Vra vir Faffa

Klophings of kriptorkied

Vraag

Kan ‘n klophings nog ‘n merrie bevrug?

Antwoord

‘n Klophings of kriptorkied (Engels: Cryptorchid, ridgling, rig) is ‘n term wat ‘n hings beskryf waarvan ten minste een teelbal (testis) nie afgesak het nie. Die toestand is nie uniek aan perde  nie, maar is van groot belang in die hings omdat die agtergeblewe testis nie lewensvatbare sperme produseer nie. Vrugbaarheid word dus geaffekteer.  Die teelbal of balle is nog in staat om testosteroon (manlike hormoon) te produseer en die perd sal hingsagtige gedrag toon. Die koste om ‘n klophings te kastreer, sal aansienlik hoër as normale kastrasie wees en agtergeblewe teelballe het ‘n groter risiko om kwaadaardige gewasse te ontwikkel.

In die normale hings sal die testes geleidelik van net  onder die niere, deur die lieskanaal tot in die balsak (skrotum) afsak. Dit gebeur in die baarmoeder of gedurende die eerste paar weke na geboorte.

Soms gebeur dit dat een of albei testes nie afsak nie en sulke hingste word dan klophingste (kriptorkiede) genoem. Verder word die hings geklassifiseer volgens waar die testis sit: inguinaal (lieskanaal), abdominaal (buik), uni-lateraal (een testis het nie afgesak nie) of bi-lateraal (albei testes het nie afgesak nie). Klassifikasie van die toestand is belangrik as bestuur en behandeling in ag geneem word.

Die mees algemene kondisie is waar die teelbal(le) nie verder as die lieskanaal afgesak het nie of soms as hulle net onder die vel lê (hulle word ektopiese kriptorkiede genoem). Onvermoë van teelbal(le) in die lieskanaal om af te sak mag tydelik of permanent wees.  Tydelike lieskanaal kriptorkiede kom die meeste in ponies en miniatuurperde voor en die regter testis word die meeste geaffekteer. As die toestand tydelik is, sak hulle meestal af op driejarige ouderdom. As die testes teen hierdie tyd nog nie afgesak het nie, dui dit op permanente kriptorkiedisme, ‘n toestand wat in alle tipes perde gesien word.

‘n Abdominale klophings word gekenmerk deur testes wat nog in die buikholte is, dikwels naby die niere. Abdominale kriptorkiede kan verder geklassifiseer word as volledig en onvolledig. Volledig verwys na die retensie van beide die bybal (waar sperme gestoor en ryp word). Die testis is in hierdie geval gewoonlik beweeglik, omring deur derms en moeilik om die presiese posisie van die testis vas te stel. Die onvolledige kriptorkiede in die buik word gekenmerk deurdat die testis in die buik bly, maar dat die bybal in die lieskanaal afsak. Abdominale kriptorkiedisme is konstant permanent behalwe as die toestand chirurgies gekorrigeer word.

As beide testes faal om af te sak (bilateraal), word hulle gewoonlik in die buik gevind (bilateraal abdominaal). Baie selde word daar gevind  dat die hings net een testis het.

Daar is ‘n debat oor of die kondisie oorerflik is. Omstandigheidsgetuienis en navorsing ondersteun hierdie siening en daar is ook getuienis van ‘n hoër insidens in ponies.

Gevolge van kriptorkiedisme

Die funksie van die testis word beїnvloed deur twee faktore, verhoogde testikulêre temperatuur en verminderde testikulêre grootte.

Die normale posisie van die testes is buite die liggaam in die skrotum waar die temperatuur 3 grade Celcius laer as liggaamstemperatuur is. Spermproduksie word geaffekteer deur die hoër temperatuur terwyl hormoonproduksie (testosteroon) nie so temperatuurafhanklik is nie.

Testes wat in die buik agtergebly het, kan tot 20 keer kleiner as normaal wees en dié in die lieskanaal tot 7 keer. Die testes in die buik se spermvormingaktiwiteit is afwesig.

Die testes wat in die lieskanaal sit, wys groter ontwikkeling en hierdie testes mag selfs ‘n bietjie lewende sperme produseer, wat ‘n merrie se eiersel kan bevrug. Vrugbaarheid het wel baie afgeneem. Hormoonproduksie en libido is naby aan normaal.

