Vra vir Faffa

Kameeldoring dra nie peule nie

Vraag

Vir die eerste maal in seker meer as 40 jaar is daar minder as 1% peule aan die kameeldoringbome in my omgewing - Witsand – Noord-Kaap - Klein Kalahari. Groot bome het nie meer as 5 peule op nie. Ek het mense van buurplase gevra of dit al voorheen gebeur het. Die wat al 40 jaar hier boer, beweer dat dit die eerste keer is wat dit gebeur. Bye bedrywighede was normaal gewees en ons het ook byekorwe in die omgewing. Wat kan die oorsaak hiervan wees?

Antwoord

Oor ‘n verklaring vir dié vreemde verskynsel kan ek maar net spekuleer.

Kameeldorings blom in die vroeë lente, gewoonlik in September. Die blomperiode van individuele bome is relatief kort, maar dit is veral gedurende die week of twee wat ‘n  boom in blom is dat abnormale toestande vrugset nadelig kan beïnvloed.

Dit is byvoorbeeld bekend dat ‘n skielike kwaai koue tydens of net na die blomperiode kan lei tot aansienlik minder peule aan die bome. Sommige boere beweer ook dat buitengewoon swaar reëns tydens die blomtyd vrugset kan benadeel.

Van ons inheemse bome volg ‘n patroon waar ‘n seisoen met oorvloedige vrugte afwissel met verskeie seisoene van veel minder vrugte. Die spesifieke vruggedrag van die bome in enige bepaalde seisoen is dieselfde oor ‘n groot gebied. Hierdie gesinchroniseerde gedrag kan nie aan enige ooglopende klimaatsveranderlikes gekoppel word nie en die onderliggende meganisme bly ‘n raaisel.

Die verskynsel is egter goed bekend en staan bekend as maskaling (masting in Engels). ‘n Buitengewoon goeie vrugseisoen word byna sonder uitsondering gevolg deur verskeie jare met opvallend minder vrugte, veral in die eerste daaropvolgende jaar. Daar word gespekuleer dat maskaling ten doel het om tydens swak vrugjare die bevolkings van insekte wat die bome se saad parasiteer drasties te laat afneem. Wanneer die bome dan skielik weer oorvloedig vrugte vorm (sogenaamd maskaleer), dan is daar relatief min saadvernietigende insekte en gevolglik ‘n beter kans vir saailinge om te vestig.

Na die beste van my wete is die blom- en vruggedrag van die kameeldoring nog nooit noukeurig oor verskeie jare ondersoek nie. Daar kan dus nie bevestig word dat maskaling wel by kameeldorings voorkom nie. Dit is egter iets waarna boere kan oplet.

Geskryf deur: professor Braam van Wyk, Departement Plantkunde, Universiteit van Pretoria.  (braam.vanwyk@gmail.com)

28 Junie 2014


Kommentaar

Een kommentaar op “Kameeldoring dra nie peule nie

  1. L Gouws
    L Gouws

    September 2013 het die Kameeldorings in die Molopo NR na ‘n droë jaar bloeisels gestoot, maar ‘n skielike koue (-11 in die nag op een plek) het gemaak dat die bome meeste van hul bloeisels, in sommige gevalle, al hul bloeisels laat val het.
    Vanjaar is die bome oortrek met peule. Dit het goed gereën van Februarie af en daar was nie so ‘n ysige koue tyd in die kritieke stadium met bloeiselvorming nie.
    Daar is ook vanjaar aansienlik minder wurms en goggas. Die bome lyk baie goed.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X