Vra vir Faffa

Jack Russell hondjie bang vir goggavangerlig

Vraag

Ek het 'n Jack Russelltefie van ongeveer 2 jaar oud, (deel van ons groep van 4 Jack Russell honde). Sy is geneig tot senuagtigheid by tye (lei ook aan skeidingsangs - sy het gesien hoe een van ons ander honde doodgery is toe sy so 2 maande oud was en daarna was sy nie weer dieselfde nie...). Ek het onlangs 'n goggavangerlig aangeskaf om te help met insekte in die nag. Na die eerste keer wat ek die lig aangeskakel het, het dit die tefie geweldig begin ontstel, soveel so dat sy uit die erf gebreek het om weg te kom. Ek wil net graag uitvind of daar 'n manier is om haar gerus te stel met die gebruik van die lig (dit blyk die klapgeluid van die insekte te wees wat haar ontstel, alhoewel sy nie ontstel word deur geweerskote nie. Ek jag baie met hulle). Of moet ek maar ophou met die gebruik van die lig (wat weer ander komplikasies in die huis veroorsaak...). Wat ook van belang is, die honde is vertroud met die effek van elektriese heinings, so ek weet nie of dit ook kan bydra tot die probleem nie.

Antwoord

Die tefie het duidelik ‘n groot vrees vir die toestel wat goggas doodmaak.  Dit kan wees a.g.v. die klank alleenlik of as dit  klink soos die elektriese omheining mag sy dit dalk assosieer met die pyn van ‘n elektriese skok.  

 Ek sou voorstel dat die lig eers net op die grond neergesit word – laat sy daaraan ruik, sit ‘n paar lekker stukkies vleis of kaas op die toestel sodat sy dit met iets aangenaams assosieer.  Doen dit ‘n paar keer totdat sy heeltemaal gemaklik met die toestel self is.

 Die volgende stap is om haar aan die klank gewoond te kry.  Hier sou ek voorstel, dat dit steeds op die vloer gehou word indien moontlik (weet nie of dan so goed sal werk nie), maar vat haar ‘n hele entjie weg en laat iemand lekker met haar speel  en / of lekkernye voer terwyl die lig aangeskakel word.  Die geluid is dus iewers in die agtergrond terwyl sy met iets lekkers besig is.  As sy nie onmiddellik negatief reageer nie, kan mens haar ‘n klein bietjie nader laat kom.   Indien wel, is die geluid nog te naby en moet mens meer afstand tussen haar en die klank hê.  Sy moet dus toevallig die geluid hoor in die agtergrond, terwyl lekker dinge met haar gebeur.  Dit sal dalk oor ‘n tydperk in kort sessies gedoen moet word.  As sy dan mettertyd so naby die lig kom dat sy dit kan sien, behoort haar eerste reaksie positief te wees a.g.v. die aanvanklike kondisionering wat ‘n aangename assosiasie met die lig geskep het.  Dan behoort sy nie so bang te wees as sy kan sien waar die geluid vandaan  kom nie en ook  besef dat dit nie met pyn gepaard gaan nie.  Dan eers sou mens dit in sy normale plek hang, of selfs eers op ‘n tafel sit sodat sy baie geleidelik aan die finale posisie van die lig gewoond raak.  Dit is dus ‘n proses van sistematiese desensitisering wat moet plaasvind.

 Die geheim is om geduldig te wees en dit nie te vinnig te wil doen nie.  Anders sal die enigste oplossing wees om van die lig ontslae te raak.

Geskryf deur: dr. Quixi Sonntag, Dieregedragskundige, Edupet, www.edupet.co.za (quixi@mweb.co.za)

4 Oktober 2012 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X