Identifisering van ‘n kriptorkied (klophings)

As die hings een normale funksionele testis het, kan sy libido en vrugbaarheid heeltemaal aanvaarbaar wees, veral as hy nie te veel merries het om te dek nie.

Gedrag en selfs vrugbaarheid is nie goeie indikasies van kriptorkiedisme nie. Kry die volle geskiedenis van die hings – beserings, korrekte kastrasie, geslagsiektes en ander siektes.

As ‘n reunperd (gekastreerde hings) tekens van ‘n hings wys, moet verdere ondersoek deur jou veearts gedoen word.

  • Eksterne palpasie – onthou baie keer trek hingste hulle testes styf op teen die abdomen tydens palpasie. ‘n Hings moet partykeer gesedeer word sodat gevoel kan word of 2 normale testes teenwoordig is.
  • Rektale palpasie – ‘n testes in die lieskanaal kan gevoel word.
  • Laparotomie – onder narkose kan die buik oopgemaak word en die testes in die buik gesoek word.
  • Laparoskopie – met ‘n endoskoop kan in die buik gesoek word vir die testes.
  • Ultraklank ondersoek vir testes in die buik
  • Hormoonanalise – Plasmakonsentrasies van testosteroon en estrogeensulfaat is hoër in kriptorgiede as in reunperde, veral in perde onder 3 jaar ouderdom.

Hantering van die probleem

Soos reeds bespreek, mag lieskanaal kriptorkiedisme tydelik wees en vele telerverenigings sal toelaat dat hingste herondersoek kan word op 2 tot 3 jaar ouderdom om tyd toe te laat vir beide testes om af te sak. Indien die testes by hierdie ouderdom nog nie afgesak het nie, kan die hings nie geregistreer word nie.

Behandeling word nie normaalweg gedoen nie. Chirurgie kan wel gedoen word om ‘n onafgesakte testes in die skrotum af te bring. Hormoonbehandeling is ook al probeer. Onthou dit is ‘n inherente fout en beide behandelings word nie aanbeveel nie en die enigste opsie is dan om die perd te kastreer.

Teling met ‘n kriptorkiede hings

‘n Hings met een testis wat nie afgesak het nie, sal wel merries kan bevrug.

Die daaglikse spermproduksie (DSP) van die gemiddelde hings is 10-20 biljoen as hy een of twee keer per dag dek met ‘n rusdag elke 7 – 10 dae. Van ’n kriptorkiedhings met een afgedaalde testes kan verwag word dat hy 50% van DSP (5-10 biljoen) sperme kan produseer. Hy kan dus die helfte van die merries wat ‘n normale hings dek, hanteer. Die normale aanvaarbare bevrugtingsyfer is 60-70%.

‘n Klophings behoort 50 tot 60 merries met natuurlike dekking te hanteer. Hy behoort gehanteer te word soos ‘n hings met lae vrugbaarheid. Bring hom by een merrie per dag en monitor dat die merrie op die ideale tyd gedek word. Monitor die hings se semenkwaliteit gereeld en hou hom tydelik terug as die kwaliteit afneem.

Kunsmatige inseminasie kan ook met so ‘n hings gedoen word.

Opsomming

Die kriptorkiedhings is ‘n probleem vir die eienaar. Weens die moontlike oorerflikheid van die toestand is kastrasie ‘n opsie as daar nie met die perd geteel gaan word nie of indien die telersgenootskap nie kriptorkiede aanvaar nie. Die kastrasie is nie ‘n eenvoudige prosedure nie en kan duur wees. Dit is nie ongewoon dat die kastrasie nie suksesvol is nie en dat die perd vekeerdelik as ‘n reunperd verkoop word nie – ‘n gevaarlike situasie vir toekomstige kopers. ‘n Sorgvuldige ondersoek deur ‘n veearts kan enige teruggehoue testikels opspoor en die dier kan daarvolgens bestuur of gekastreer word as die eienaar dit verkies.

Vertaal uit ‘n artikel geskryf deur Mina C.G. Davies Morel, ‘n groep by die Instituut van Biologiese, Omgewings en Plattelandse Wetenskappe by die Aberystwyth Universiteit, VK.

http://www.thehorse.com/articles/14756/what-is-a-cryptorchid

Dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

22 Oktober 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X