Vra vir Faffa

Invloed van ooi- en lamgedrag op lamoorlewing

Vraag

Wat is die invloed van ooi- en lamgedrag op lamoorlewing?

Antwoord

 

INVLOED VAN OOI- EN LAMGEDRAG OP LAMOORLEWING
 
 

Al word ‘n hoë vlak van bestuur en voeding toegepas, kom ‘n sekere persentasie lamvrektes nog steeds voor (Alexander, 1984). Lamoorlewing is grootliks afhanklik van ‘n eksklusiewe band wat kort na geboorte tussen die ooi en haar lam(mers) gevorm word (Alexander, 1988; Lindsay et al., 1990) terwyl die vermoë van lammers om hulle moeders te identifiseer en by hulle te bly ook ‘n belangrike rol speel (Cloete et al., 2005). Seleksie vir grootmaakvermoë kan gebruik word as ‘n metode om lamoorlewing asook algehele kuddeproduktiwiteit te verbeter (Lindsay et al., 1990; Haughey, 1991).

 

 

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
In ekstensiewe gebiede word ooie as swak moeders bestempel indien hulle vervreemd raak van hulle lammers (lammers weggooi of van hulle geskei word) en/of geen melk of baie min melk vir hulle lam(mers) produseer. Pogings wat aangewend word om die reproduksie-prestasie van ooie te verbeter, veral deur die verhoging van die tweelingpersentasie, is waardeloos indien ‘n hoë persentasie van die tweelinge vrek as gevolg van genoemde faktore. Verskeie faktore kan vir lamvrektes verantwoordelik wees waarvan die gedrag van beide die ooi en die lam ‘n baie belangrike oorsaak kan wees. Swak moederlike gedrag van veral jongooie wat vir die eerste keer lam asook sekere rasse is dikwels verantwoordelik vir die mislukking van die ooi en lam om kort na geboorte ‘n sterk band te vorm. Australiese navorsing toon dat Merino-ooie met meerlinge ietwat stadiger is om die grootte van hulle werpsel gedurende die eerste dag na hulle geboorte te herken. Dit gee dikwels aanleiding tot tydelike of permanente skeiding van die ooi en een of meer van haar lammers en gevolglike vrektes van hierdie weeslammers.
 
Tipies van ‘n droë of dragtige ooi is dat hulle (i) ‘n dier met ‘n tropinstink is wat angstig raak wanneer hulle van die trop geïsoleer word; (ii) maklik verskrik raak deur die teenwoordigheid van mense en honde; (iii) afsydig en selfs aggressief teenoor ‘n lam is en (iv) ‘n hoë stapaktiwiteit het. Daarteenoor sal ‘n ooi net voor lam (i) neig om haar van die trop af te sonder; (ii) haar rondbeweging verminder en ‘n plek soek waar sy geboorte gaan skenk en ‘n tydperk met haar lam(mers) gaan deurbring; (iii) minder verskrik wees wanneer ‘n mens of ‘n hond haar nader; (iv) meer aangetrokke tot ‘n pasgebore lam voel en (v) ‘n sterk en selektiewe band met haar lam(mers) vorm. Hierdie artikel fokus veral op die navorsing wat Nowak (1996) in Australië en Frankryk gedoen het oor die rol van ooi- en lamgedrag in lamoorlewing.
 
Belang van die tyd spandeer op die geboorteplek
 
Die tydperk wat ooie op die geboorteplek spandeer, verskil tussen rasse terwyl dit binne rasse varieer op grond van aantal kere gelam en die grootte van die werpsel. Die voorkoms van skeiding tussen ‘n ooi en een van haar lammers gedurende die eerste dag na geboorte word beïnvloed deur die tydperk wat die ooi binne 20 m van die geboorteplek deurbring. Hierdie tydperk is van minder belang in ooie met enkelinge, maar dit is kritiek vir die oorlewing van tweelinge. Die skeiding neem toe soos die tydperk wat op die geboorteplek spandeer word, afneem. Ooie wat onderskeidelik minder as 1 uur, 1 tot 2 uur, 2 tot 3 uur, 3 tot 4 uur en meer as 4 uur op die geboorteplek gebly het, is in ongeveer 75 %, 62 %, 38 %, 15 % en 5 % van die gevalle permanent van een of beide lammers geskei. Ooie met meerlinge moet vir ten minste ses ure naby die geboorteplek bly om die voorkoms van skeiding van een van die tweelinge te verminder. Waarnemings toon egter dat Merino-ooie selde langer as 4 uur op die geboorteplek bly. Gevolglik kan tot 40 – 50 % van tweelinge van hulle moeders, binne die eerste 48 uur na geboorte, geskei word omdat hulle haar nie volg as sy wegstap nie (Nowak, 1996). Die gebruik van lamhokke kan in die verband ‘n baie belangrike bydrae lewer om suksesvolle binding tussen die ooi en haar lammers te verseker waardeur lamvrektes tot minder as 5 % verminder kan word.
 
