Vra vir Faffa

Kitstoetse vir dieresiektes

Vraag

Daar is vandag heelwat kitstoetse beskikbaar om dieresiektes te identifiseer. Hoe moet sulke toetse beoordeel word?

Antwoord

Siektes en ander toestande van diere word volgens ‘n groot verskeidenheid van toetse deur veeartse, wetenskaplikes en laboratoriums gediagnoseer en die aantal van sulke toetse vermeerder steeds. Kitstoetse is al baie jare beskikbaar, vir siektes en toestande van beide mens en dier.

Die swangerskapskitstoetse is seker die bekendste. Hulle is by aptekers beskikbaar, hoef nie koud gehou te word nie en kan deur gewone mense, sonder enige wetenskaplike opleiding, gebruik word. Elke kitstoets waarsku egter, dat die uitslae met ‘n veearts of ‘n mediese praktisyn bespreek en bevestig moet word. Meer ingewikkelde kitstoetse moet in ‘n laboratorium uitgevoer word, maar het die voordeel, dat uitslae vining beskikbaar is.

Kitstoetse vir algemene siektes en toestande soos voëlgriep, Newcastlesiekte, besmetlike misgeboorte (BM), tuberkulose van beeste, bek-en-klousiekte, omloop, hondesiekte, hondsdolheid, ens. is beskikbaar.

Kitstoetse is vir gebruikers  aantreklik, vanweë prys- en tydsduurvoordele en vervaardigers het vinnig voordeel hieruit getrek. Akkurate toetse wat korrek aangewend is, veral drukgang kitstoetse, bring baie voordele mee. In die hande van kundiges voorsien hulle behulpsame aanduidings vir verdere toetse en ondersoeke om die toestand te bevestig.

Siektes word gewoonlik d.m.v.‘n twee [of meer] toetssisteem gediagnoseer. ‘n Siftingstoets word eers ingespan om moontlike toestande aan te dui. Siftingstoetse soos die Rose Bengal toets vir besmetlike misgeboorte, is gewoonlik vinnig en goedkoop, maar nie ewe akkuraat as ‘n tweede, bevestigingstoets nie. Bevestigingstoetse is dikwels meer tydrowend en duurder as die siftingstoets.

In sommige gevalle kom opvallende akkuraatsheidsverskille tussen kitstoetse voor.

Die buiteverpakking van sulke toetse is maklik genoeg om te ontwerp en alle kitstoetse mag ewe aantreklik voorkom. Die bewerings wat in die voubiljet gemaak word, is nie noodsaaklik akkuraat nie en ‘n mens kan ook nie op prys oordeel nie, want ‘n swak produk mag  uitermatig duur wees. Die kitstoets mag in die land van oorsprong akkuraat wees, maar nie in Suid-Afrika nie, waar ander stamme van die siekte mag voorkom. Die kitstoets mag wel akkuraat vir beeste en skape in die land van oorsprong wees, maar nie vir ons inheemse rasse nie. Ander kitstoetse mag te sensitief vir ons land wees. Baie sensitiewe besmetlike misgeboorte toetse mag waardevol in ‘n land wees, waar die siekte grootliks uitgeroei is, maar nie hier nie, waar ons baie gebruik van inenting maak en waar BM algemeen voorkom.

Sommige van die toetse is stabiel teen kamertemperatuur, maar ander moet koud gehou word. Dit is nie moontlik om dit slegs met die oog vas te stel nie.

Mens mag maar sê: Wees op jou hoede en dat gebruikers dus die swak kitstoetse self identifiseer.

Dis ongelukkig nie moontlik nie, vir twee hoofredes. Die eerste is dat die owerhede aanmeldbare siektes  akkuraat moet kan bepaal, sodat die korrekte beheermaatreëls om verspreiding te verhoed in plek gesit kan word. Die lys van kitstoetse soos hierbo bevat baie sulke aanmeldbare siektes.

Die tweede, is vir in- en uitvoerbeheer. Die owerhede in ons en ander lande wil nie siek diere en hulle besmette produkte invoer nie en daarom is daar verpligte toetse voor en gedurende invoer. Baie min kitstoetse is op hede deur die OIE goedgekeur. Die OIE is die internasionale organisasie wat belas is om die voorkoms en beheer van dierlike siektes te monitor.

In Suid-Afrika, moet DAFF [Departement van Landbou, Bosbou en Visserye] sulke toetse evalueer en goedkeur vir binnelandse gebruik, veral betreffende aanmeldbare siektes.

Die regulasies maak voorsiening vir die vergelyking van die toets met reeds bestaande toetse op ‘n groot aantal SA diere. Die vergelykende toets moet deur SANAS geakkrediteerde laboratoriums gedoen word. Geakkrediteerde laboratoriums moet al die korrekte prosedures wat deur SANAS [Suid Afrikaanse Nasionale Akkreditasie Sisteem] neergelê word, volg. Indien die vergelykingstoets goed afloop, moet die uitslae aan DAFF gestuur word. Indien hulle dit goedkeur, mag die toets in Suid-Afrika gebruik word.

Daar is ander redes om onetiese kitstoetse te vermy.

In die verkeerde hande, mag sulke kitstoetse ongewensde gevolge hê. ‘n Kitstoets mag gebruik word om vinnig positiewe diere voor veilings te identifiseer. Die positiewe diere word verwyder. Die res van die groep, wat waarskynlik draers is, word dan aan ‘n koper as “negatief  getoets” verkoop.

‘n Ander probleem sou voorkom indien ‘n dier as vals positief identifiseer word, wat tot onnodige slagting mag lei.

‘n Vals negatiewe hondsdolheidtoets mag die gevolg hê dat die besmette hond nog meer mense byt. Niemand sou dan mediese hulp betyds soek nie, want die hond is mos “negatief”.

Boere hoort versigtig te wees en nie alle sogenaamde spesialiste te vertrou nie, veral as hulle beweer dat hulle algehele siektebeheer met hulle bepaalde kitstoets kan uitvoer.

Dit sou verstandig wees om ‘n kenner op die gebied te raadpleeg, of u Staatsveearts of DAFF www.daff.gov.za  verteenwoordiger te kontak, om uit te vind of ‘n bepaalde toets aanvaarbaar is, voordat u u diere laat toets.

SA Veterinêre Wetenskaplike Forum

21 Augustus 2016


Kommentaar

Kommentaar (2) “Kitstoetse vir dieresiektes

  1. Tienie
    Tienie

    Kry mens n kits swangerskap toets vir diere? En waar is dit beskikbaar?

    • Jan Bezuidenhout

      Tienie, Die antwoord is in die tweede paragraaf genoem.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X