Vra vir Faffa

Johne se siekte: Naspeurbaarheid ‘n vereiste!

Vraag

Johne se siekte veroorsaak probleme vir baie boere. Wat kan hulle doen om saam die siekte te beveg? 'n Veearts gee raad.

Antwoord

Vraag:
Johne se siekte veroorsaak probleme vir baie boere. Wat kan ons doen om saam die siekte te beveg?

Antwoord:
Johne se siekte en die toekoms van skaapboerdery in Suid-Afrika
Johne-siekte word veroorsaak deur Mycobacterium avium paratuberculosis en kom voor in enige skaap- of beesras. Die verspreiding van Johne-geïnfesteerde skape oor Suid-Afrika is moeilik om te bepaal weens die lang inkubasieperiode (die tydperk wat verloop vandat die dier die skadelike organisme optel, totdat die dier kliniese tekens begin wys) asook die astronomiese kostes verbonde aan opnames. (Lees ook Antwoord 1838739: Het my skape Johne se siekte? op hierdie webwerf.)

Redes tot kommer

  • Dit is ‘n beheerde siekte volgens Wet 35 van 1984.
    Die staatsveearts moet verwittig word. Baie gevalle word egter nie aangemeld nie en dit maak die beheer van die siekte nog moeiliker. Indien daar ‘n bevestigde positiewe geval is, sal die plaas onder kwarantyn geplaas word en verdere beheermaatreëls ingestel word.
  • Die beheer van Johne-siekte is baie moeilik.
  • Die organisme is redelik gehard en kan vir maande oorleef in die omgewing as die kondisies gunstig is.
  • Erge produksie- en finansiële verliese.
    Lei tot stelselmatige gewigsverlies, afwisselende diarree en eventuele vermaering en vrektes.

    Van 1993 tot 2005 is altesaam 1 665 gevalle van Johne se siekte in Suid-Afrika aangemeld. Hiervan is 149 vrektes, 637 gedood en 879 oorlewendes. Uit die totaal van 1665 gevalle wat landwyd aangemeld was, was 14 beesgevalle.

    In die Westelike Provinsie was daar in dié tydperk 412 gevalle, waarvan 119 vrektes, 209 gedood en 84 oorlewendes.
    Finansiële verliese in die Westelike Provinsie:
    Verlies van 328 diere
    Gemiddelde uitslaggewig = 20kg
    Gemiddelde prys per kg = R30,00
    TOTALE VERLIES = R196 800

     

  • Maklike verspreiding van geïnfekteerde kudde na skoon kudde.
    Bakterieë word versprei deur middel van indirekte kontak, byvoorbeeld deur die inname van gekontamineerde weiding of water met mis van ‘n geïnfekteerde skaap.
  • Draers.
    Behandeling van geïnfekteerde skape kan lei tot draers (‘n draer is ‘n dier wat die siekte onderlede gehad het, herstel het en nou nie meer kliniese tekens wys nie, maar wel nog die siekte kan oordra na ander diere) vir ‘n tydperk van ongeveer 10 jaar. Draers dien dus as ‘n bron van infeksie vir ander skape.
  • Infeksie mag ongemerk wees.
    Lang inkubasieperiode van maande tot selfs jare. Kliniese tekens is ook nie-spesifiek en selfs nekropsie bevindinge (bevindinge op nadoodse ondersoek) kan maklik gemis word.
  • Diagnose.
    Toetse is imperfek.
  • Entstof verskaf nie 100% beskerming nie.
    Enige inenting lei tot ‘n normale verspreidingskurwe waar die meeste van die diere ‘n voldoende immuunreaksie toon, ‘n klein persentasie diere ‘n baie goeie immuunreaksie toon en ‘n klein persentasie ‘n swak immuunreaksie toon.

     

    Die diere wat ‘n swak immuunreaksie toon, sal dus nie beskerm wees teen die siekte waarteen daar ingeënt is nie.

  • Entstof is redelik duur
  • Entstof kan slegs onder die toesig en met ‘n voorskrif van ‘n staatsveearts gebruik word. Die rede hiervoor is dat diere wat ingeënt is, positief toets vir Johne-siekte. Indien die gebruik van die entstof dus nie gereguleer word nie, sal daar nie kan onderskei word tussen diere wat ingeënt is en diere wat werklik Johne-siekte het nie.
  • Die entstof mag slegs in geïnfekteerde kuddes gebruik word en diere wat ingeënt word, moet permanent geïdentifiseer word.

    Beheer van beheerde- en aanmeldbare siektes d .m.v. permanente identifikasie en naspeurbaarheid
    In verskeie lande is daar bevind dat naspeurbaarheid uiters belangrik is in die beheer van beheerde en aanmeldbare siektes. Toe daar in Kanada ‘n positiewe BSE (malkoeisiekte) geval was, het dit hul slegs drie weke geneem om al die diere waarmee die positiewe geval in aanraking gekom het, op te spoor d.m.v. hul naspeurbaarheidsisteem. Kanada is die enigste land wat hul EU status vir uitvoer van vleis teruggekry het nadat daar ‘n BSE positiewe geval was. In Australië maak naspeurbaarheid al vanaf begin 2006 ‘n deel uit van hul beheer van Johne-siekte. Naspeurbaarheid kan dus in samewerking met die ander huidige metodes vir die beheer van Johne-siekte in Suid-Afrika gebruik word om die beheer daarvan te verbeter. ‘n Naspeurbaarheidsisteem in Suid-Afrika sal dus ook help met die beheer van ander aanmeldbare en beheerde siektes.

    Die Intervet "ID Tags" in kombinasie met die "GMP Basic&TM; Patented Livestock Traceability Management Programme", wat gekoppel kan word met DNA, is die eerste stap na naspeurbaarheid in Suid-Afrika. Met hierdie stelsel kan elke dier vanaf geboorte uniek geïdentifiseer word en kudderekords op ‘n sentrale databasis gestoor word d.m.v. internet. Kuddebestuur sluit die hou van toetsresultate van aanmeldbare, beheerde en erosie siektes, met behulp van u veearts in.

     

  • Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom, Intervet

    Bronne:
    Bath G & de Wet J. 2000. Sheep and goat diseases. Tafelberg Publishers Limited, Cape Town.

    NSW Department of Primary Industries / Agriculture. NLIS Sheep & Goats. (2006). [Internet-artikel] Verkrygbaar vanaf http://www.agric.nsw.gov.au/reader/nlis-sheep-goats/sheep-goats-nlis.htm [soos op: 3 Julie 2007]

    NSW Department of Primary Industries / Agriculture. OJD: The Vaccine. [Internet artikel] Verkrygbaar vanaf http://www.agric.nsw.gov.au/reader/ojd-on-farm-mangement/2-ojd-vaccine.pdf [soos op: 3 Julie 2007]

    20 Junie 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X