‘n Ondersoek is in Australië gedoen na die invloed van die tyd spandeer op die geboorteplek op moederlike gedrag en lamoorlewing. Groep 1-ooie is na die geboorte van die tweede lam op die geboorteplek vir 6 ure in ‘n hokkie geplaas; Groep 2-ooie is 30 minute na die tweede lam se geboorte 25 m van die oorspronklike geboorteplek gejaag; Groep 3-ooie is 30 minute na die tweede lam se geboorte 25 m van die geboorteplek na ‘n nuwe plek gejaag en is 30 minute later na die oorspronklike geboorteplek teruggejaag en Groep 4-ooie (kontrole) het ongesteurd gelam. Die gemiddelde lamvrektes van die onderskeie groepe was 3 %, 18 %, 23 % en 12 % (Putu et al., 1988a, b). Die ooie in die hokkies (Groep 1) het die laagste voorkoms van skeiding en gevolglik die hoogste oorlewing gehad terwyl die ooie wat aangejaag (Groepe 2 & 3) is, die hoogste voorkoms van skeiding tussen die ooie en hulle lammers en ook die laagste oorlewing gehad het. Verdere navorsing toon dat die oorspronklike geboorteplek nie die kritieke faktor is nie, want waar ooie 25 m vanaf hulle geboorteplek gejaag is en toe daar in ‘n hokkie geplaas is, is die vorming van die ooi-lamband en die oorlewing bevorder. Hierdie navorsing beklemtoon die belangrikheid dat ‘n ooi en haar lam(mers) die eerste 6 uur na geboorte ongesteurd gelaat moet word om ‘n ooi-lamband te vorm, veral in die geval van tweelinge, omdat sy tyd nodig het om met beide te bind en hulle te laat suip waardeur lamoorlewing bevorder word. Vir hierdie rede is dit belangrik dat ooie wat met tweelinge dragtig is, apart lam en dat alle moontlike maatreëls getref word om deeglike en volledige binding tussen ‘n ooi en haar tweeling te verseker. Navorsers is nog nie seker of Merino-ooie langer as ander rasse neem om met meer as een lam te bind nie en/of die band swakker in Merino’s is nie. Die vroeë interaksie wat op die geboorteplek tussen die ooi en haar lam plaasvind, sal ook die motivering van die lam om sy moeder te volg, bepaal (Nowak, 1996).
 
Die vorming van die ooi-lamband en die oorlewing van lammers word gemaksimeer deur bestuurspraktyke wat die tyd wat die ooi en haar lam(mers) op die geboorteplek bly, verleng. Die oorlewing van tweelinglammers kan merkbaar verhoog word indien die ooi met haar lammers minstens ses ure op die geboorteplek bly. Volgens Murphy et al. (1996) is dit nie die feit dat die ooi vir die eerste ses ure na lam op die geboorteplek is nie, maar dat dat sy en haar lammers almal saam bymekaar is.
 
