Vra vir Faffa

Koei vrek met swelsel onder keel, bors en voorbene

Vraag

Ek boer  in die Morgenzon omgewing (Standerton,Bethal). My vleiskoei het n koors van 41°C gehad. Ek het vir rooiwater behandel. Die koei herstel ietwat, maar na ‘n week begin ‘n sak onder die keel ontwikkel (vermoed bloedarmoede a.g.v parasiete). Spuit IVOMEC vir parasiete en Predef vir ondersteuning. Koei begin beter lyk, vreet, sak begin weggaan. Week later begin sak weer groter word. Hierdie keer ontwikkel swelsel om die borskas en die voorbene ook, wat geswel is. Slymerigheid kom by die bek uit. Koors 39°C. Niemand was beskikbaar vir ‘n nadoodse ondersoek nie. Daar is giftige tulpe op die plaas, maar dit word bestuur. Die koei is 4 jr oud en is op die plaas gebore. Sy is geëent teen al die plaaslike siektes. Dit was tydens die baie koue tydperk toe dit gereën en ligweg gesneeu het. Kan u asb probeer om ‘n opinie te gee. Hannes van Heerden.

Antwoord

Hannes, jy is reg as jy die opmerking maak dat ek net sal probeer om ‘n opinie te gee. Dit is jammer dat daar nie ‘n nadoodse ondersoek gedoen kon word nie, want dan kon ‘n mens nader aan die waarheid gekom het.

Die eerste waaaraan gedink kan word, is ‘n skerp voorwerp (bv. draad,spyker) wat die koei met die voer ingeneem het. Die voorwerpe gaan na die ruitjiespens vanwaar hulle dikwels tydens die laaste derde van dragtigheid of met kalwing die hartsak binnedring. Ek het ook al drade gekry wat die longe binnedring!
Daar ontstaan ‘n geweldige ontsteking in die hartsak wat hartversaking tot gevolg het. Vog samel onder die kakebeen (kwakkeel) wat later ook onder die borskas en voorbene kan ontwikkel.
Die aar in die nekgroef is ook duidelik sigbaar. Die dier verloor kondisie en kan ook effens krom loop. As die dier agter die skof met albei hande geknyp word, sal sy kreun.
Gewoonlik is die vooruitsigte baie swak, al word ‘n operasie uitgevoer om die draad te verwyder, aangesien die infeksie in die hartsak al so ver gevorderd is.
‘n Tweede moontlike oorsaak is ‘n erge lewerslakbesmetting. Die behandeling wat jy gegee het (ivermektien) beheer slegs rondewurms. Gaan lees: “Lewerslak- wanneer word die groot skade veroorsaak?”
 ‘n Derde moontlikheid is dikkopsponssiekte veroorsaak deur die bakterieë Clostridium novyi tipe A en B. Lees: “Dikkop-sponssiekte by beeste, skape”
‘n Vierde moontlikheid is ‘n erge bakteriese besmetting, wat gewoonlik deur die bakterie Arcanobacterium pyogenes saam met ander kieme wat in die afwesigheid van suurstof leef, veroorsaak word. As die swelsel oopgesny word, kom daar stinkende vloeistof uit.
 ‘n Vyfde moontlikheid is ’n slangbyt deur een van die adders. “Watter gevaar hou slange vir diere in?”
‘n Sesde moontlikheid is swelsels in die akute fase van olifantsvelsiekte (tik “Olifantsvelsiekte” in die soekblokkie in).
‘n Sewende moontlikheid is in die geval waar geswelde bene mag voorkom in diere wat knopvelsiekte het.
Lees ook: “Maak die regte diagnose!”
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant.
13 Augustus 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X