Vra vir Faffa

Kalfies verlam in agterlyf

Vraag

'n Leser wil raad hê oor verlamming in sy kalwers se agterlywe en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Ek het kalwers wat op ‘n jong ouderdom verlam raak in hul agterlyf. Die siektetekens is baie soos beeste wat tulp gevreet het. Die siektetekens is eers baie gering, maar vererger stadig (omtrent 2 maande) totdat die kalf later nie meer kan opstaan nie. Behandeling met oksitetrasiklien en sulfas is oor periodes toegedien en geen verbetering is waargeneem nie. Die diere eet goed en lyk gesond. – Wilna (wilnaack @lantic.net)

Antwoord:
In dié geval is dit belangrik dat ‘n veearts die kalwers ondersoek. Die probleem mag in die skelet geleë wees en pyn veroorsaak met gevolglike lamheid. Die oorsaak kan ook in die senuweestelsel wees en swakheid wat soos lamheid lyk, veroorsaak

Dit is ook baie belangrik om te let op die presiese ouderdom wanneer die siektetekens begin wys. Baie jong kalwers wat in ‘n vuil area gebore is, mag absesse in die rugmurg kry wat swakheid in die agterlyf veroorsaak en erger word met verloop van tyd. Kieme soos Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes kan die liggaam op ‘n baie jong ouderdom deur die naelstring binnedring en absesse veroorsaak.

Ouer kalwers mag voer, wat nie genoeg kalsium en fosfaat bevat nie en swak beenstelsel tot gevolg het, ontvang. Hierdie kondisie sal ook met verloop van tyd vererger. Die kondisie kan ook veroorsaak word deur ‘n tekort aan sekere spoorelemente soos koper ("swayback") en mangaan wat seer gewrigte tot gevolg het en diere gaan lê.

Sekere gifplante op die weiding kan ook lamheid veroorsaak (bv. tulp) of gemufde kos bv. swamme wat op mielies voorkom (diplodiose) of die kalwers kan loodvergiftiging opdoen as hulle verf wat lood bevat van die muur aflek. Lamsiekte kom voor waar diere bene vreet of toegang tot hoendermis het sonder dat hulle teen lamsiekte ingeënt is.

Die enigste manier om bo alle twyfel vas te stel wat die oorsaak van die lamheid is, is om ‘n veearts te vra om die plaas te besoek om ‘n korrekte diagnose te maak.

Lees ook die volgende antwoorde:

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X