Ooie wat in ‘n goeie kondisie (3 tot 3.5 kondisiepunt) met lam is en ook byvoeding gedurende laatdragtigheid ontvang het, is meer geneig om op die geboorteplek te bly om met hulle lam(mers) te bind as skraal (2 tot 2.5 kondisietelling) ooie. Indien die ooie op volop, goeie gehalte weidings lam, voldoende byvoeding ontvang en die lamkampe voldoende skuiling en skaduwee het, sal die ooie vir ‘n langer periode op die geboorteplek bly (Pollard & Littlejohn, 1999). Vermy toestande en faktore wat veroorsaak dat die ooi gou na lam van haar lamplek padgee omdat dit lamvrektes in die hand werk. Dit gebeur met swak verspreiding van watersuipings in lamkampe wat ooie noodsaak om kort na lam die geboorteplek te verlaat op soek na drinkwater. Net so word ooie verplig om gou weg van hulle lamplek te wei as hulle op yl, swak weidings lam. Ooie wat aanvulling op sulke weidings ontvang, kan baie maklik van hulle lamplekke gelok word deur die voertuig wat die aanvullings bring. Oorsese sowel as plaaslike waarnemings toon dat lekblokke [bv. Voermol Maxiblok (V17424)] minder versteuring veroorsaak en dus die risiko van ooie wat lammers weggooi of van hulle lammers geskei word, aansienlik verminder. Die voorwaardes is dat nuwe blokke uitgesit word voordat die oues heeltemal opgevreet is, die proses van uitsit van blokke rustig en kalm geskied en dat die blokke verspreid in die lamkamp uitgesit word. Gedurende lamtyd moet hoogstens 15 ooie per lekblok toegeken word.
 
‘n Ooi leer om haar lam te leer ken na 30 tot 120 minute van kontak en sal gewoonlik daarna vreemde lammers wegstamp of van hulle wegstap indien hulle probeer om te suip (Smith et al., 1966; Poindron & Le Neindre, 1980; Nowak et al., 1989) terwyl lammers eers ongeveer 12 tot 24 uur na geboorte hulle moeders tussen ander ooie kan uitken (Nowak et al., 1989). Om volledige binding tussen die ooi en haar lam(mers) te laat geskied, neem ongeveer 48 tot 60 uur. Die vorming van die ooi-lamband ontwikkel vinnig gedurende die eerste drie dae na geboorte (Poindron et al., 1996). Waar dus van lamhokke gebuik gemaak word, moet die ooie met die lammers minstens drie dae in die lamhokke bly. Navorsers is dit eens dat beide die ooi en die lam ‘n definitiewe en belangrike rol speel om die ooi-lamband te vorm.
 
Belang van die gedrag van die lam
 
Waar die ooi binne ‘n paar uur (½ – 2 uur) van kontak met haar lam(mers) leer om hulle te herken, moet die pasgebore lam nie as ‘n passiewe vennoot beskou word nie. Die pasgebore lam speel ook ‘n belangrike rol in hierdie bindingsaksie. Die meeste lammers kan binne 12 tot 24 uur na geboorte hulle moeders geredelik identifiseer, maar net op ‘n kort afstand (nader as 50 cm). Op drie dae ouderdom kan lammers hulle moeders op ‘n afstand van verskeie meters identifiseer (Nowak, 1990).
 
Die genotipe en werpselgrootte kan ook die gedrag van lammers beïnvloed. Twaalfuur oue Merino-kruisraslammers herken hulle Merino-moeders beter as wat suiwer Merino-lammers hulle moeders herken (Nowak & Lindsay, 1990). Stevens et al. (1984) is van mening dat die hoër lewenskragtigheid van kruisraslammers ‘n meer merkbare waaksaamheid as suiwer Merinolammers reflekteer en is daarom beter instaat om hulle moeders gedurende die eerste 24 uur na lam te volg. Suiwer Merinolammers herken eers hulle moeders teen 24 uur na geboorte en op hierdie stadium het enkelinge ‘n beter vermoë om hulle moeders te herken as tweelinge. Op drie dae ouderdom herken enkelinge hulle moeders nog steeds beter as tweelinge wat weereens bevestig dat daar spesiale aandag aan ooie met tweelinge geskenk moet word om maksimum oorlewing te verseker (Pollar, 1992; Stevens et al., 1984).
 
Merino-ooie misluk dikwels om die eerste twee dae na geboorte by hul tweelinglammers te bly weens permanente skeiding van een of beide van haar lammers. Verskeie studies toon dat die vertraagde herkenning van die moederooi deur haar tweelinglammers gedeeltelik vir hierdie skeiding verantwoordelik is. Australiese navorsing toon dat lammers wat die eerste sewe dae na geboorte oorleef het, beter daartoe in staat was om hulle moeders op 12 uur na geboorte te herken as dié wat gedurende die eerste 7 dae gevrek het. Dit is verder vasgestel dat die energie wat die lam verbruik om die ooi te volg so laag is dat dit onwaarskynlik is dat lammers van uitputting sal vrek indien hulle die ooi oor lang afstande volg (Nowak, 1996). In navorsingsproewe is dit aangetoon dat lammers met superieure vermoë om hulle moeders te herken, hulle moeders beter volg as die wat ‘n swak herkenningsvermoë het (Oppong-Annane, 1991).
 
