Vra vir Faffa

Kampoppervlaktes se rol in verhoogde somatiese seltellings

Vraag

Ons koeie staan op kraal. Sodra ons somerre?n kry, raak die krale morsig nat en verhoog die insidensie van mastitis in die melkkudde.Ons skraap die krale op weeklikse basis om die mis op hope te kry vir later uitstrooi op die lande. Intussen wil ons graag die krale na afloop van die skraapproses, ontsmet. Wat sal hiervoor gebruik kan word, bleikmiddel (bleach) of formalien of enige ander voorstel? Ons het gedink om die kraal te ontruim en dan met 'n onkruidspuit te spuit en vir ‘n week of meer te laat afdroog. Help asseblief.

Antwoord

Kampoppervlaktes se rol in verhoogde somatiese seltellings 

In enige melkery is optimale bestuur in alle fasette van die boerdery noodsaaklik vir uiteindelike sukses. Baie aandag word aan teling, voeding, die melkmasjien ensovoorts geskenk, maar soms word daar geen of min aandag aan die bestuur van die mis gegee. Min melkerye is deesdae ekstensief met ander woorde waar die diere vrylik wei op die plaas en slegs tydens melktyd stal toe gebring word. Meeste melkerye hetsy die wat van weiding af melk of die wat totaalgebalanseerde rantsoene voer het ‘n kampstelsel wat of permanent of in rotasie gebruik word. Oor tyd sal daar mis in hierdie kampe ophoop en hierdie mis is dan ook die ideale broeiplek vir vlieë en ook groeimedium vir bakterieë en moet gereeld verwyder word.
Die rol wat misbesoedelde kampe in mastitis speel word dikwels onderskat. Koeie wat in moderne groot melkerye (free stall barn) aangehou word, het tydens laktasie ‘n slaapkrat waar of grond, slaapmatrasse of een ander vorm van beddegoed voorsien en gereeld vervang word. Deur gereelde vervanging word die opbou van bakterieë beperk en mastitis tydens laktasie is gewoonlik nie so ‘n groot probleem nie. Hierdie koeie word op ‘n tyd afgedroog en word dan in ‘n buitekamp met ‘n grondoppervlakte aangehou. Hier is gewoonlik ‘n opbou van mis oor tyd in hierdie kampe veral as die kampe nie gereeld geskraap of die mis verwyder word nie. Veral as ‘n kortwerkende droëkoeimiddel gebruik word, kalf baie koeie (tot soveel as 60%) met mastitis as gevolg van infeksie wat tydens die droëperiode opgedoen is. Optimale bestuur van die koei se omgewing waar hulle bedags sal lê, is dus ononderhandelbaar.
Bakteriese populasies op koeie se spene en speenopeninge kom baie ooreen met die omgewingsbakterieë wat in die koeikampe gevind word. Hoe minder die koeie se spene aan hierdie organismes blootgestel word, hoe minder sal die omgewingsmastitisgevalle in ‘n kudde wees.
Die oppervlakte waar die koeie moet lê, hetsy in kampe of stalle moet gemaklik vir die koei en ook skoon wees. ‘n Eenvoudige toets is om te staan en dan op jou knieë te val – as jou knieë seerkry sal die koei heel waarskynlik nie op so ‘n oppervlakte wil gaan lê nie. As jy nou opstaan kyk hoe lyk jou knieë – is dit nat of vol mis – indien wel het die kampoppervlakte of beddegoed dringend aandag nodig. Koeie kan ook visueel beoordeel word. Daar is kaarte beskikbaar waar koeie ‘n telling ontvang na beoordeling van die hoeveelheid mis/grond op haar stertwortel, flanke, pens, uier en hakke. Die beste is om dit op al die koeie in ‘n kamp te doen en dan ‘n gemiddeld per kamp te bereken. 
Die somatiese seltelling en aantal bakterieë geïsoleer uit die massatenk is ook ‘n goeie aanwyser of die kampoppervlaktes skoon is al dan nie.                
