Vra vir Faffa

Koksidiose in bokke, skape en beeste

Vraag

Ek wil graag weet hoe en wanneer behandel mens koksidiose by Boerbokke? Soos ek verstaan, as die dier se pens begin werk, is hy lankal besmet. M.a.w. mens kan nie net die wie se pense werk, behandel nie. En soos ek verstaan is Boerbokke baie meer vatbaar vir koksidiose. Dankie, Basie.

Antwoord

Koksidiose is die vernietiging van die interne mukosa (slymvlies) van die spysverteringskanaal deur protozoa van die genus Isospora en Eimeria. Kliniese tekens van ‘n infestasie is gewoonlik diarree, koors, verswakte eetlus, gewigsverlies en vrektes. 

Die lewensiklus van die protozoa word in ‘n enkele gasheer voltooi na die inname van die infektiewe stadia wat die oösist genoem word. Oösiste (lyk soos ’n klein eiertjie onder die mikroskoop) word in die mis van ‘n besmette dier uitgeskei, maar is nie onmiddellik na uitskeiding skadelik nie. Nadat die oösiste gesporuleer het in toestande van optimale hitte, vog en suurstof, bevat dit die infektiewe sporosoïete.
 
Na die gasheerdier die oösiste deur die bek ingeneem het, ontsnap die infektiewe sporosoïete uit die oösise en infekteer die epiteelselle  van die spysverteringskanaal vanwaar dit vermenigvuldig tot merosoïete. Die merosoïete vermenigvuldig op hulle beurt verder in ander selle en vernietig die interne mukosa in die proses. Dit is hierdie skade aan die mukosa wat aanleiding gee tot die mees algemene siekteteken, diarree. Diere wat aan ernstige infestasies lei, herstel gewoonlik nooit om aan enige goeie produksieparameters te voldoen nie.
 
Na ‘n aantal aseksuele generasies vorm die merosoïete mikro- en makrogametosiete en dit is hierdie kombinasie van mikro- en makrogametosiete wat weer lei tot die formasie van oösiste. Die oösiste word nou uitgeskei in die mis en ‘n nuwe siklus kan weer in ‘n gasheerdier begin.
 
Omstandighede wat aanleiding  tot koksidiose gee, sluit swak voeding, swak sanitasie en higi?ne, stres, oorbevolking, skielike klimaats- en voedingsveranderinge in. Al hierdie faktore speel in ‘n mindere of meerdere mate ‘n rol in die dier se immuniteitstatus. Die dier se immuniteit bepaal dan weer die virulensie (siektegraad)  van die infeksie. Terwyl jonger diere die infeksie vroeg in hulle lewe (tussen 1-12 maande) opdoen, is ouer diere se immuunstelsel gewoonlik opgewasse teen die infeksie en dien hierdie diere eerder as draers van die infeksie. Hulle mag hierdie besmetting sporadies as sub-kliniese infeksies ervaar. Sulke sub-kliniese episodes dien dan weer as ‘n bron van infeksie vir jonger diere.
 
Vroegtydige behandeling verkort die periode van die kliniese siekte, die kans op sekondêre infeksies en skade aan die epiteel van die dermkanaal. Sonder besmette diere af om optimale behandeling te verseker. Produkte wat sulfonamiedes (sulfas) bevat,  is steeds effektief, maar behandelings met die benseenasetonitriel- of triasientrioongroep soos byvoorbeeld toltrazuril is hoogs aan te beveel. Daar word vermoed dat produkte, soos toltrazuril (bv. Baycox, G3662), wat die intrasellulêre stadia van die parasiet dood, maar nie die totale infeksie in die interne lumen van die derm steriliseer nie, die skade aan die spysverteringstelsel dramaties verminder en terselfdertyd die dier se immuunstelsel toelaat om immuniteit op te bou.
 
Die inmeng van ionofore (bv.monensin, salinomisien) in die voer mag die voorkoms van kosidiose verminder. Sulke produkte moet egter met versigtigheid vermeng en hanteer word.
Verseker goeie bestuurspraktyke soos deur nattigheid in krale te voorkom en lekkende waterbakke en pype te herstel, aangesien koksidiose ‘n opportunistiese siekteverwekkende organisme is wat met goeie bestuur verminder kan word.
Geskryf deur: Dr. Clinton Austin, BVSc,Tegniese bestuurder (Dieregesondheid), Bayer Healthcare (clint.austin@bayer.com)
 
1 Julie 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X