Ooie (H-lynooie) wat geselekteer is vir meerlinggrootmaakvermoë (d.i. ooie wat meerlinge suksesvol speen) se lammers is meer geneig om teenaan die voorbene of midsy te volg terwyl die lammers van die L-lynooie (wat teen meerlinggrootmaakvermoë geselekteer is) se lammers meer geneig was om langsaan die agterbene te volg of om agter die ooi aan te loop. Eersgenoemde lyn se lammers was meer lewenskragtig en aktief terwyl hulle ook meer geblêr het asook gouer na geboorte opgestaan en gesuip het, wat alles bygedra het tot beter tweelinglamoorlewing (72 % vs. 53 %). In ‘n ondersoek waar ooie van hulle dagoud lammers geskei is, het die H-lynooie hulle lammers baie gouer gevind en met hulle herenig as die L-lynooie. Dit dui op verbeterde moedereienskappe of -sorg wat deur seleksie bewerkstellig is (Cloete, et al., 2005).
 
Vasstelling van die faktore wat die ooi-lambandvorming bevorder, kan ‘n waardevolle bydrae lewer om lamoorlewing te verhoog. Die vestiging van ‘n vroeë herkening van die moeder deur haar lam(mers) is van lewensbelang vir die oorlewing van die lam. Die twee faktore wat ‘n sleutelrol speel in die vestiging van ‘n band met die ooi, is die sukses van die eerste suip-pogings en vokale kommunikasie deur te blêr. Dit blyk dat die inneem van voldoende biesmelk (kolostrum) deur die lam, so gou as moontlik na geboorte, die vorming van ‘n band met die ooi bevorder. Navorsing toon dat die vorming van ‘n band met die ooi vertraag word, al word die lam net vir die eerste twee uur na geboorte verhoed om te suip (Nowak, 1994). Inmenging van mense en/of ander ooie voordat die lam suip, kan veroorsaak dat die ooi binne drie uur belangstelling in die lam verloor (Cottle, 1987). Indien die lam nie binne die eerste drie uur suip nie, neem sy speensoekaktiwiteit af asook die ooi se belangstelling in die lam (Cottle, 1987; Holst, 1997). Speensoekaktiwiteit van lammers word ook verlaag deur geboortebeserings (Cottle, 1987), lang geboortes (geel lammers) en ooie wat domsiekte en melkkoors het asook koue weer wat lammers hulle suiprefleks laat verloor (Seymour, 1998).
 
Waar lammers die eerste ses uur na geboorte verhinder is om te suip, kon hulle 24 uur na geboorte nie hulle moeders identifiseer nie, wat die belangrikheid bevestig van die gebruik van ‘n lamstelsel wat die lam alle kanse bied om so gou as moontlik te suip om ‘n sterk ooi-lamband te vorm, waardeur lamoorlewing bevorder word. Navorsing toon dat ‘n lam wat die eerste ses uur na geboorte in totaal 100 ml biesmelk met vier suippogings ingeneem het, dit as ‘n voldoende “beloning” beskou om met die spesifieke ooi te bind. Dit wil voorkom asof die inname van biesmelk ‘n meganiese stimulering veroorsaak deurdat die maag opswel wat dan waarskynlik senuwees prikkel waardeur die lam dan ‘n band met die ooi ontwikkel. Dit wil voorkom of die hitte-gevoelstimuli (bv. lek, nabyheid van die moeder) die eerste twee tot drie uur na die geboorte van die lam nie vir die lam voldoende is vir die ontwikkeling van ‘n voorkeur verhouding met sy moeder (d.i. ooi- lamband) nie en dat die teenwoordigheid van biesmelk in die maagdermkanaal gedurende die eerste ses uur na geboorte noodsaaklik is (Goursaud & Nowak, 1999).
 
