Vra vir Faffa

Kalwers vrek met ooginfeksie, neusuitloopsel en diarree

Vraag

 

Kan een van die kundige lede vir my uitsluitsel gee oor hierdie beessiekte?
Dit is 'n trop kalwers wat onlangs gespeen is. Hulle oë begin traan en hulle het ‘n geel neusuitloopsel. Hulle het temperatuur en verloor eetlus. So verswak hulle vinnig. Die oë gaan heel toe en vrot in die kassies, sodat daar later net 'n holte oorbly. Daar is ook ligte diarree. Hulle gaan nie vinnig dood nie. Diagnoses is wyd uiteenlopend by die veeartse, vanaf Slenkdalkoors, Snotsiekte tot BVD.
Georg

Antwoord

Ek sou graag meer inligting van George wou gehad het oor die geval:

Is daar blou- of swartwildebeeste in die omgewing van die kalwers? Indien wel, is die kanse dat die kalwers van snotsiekte gevrek het baie goed. Onthou daar is ook skaapgeassosieerde snotsiekte.
Mukosa siekte word ook veroorsaak deur die bees virus diarree virus en kan ook kliniese tekens soos deur George beskryf veroorsaaak. Is die beeste teen BVD ingeënt?
Oogletsels kan ook in Slenkdalkoors ontwikkel, maar is nie so algemeen as in Snotsiekte nie. Daar sal heelwaarskynlik ook ander uitbreke in die omgewing voorkom.
Besmetlike bees rinotrage?tis (IBR) mag ook ‘n oogontsteking, neusuitloopsel en diarree veroorsaak. Is die beeste teen IBR inge?nt? Vrektes agv van sekondêre infeksie bv. Pasteurella mag voorkom.
Runderpes het ook tot gevolg dat daar oog en neusuitloopsels is. Diere het sere in die bek en ‘n erge diarree. Ek vertrou dit is hier nie die geval nie, maar ‘n mens moet altyd hierop bedag wees.
Dit is uiters belangrik dat monsters van die kalwers deur ‘n veearts geneem word om ‘n diagnose te verkry om verdere vrektes te voorkom.
Die volgende antwoorde het reeds op Vra vir Faffa verskyn:
Om die antwoord oop te maak tik die opskrif tussen aanhalingstekens in die soekblokkie in.
 “Maak die regte diagnose!“
“Vrae oor Slenkdalkoors“
“Snotsiekte“
“Probleme met uitpeuloog?“
”Wat is BVD?”
 ”Die belang van beesvirus-diarree (BVD) in S.A.”
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant.
24 Augustus 2009

 

Jammer, Dokter, ek moes meer inligting gegee het. Die diere loop in die sentraal-ooste van Namibie. Daar is geen Wildebeeste waarvan ons weet, maar wel skape. BVD word nie as ‘n reel geent, omdat dit redelik onbekend is hier. Wat opval is dat net die kalwers siek geword het, nadat hulle van die ma’s geskuif is. Die koeie makeer niks. Van die ander siektes wat jy noem ken ons net die naam en ent nie daarteen nie. Daar was verskeie veeartse betrokke by die diagnoses. Ene het van "Rift Valley Fever" gepraat. Monsters is Onderstepoort toe, maar nog geen terugvoering. Twee van die kalwers is by die huis gehou. Hulle het meer as drie weke gesukkel voor hulle vrekgeskiet is. By snotsiekte gaan hulle binne dae dood. En by BVD? Iemand het ook van hondsdolheid gepraat – maar sy simptome is tog vir ons bekend, en lyk glad nie so nie.
Ingestuur deur Georg op 25 Augustus, 2009 – 15:45.
 
Antwoord
Na die geskiedenis wat George gestuur het, het ek dr. Dietmar Holm van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria gevra om sy mening te gee:

Jou DD (differensiaal lys, verskillende moontlikhede) lys lyk vir my reg, ‘n mens kan dalk lantanavergiftiging en die ander respiratoriese virusse (vernaam parainfluensa 3 (PI-3) ) byvoeg as moontlikhede.

