Vra vir Faffa

Kalf bloei dood na onthoring

Vraag

'n Leser vra raad vir een van sy kalfies wat doodgebloei het nadat sy onthoring is en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Ek het vandag n dooie kalfie gekry wat blykbaar doodgebloei het deur haar horingwortel. Sy was 12 dae gelede met ‘n gas-brander onthoring en was tot vanoggend toe heel gesond. Sy het saam met die ander kalfies gedrink en eet soos normaal, selfs vanoggend nog. Wat kan die oorsaak wees dat sy na 12 dae eers begin bloei het? – R. Pienaar (rapienaar@vodamail.co.za)

Antwoord:
Die kalfie is heel waarskynlik dood aan ‘n bakteriële infeksie wat onstaan het weens die onthoringsprosedure. Dié infeksie, wat begin het as ‘n sinusitis (ontsteking van die sinusholtes), het waarskynlik die brein geraak, en dít het die dood veroorsaak.

Alhoewel ‘n gasbrander ‘n steriele omgewing rondom die horing kan skep, is dit nog steeds moontlik dat bakterieë by die wond kan inkom, veral as die brander verkeerd gebruik word. Dit is belangrik om nie deur die vel te brand nie.

As mens ‘n wit kringsel brand is die metode korrek en ‘n infeksie sal waarskynlik nie intree nie. Die kalf is eers 12 dae later dood want daar is ‘n sekere tydperk wat die bakterieë benodig om hulle getalle en aktiwiteite (bv. gifstofproduksie) tot op dodelike vlakke te bring.

Die bloeding wat 12 dae later voorgekom het by die horingwortel, staan nie noodwendig in verband met die dood nie. Dit was waarskynlik ‘n besering wat apart veroorsaak is, bv. die kalf kon haar kop teen ‘n paal gestamp het. Teoreties is dit moontlik dat daar kroniese, of lang termyn, bloeding in die skedel was, maar onder normale omstandighede, as die kalfie doodgebloei het weens die onthoring, sou dit tydens die eerste dag gewees het.

Infeksie van die area, asook ‘n rofie wat afgebreek het, kon ook moontlik die laat bloeding veroorsaak het, maar dit is moeilik om hieroor te spekuleer. Doodbloei deur die bloedvate wat die horing voorsien, is nie ‘n bekende komplikasie van die onthoring prosedure nie aangesien daardie bloedvate relatief klein is en die bloeding gewoonlik stop voor die dood intree (en nie andersom nie).

 

  • Geskryf deur: Dr. Dietmar Holm BVSc, MSc, en mnr. W. J. Reisinger, veeartsenykundige student, Universiteit van Pretoria.

    4 Junie 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X