Vra vir Faffa

Is kiesieblaar giftig vir vee?

Vraag

'n Kenner verskaf meer inligting oor kiesieblaar en of dit met krimpsiekte verbind kan word.

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet of kiesieblaar giftig is? In die winter neem hulle ‘n gedeelte hier oor en die diere is nogal mal daaroor. – Janita van Zyl (janitavz@gmail.com)

Antwoord:
Malva parviflora (kiesieblaar) bevat thiaminase wat, soos adelaarsvaring, breinskade kan veroorsaak. Die plant veroorsaak baie selde vergiftiging sodat dit ‘n gifplant slegs van akademiese belang is. Kiesieblaar het niks met krimpsiekte te doen nie.

Krimpsiekte word veroorsaak deur die kandelaarsbos of krimpsiektebos (Tylecodon wallichi); klipnenta of nenta (Tylecodon ventricosus); rooisuikerboom (Tylecodon grandiflorus); hondeoor-plakkie, konterie, plakkie of varkiesblaar (Cotyledon orbiculata). Plakkies kom algemeen in rotstuine voor en as diere baie van hierdie plante vreet, kom vinnige vrektes voor aangesien hierdie plante ‘n hartgif soos tulpvergiftiging is. Hierdie plante kom veral in die droeër dele van die Wes Kaap en Namakwaland voor.

Krimpsiekte is ‘n chroniese siekte en is ‘n verlammingsindroom. Diere sak uit as hulle gejaag word, het ‘n krom rug en krom nek. Die laaste fase van die siekte kan met lamsiekte verwar word.

Vleis van diere wat krimpsiekte gehad het moet nie geëet word nie want die mens kan ook aangetas word.

Krimpsiekte moet nie met krampsiekte verwar word nie. Krampsiekte word deur klimop of bobbejaantou (Cynanchum spp) veroorsaak. Plante groei in kusstreke. Eerste fase van die siekte lyk soos klem-in-die-kaak (diere skop styf) waarna diere verlam voorkom.

In hierdie stadium is daar nog nie ‘n behandeling vir bogenoemde siektes nie.

 

  • Geskryf deur prof. Neil Fourie, Intervet.

    Bron: Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. 2005 Kellerman T S, Coetzer J A W, Naude T W and Botha C J. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4.

    16 April 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X