Ek glo egter die diagnose in hierdie (alhoewel kort) beskrywing lê in
die epidemiologie:

Slegs speenkalwers, winter, almal na speen, infeksiesiekte vermoed, hoë
morbiditeit (insidens) en matige mortaliteit ("case fatality rate"). Dit
is ‘n baie tipiese epidemiologiese geskiedenis vir respiratoriese
siektekompleks (pasteurellose of longontsteking) en ek dink nie ‘n mens
moet eers na ander dinge kyk voordat dit nie uitgeklaar is nie. Die
vraag is egter waarom kom dit ewe skielik hierdie jaar voor en nie
voorheen nie. Die antwoord lê myns insiens sekerlik by die primêre
virusbesmetting wat hier ‘n rol gespeel het. Dit kan een van 4 wees,
alhoewel IBR (besmetlike beesrintrage?tis), BVD (beesvirusdiarree) en PI-3 baie meer algemeen as BRSV (bees respiratoriese sinsitiale virus infeksie) is. Daar moet
iewers in die kudde ‘n draer van een van die virusse rondloop en heel
waarskynlik is die draer in hierdie groep kalwers. Heel waarskynlik is
die draer ongelukkig ook al dood dus sal ons hom nie kan opspoor nie. Dit
is moeilik om te bespiegel wat die presiese rol van sekondêre bakteriële
infeksie hier is. Om die diagnose te probeer vasstel, sou ek eerstens
gepaarde serum vir serologie van die 4 virusse doen: in diere wat akuut
siek is en dan weer 3 weke later (in die wat hopelik herstel het).
Tweedens sou ek trageale spoelings doen en die bakterie probeer
identifiseer en antibiogramme doen.

‘n Mens sal ook moet gaan ondersoek instel na enige
bestuursveranderinge wat hiertoe kon lei of enige nuwe diere (beeste,
skape, wild ens.) wat ingebring is.

In die geval van snotsiekte, indien die vrektes onlangs (m.a.w. in die
winter) voorgekom het, dink ek snotsiekte is onwaarskynlik. Die
morbiditeit van snotsiekte is baie laer as die beskrywing en dit kom
gewoonlik eerder sporadies voor as in ‘n groot uitbreek soos hier
beskryf is. Die kliniese beskrywing klink egter nogal verdag en die
diagnose is eenvoudig en goedkoop, dus sou ek dit in elk geval laat
doen.

In die geval van Runderpes sou nie net die kalwers siek geword het nie,
maar die hele trop. Ek sou dit nie as ‘n oorsaak oorweeg nie.

Mukosasiekte (MD) se insidens is baie laag. Die rede is dat dit slegs in PI (permanente besmette diere) diere voorkom (waarvan die insidens reeds laag is in ‘n besmette kudde:
van 0.5 tot 5%) wanneer hulle boonop met die sitopatiese stam van
dieselfde serotipe van BVD besmet word. Dus is daar ‘n verskeidenheid
van toevallighede wat in dieselfde individu moet voorkom voordat dit MD
tot gevolg sal hê.

Die kliniese beskrywing is nie vir my tipies vir Slendalkoors (SDK) nie en buitendien
is dit die verkeerde tyd van die jaar. Ek sou dit nie sterk oorweeg nie. Indien vir SDK
getoets word, behoort vir bloutong ook getoets te word. Alhoewel ek dink
dis uiters onwaarskynlik, het sekere bloutong serotipes wat onlangs in
Europa voorgekom het, erger siekte in beeste as in skape veroorsaak!

Lantanavergiftiging kan beslis in speenkalwers voorkom en mortaliteit veroorsaak. Die rede is omdat hulle nog sterk ondersoekende gedrag toon, nie die plant ken nie en honger is! Kan nogal soortgelyke tekens soos deur Georg beskryf, veroorsaak alhoewel die beeste altyd na ‘n paar dae ikterus (geelsug) ontwikkel.

Hoop dit help.

Geskryf deur: dr Dietmar Holm, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (dietmar.holm@up.ac.za)
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X