Watter beddegoed (lêplekke) is die beste? Die ideale antwoord is die goedkoopste, droogste, mees gemaklike oppervlakte met die laagste bakteriese telling wat nie bakteriële groei sal bevoordeel nie en wat gemaklik is vir die koei om op te lê. Soos in enige boerdery is die ideaal egter nie altyd moontlik nie en ons moet die beste maak van wat ons het.        
Bakterieë verkies ‘n omgewing waar daar vog, organiese materiaal (soos mis) die regte temperatuur en tyd is. ‘n Kamp waar die mis dus ophoop en nooit verwyder word en boonop nat is as gevolg van byvoorbeeld ‘n lekkende krip, is die ideale omgewing vir enige bakterieë.
Skoon, goedgedreineerde, droë grond is die beste oppervlakte om bakteriese groei tot ‘n minimum te beperk. Baie van die groot moderne melkerye met slaapkratte vind dit egter problematies om grond as beddegoed te hanteer en gebruik of slaapmatte of ander alternatiewe soos skaafsels, strooi, papier ensovoorts. Hierdie organiese materiaal is egter weer kos vir bakterieë en moet baie goed bestuur word om die opbou van bakterieë en die voorkoms van mastitis te voorkom. Indien houtskaafsels gebruik word, moet daar eerder van die sagte houtsoorte soos den gebruik gemaak word. Denneskaafsels bevat onder andere sekere harse, sommige vette, fenole ensovoorts wat ‘n onderdrukkende effek op bakteriese groei het. Harde houtsoorte het gewoonlik nie hierdie bestanddele nie en is gevolglik nie so effektief as beddegoed nie.  
Dit is ook belangrik om slaapkratte en kampe in die somer meer gereeld skoon te maak aangesien die verhoogde temperatuur ook ideaal is vir die bakterieë om te vermeerder. Afhangende van die area (somer of winter reënval) waar daar gemelk word, moet dieselfde beleid ook toegepas word. Meer reën beteken dus meer skoonmaak.       
Soos hierbo gemeld moet koeikampe ook gereeld skoongemaak word. Die beste is om ‘n kamp te skraap. Saam met die mis moet tenminste 10cm van die oorspronklike grondoppervlakte ook verwyder word om seker te maak dat meeste van die bakterieë wat oor tyd opgebou het ook verwyder word. Die beste is om dan hierdie kamp vir ‘n dag of drie te los dat die son die boonste oppervlakte verder uitdroog en sodoende ‘n nog minder gunstige omgewing vir die bakterieë skep waar hulle kan vermeerder.
Daar is al baie werk gedoen om ‘n chemiese of ander middels te vind om die grond of beddegoed te “ontsmet”. Kalk in verskeie vorms is getoets en daar is gevind dat die bakteriese groei vir 24 uur onderdruk word as gevolg van die verandering van die pH maar dat die bakteriese telling na 48 uur weer omtrent dieselfde as onbehandelde grond of beddegoed is. Ander antibakteriese middels wat goed op harde oppervlaktes werk, word ook byvoorbeeld afgebreek sodra dit met organiese materiaal in aanraking kom en is dus nie geskik om grond mee te ontsmet nie. 
Die ideale kampoppervlak of beddegoed vir ‘n koei sal miskien nooit gevind word nie, maar daar is wel ‘n paar basiese aspekte waaraan ons moet aandag gee soos om seker te maak dat die kampe droog is en veral in die reënseisoen gereeld skoongemaak word om onnodige opbou van organiese materiaal (mis) te beperk. Verder moet ‘n goeie voormelk speendoop oorweeg word om sodoende omgewingsmastitis tot ‘n minimum te beperk.
Geskryf deur: dr. Chris van Dijk, Pfizer Dieregesondheid (chris.vandijk@pfizer.com)
12 Maart 2012
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X