Vra vir Faffa

Kalwerdifterie en longontsteking

Vraag

Ek het kalwers wat so om en by 2 maande oud is en wat oopbek asemhaal. Hulle verswak gou en gaan agteruit. Ek het  hulle gespuit en gedoseer, maar hulle vrek nog steeds.

Antwoord

Dit is baie moeilik om ‘n diagnose te maak sonder dat ’n deeglike kliniese ondersoek deur ’n veearts gedoen is. Heelwaarskynlik sal daar ook monsters geneem en na ‘n laboratorium weggestuur moet word om die organisme wat die siekte veroorsaak. te isoleer.

Een van die kieme wat kan veroorsaak dat kalwers oopbek asemhaal en vrek, is Fusobacterium necrophorum. Hierdie kiem veroorsaak kalwerdifterie en kom algemeen voor in kalwers wat in noue kontak met mekaar gehuisves word en met emmers gevoer word. Jong kalwers, vanaf ‘n paar weke tot ‘n paar maande oud, word veral aangetas. Faktore wat ‘n rol speel in die voorkoms van die siekte is swak higiëne, swak behuising, ontoereikende voeding, onderliggende siektes, kalwers wat naby mekaar gehuisves word in donker, klam, vuil kwartiere. Beserings in die mondholte kan ook ‘n rol speel.
Die kieme dring beskadigde slymvliese van die mond en keelholte binne en veroorsaak nekrose (dooie weefsel). Obstruksie van die boonste lugweë mag ontstaan. Letsels mag ook in die lugpyp, neusgange, slukderm en voormae ontstaan.
Kliniese tekens wat gesien word, word bepaal deur waar die letsels voorkom. Diere verloor aptyt, is lusteloos, spoegloop kom voor, slukbewegings kom voor en swelling van die wange en keel mag voorkom. Etterige neusuitloopsel kan voorkom en die dier haal moeilik asem en hoes. Hulle strek hulle nekke om beter te kan asemhaal met oop bekke. Dier vrek a.g.v. asemnood.
Raadpleeg u veearts om vir u die regte antibiotika voor te skryf en pas goeie higiëne toe.
Daar is ook ander agente (virusse en bakterieë) wat longontsteking kan veroorsaak en wat dan ook kliniese tekens soos swaar asemhaling tot gevolg kan hê.
Virusse wat longontsteking veroorsaak is:
Parainfluensa 3; Adenovirus-1,-2 en-3; rinovirus; bees respiratoriese sinsitiale virus; reovirus; IBR (besmetlike bees rinotrageïtis virus)
Bakterieë wat ook betrokke kan wees:
Chlamydophila spp.; Mycoplasma spp.; Pasteurella spp.; Mannheimia spp.; Arcanobacterium pyogenes; Streptococcus spp.; Bedsonia spp. en Actinobacillus actinoides.
Dit is belangrik dat monsters geneem word en ‘n antibiogram gedoen word om te bepaal watter antibiotika gebruik kan word om die infeksie te beheer.
‘n Goeie immuniseringsprogram moet gevolg word en koeie moet voor kalwing ingeënt word sodat die kalf deur teenliggame in die biesmelk beskerm kan word. Dit is dus uiters belangrik dat die kalf genoeg biesmelk binne 8 ure na kalwing inkry.
Hieronder is ’n lys van antwoorde oor kalwersiektes en ander belangrike sake wat reeds op Vra-vir-Faffa verskyn het: (tik die opskrif tussen aanhalingstekens in die soekblokkie in om die antwoord te verkry bv. ”Pasteurella”)
 
        Longontsteking in beeste: Verskuilde verliese en voorkoming
        Pasteurella
         Pasteurella en longontsteking: Dieselfde siekte?
         Entstof vir pasteurellose
         Longinfeksie by skape en beeste        
         Diarree by jong kalfies
         Wit maagwerkings by kalwers
         Salmonella-infeksies in kalwers en beeste
         Naelstringsiekte by kalwers
         Kalf met naeltjiebreuk
         Vrektes van kalwers
         Kalwers vrek op 3 maande oud
         Pasgebore kalfie sukkel om te groei
         Pasgebore kalf het spierspasmas
         Kalfies verlam in agterlyf
         Sweetsiekte by kalwers
         Kan katgriep kalwers raak?
         Kalf se gewrigte knak        
         Kalwers se hare val uit
         Kalwers vreet mekaar se hare
         Kalf sonder hare
         Oogsiektes
         Oogprobleme by kleinvee en beeste
         Beeste het seer oë
         Koeie en kalwers se oë traan
         Vers sien swak
         Kalf met seer ore en hoewe
         Biesmelk-vervanging
         Entstowwe vir beeste
          Bestuursriglyne vir melkbeeste
          Bestuursriglyne vir vleisbeeste      
          Bestuur dieregesondheid proaktief
          Kalwers grootmaak
          Ekstra inkomste: Maak kalwers groot
          Grootmaak van melkkalfies
          Voorkom kalwerverliese
          Die regte tyd om te speen
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartseny konsultant
14 Augustus 2009
Bronne:
Coetzer, J.A.W.en Tustin, R.C. 2004 Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press Southern Africa. ISBN 0 19 578202 X
Radostis, O.M., Gay, C.C., Hinchcliff, K.W. en Constable, P.D. 2007 Veterinary Medicine. Saunders.
ISBN 978-0-7020-2777-2

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X