is met BM, sal gewoonlik net eenmaal aborteer (net 40% aborteer) maar elke keer as sy kalf, skei sy miljoene BM organismes (Brucella abortus) uit en besmet verder die omgewing en ander koeie. Tot 20% of meer kalwers van besmette moers sal positief toets (gewoonlik eers ná hulle eerste kalf wanneer hulle dan reeds die siekte verder versprei het).

BM-entstof en inentingsprogram
Onthou dat geen BM-entstof genesend is nie, maar net voorbehoedend is, m.a.w. as die kalf reeds besmet is (> 20% van kalwers van besmette moers) gaan dit nie help nie.

Aanbeveling vir BM-immunisering van verse (bulkalwers MOET NIE geënt word nie aangesien dit hulle steriel kan maak):
Brucella S19 entstof (G0101), eenmalig op 4-5 maande ouderdom. (Die spuit en naalde waarmee die entsof toegedien word, moet nie vir ander entstowwe gebruik word nie, aangesien die entstof-residureaksies in groot diere kan veroorsaak wat moeilik onderskeibaar is van wilde stam BM-besmetting op gewone serologiese toetse.)

RB51 entstof (G3056) op 7-8 maande ouderdom (NIE tydens speen nie – speenskok gaan die immuniteit verlaag). Ent RB51 weer 2-3 maande voor eerste dekking. ‘n Eenmalige inenting gaan net 70% immuniteit veroorsaak (30% nog heeltemaal vatbaar). RB-51 is die enigste entstof wat, indien herhaal word, NIE die bloedtoets sal affekteer nie. Moet nooit dragtige diere inent nie, want hulle kan tot 6 maande later ‘n aborsie of vroeggebore kalf lewer.

 

  • Geskryf deur: Dr. Matt Ekron, Brusellose koördineerder, Departement van Landbou en Land-administrasie, Veterinêre Dienste, Mpumalanga.
    E-pos: matt@nooitgd1.agric.za

    18 Junie 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X