Pasgebore lammers speel ‘n aktiewe rol om binding met die ooi te bewerkstellig. Bok-lammers kan byvoorbeeld binne 48 uur na geboorte hulle moeders herken. Kruislammers het hulle Merino-moeders so vroeg as 12 uur na geboorte tussen vreemde ooie uitgeken terwyl suiwer Merinolammers dit eers van ongeveer 24 uur kon regkry. Teen 24 uur na geboorte was enkelinglammers beter daartoe in staat om hulle moeders uit te ken as tweelinge. Tweelinglammers is baie meer geneig om van hulle moeders geskei te word as enkelinge (Alexander et al., 1983; Nowak et al., 1989). Meerlinglammers word vroëer gebore omdat ooie wat geboorte skenk aan meerlinge ‘n korter dragtigheidsperiode het, kleiner is met geboorte, minder lewenskragtig is en makliker geskei raak van hulle moeders. Faktore wat bydra tot vertraging en/of swakker vorming van ‘n ooi-lamband tussen ‘n ooi en haar tweelinglammers, is dat tweelinge minder moederlike stimulering ontvang omdat die ooi haar aandag tussen die lammers moet verdeel en dat die teenwoordigheid van nog ‘n lam ‘n tweelinglam se vermoë om aan hulle moeder te bind, aanvanklik vertraag of belemmer (Nowak et al., 1989). Uit voorafgaande is dit duidelik dat ooie met tweelinge spesiale versorging nodig het.
 
Belang van die omgewingstoestande rondom lamtyd
 
Ooie wat swak voeding gedurende laatdragtigheid ontvang, openbaar swak moedereienskappe omdat hulle meer geneig is om hulle lammers “weg te gooi” omdat hulle geen of baie min abnormale dik en taai biesmelk die eerste ongeveer 18 uur na geboorte produseer. Hoe minder en hoe taaier die bies is, hoe groter is die kans dat een van ‘n tweeling kan vrek (Holst et al., 1996). Navorsing toon dat die hoogste lamoorlewing geskied waar ooie die laaste maand voor lam byvoeding ontvang het (Nowak, 1996). Volgens Robinson (1983) is deurvloeiproteïen die voedingstof, veral waar laatdragtige ooie ‘n energietekort ervaar, wat die grootste invloed op die lewensvatbaarheid van die pasgebore lam het. Strategiese byvoeding van lekke of volledige rantsoene, wat baie hoog is in beide deurvloeiproteïen en energie asook sekere minerale, gedurende laatdragtigheid en lamtyd verhoog nie net die geboortemassa van die lam(mers) en verbeter die kondisie van die ooi nie, maar verhoog die biesmelkproduksie en die kwaliteit daarvan terwyl dit ook die moederlike gedrag van die ooi verbeter waardeur lamoorlewing bevorder word (Nowak, 1996). Lammers wat met geboorte ‘n hoë lewenskragtigheid het, het ‘n hoër oorlewing (88 vs. 62 %) as dié wat ‘n lae lewenskragtigheid het (Murphy & Lindsay, 1996). Navorsing toon dat die voorsiening van hoë vlakke van deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie die geboorteproses vergemaklik en versnel waardeur die lewenskragtigheid van lammers met geboorte en gevolglik ook oorlewing verhoog word terwyl die voer van hoë vlakke van ureum en/of grane dit verlaag. In die verband is aangetoon dat die verskaffing van deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie lamoorlewing met tot 15 – 50 % verhoog (McMeniman et al., 1982; Hinch et al., 1996).
 
(1) Invloed van voeding op biesmelkproduksie
 
Dit is algemeen bekend dat die voeding gedurende dragtigheid verband hou met die aanvang van laktasie (Nowak, 1996). Navorsers in Engeland het aangetoon dat die voer van ‘n lae proteïenrantsoen gedurende laatdragtigheid die ontwikkeling van die uier en melkproduksie onderdruk, met ‘n gepaardgaande toename in lamvrektes van beide enkelinge en tweelinge. In hierdie verband het oorsese navorsers gevind dat swak voeding gedurende laatdragtigheid die aanvang van laktasie gedurende die eerste paar dae na lam vertraag (McCane & Alexander, 1959; Treacher, 1970). Mellor & Murray (1985a, b) vind dat ondervoeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid uierontwikkeling, aansameling van biesmelk in die uier voor lam en biesmelkproduksie gedurende die eerste 18 uur na lam onderdruk. Lammers van ooie wat ‘n hoë lekinname gedurende laatdragtigheid gehad het, het 27 % beter gegroei (248 vs. 196 g/lam/dag) as dié wie se moeders ‘n lae lekinname gehad het (Moore, 1996). Navorsers by die Grootfontein Navorsinginstituut het gevind dat die ooie wat ‘n hoë deurvloeiproteïenlek gedurende laatdragtigheid en laktasie ontvang het, 31 % (1 352 vs. 1 034 ml/ooi) meer melk geproduseer het (Hoon et al., 2000).
 
