Vra vir Faffa

Kikoejoe as weiding vir skape

Vraag

Ek het al by 'n paar mense gehoor dat kikoejoeweiding hoë drakrag het vir skape en veral vir Meatmasters. Ek sal graag wil uitvind wat die waarheid agter hierdie stelling is.

Antwoord

Indien kikoejoeweiding in ‘n gebied is waar die reënval minstens 800 mm per jaar is of waar die ekwivalente hoeveelheid besproeiing toegedien word, kan ongeveer 25 tot 30 kleinvee per hektaar vir agt maande van die jaar aangehou word. 

Kikoejoeweiding is egter nie die ideale weiding vir skape nie en verder lewer dit swak weidingproduksie gedurende die wintermaande. Interne parasiete is ’n groot probleem op kikoejoeweiding en die doeltreffende beheer daarvan is ‘n voorvereiste vir suksesvolle skaapboerdery op kikoejoeweiding. Kikoejoeweiding het ‘n lae deurvloeiproteïeninhoud en weens sy hoë voginhoud ondervind skape dikwels probleme om voldoende kikoejoeweiding in te neem om aan hulle energiebehoeftes te voldoen. Daardeur word diereprestasie nadelig beïnvloed.   Addisionele aanvulling van deurvloeiproteïen en energie via lekke (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg mieliemeel + 50 kg sout) teen 300 tot 500 g/skaap/dag is daarom noodsaaklik vir hoogs produserende diere soos laatdragtige en lakterende ooie, jongooie en groeiende lammers. Weens die lae vlak van effektiewe vesel kan sappige, weliggroeiende kikoejoeweiding te min effektiewe vesel voorsien wat tot lae bottervetproduksie en dus swak groei van sogende lammers aanleiding gee asook tot chroniese subkliniese suurpens (aanhoudende maagwerk). Om dit te voorkom, word aanbeveel dat droë ruvoer addisioneel eenkant op kikoejoeweiding saam met bogenoemde lek bygevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
11 Julie 2011

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X