Die beskikbaarheid van voldoende biesmelk onmiddellik na die geboorte van ‘n lam is van lewensbelang om te oorleef veral in die geval van meerlinglammers. Australiese navorsers vind dat onmiddellik na lam, het ooie met tweelinge ongeveer die helfte van die hoeveelheid biesmelk per kilogram lam geboortemassa as ooie met enkelinge (Hall et al., 1992). Op goeie gehalte groen hawerweiding het ongeveer 30 % van Merino-ooie in ‘n ondersoek nie voldoende biesmelk vir tweelinglammers gehad nie terwyl 10 % van die ooie nie voldoende melk vir enkelinge geproduseer het nie. Ongeveer 20 % van al die ooie in hierdie ondersoek het geen waarneembare melkafskeiding die dag voor lam gehad nie terwyl 5 % van hierdie ooie geen biesmelk een uur na lam gehad het nie. Onvoldoende biesmelk kan lamoorlewing beïnvloed omdat die hoofenergiebron in die vorm van vet en melksuiker (laktose) is terwyl dit die enigste bron van immunoglobuliene (teëliggaampies teen siekte) en water vir die lam is (Nowak, 1996). Boonop is die aanvanklike suigaksie van die lam belangrik in die vestiging van ‘n band met die moeder (Nowak et al., 1994) en die geassosieerde vrystelling van oksitosienhormoon omdat dit die ooi se moederlike gedrag stimuleer (Keverne, 1988).
 
Om hoë melkproduksie en gevolglik hoë lamgroei te verseker, moet byvoeding nie onmiddellik gestaak word sodra die ooie gelam het en hulle dan na groenweiding oorgeplaas word nie. Skielike staking van hoë energie- en deurvloeiproteïenbyvoeding kan nie net die melkproduksie binne twee dae laat val nie, maar kan ook tot melkkoors aanleiding gee. Dikwels is die groenweiding baie sappig, wat tot lae voedingstofinname lei en gevolglik nie in staat is om ‘n hoë melkproduksie te onderhou nie. Hierdie tipe weiding het ‘n tekort aan deurvloeiproteïen omdat tot 85 % van die weidingsproteïen in die grootpens van die skaap afgebreek word (Corbett, 1987) terwyl dit ook ‘n ernstige tekort aan energie vir lakterende ooie, veral die wat tweelinge soog, het. Gevolglik moet daar met byvoeding op groenweiding voortgegaan word tot ten minste vier weke na lam. Daarna kan, mits daar voldoende goeie gehalte groenweiding beskikbaar is, die byvoeding geleidelik oor die volgende drie tot vier weke uitgefaseer word deur die voedingspeil weekliks te verminder.  Dit geld vir beide gevalle waar lek of volvoere gebruik word. In die geval van ooie met tweelinge is dit hoogs aan te beveel om vir ten minste die eerste agt weke na lam met byvoeding voort te gaan waarna dit oor die volgende vier weke geleidelik uitgefaseer kan word, mits daar voldoende goeie gehalte groenweiding beskikbaar is. Dit is ook hoogs aan te beveel om minstens die tweelinglammers vanaf ongeveer 14 dae ouderdom tot ongeveer 14 dae na speen kruipvoer [150 kg Voermol SS 200 (V8592) + 150 kg Voermol Procon 33 (V12701) + 80 kg Voermol melassemeel (V1995) + 625 kg mieliemeel of heel garspitte] te gee.
 
Die Maxiwollekreeks [Maxiwolkonsentraat (V4985), Maxiwol Produksiekorrels (V15415), Maxiwol Readymix (V7815) en Maxiblok (V17424)] is superieure aanvullings wat hoë vlakke van proteïen, deurvloeiproteïen, energie, makrominerale, spoorelemente en vitamines bevat. Dit is spesifiek ontwikkel vir kleinvee met ‘n hoë proteïenbehoefte soos laatdragtige en lakterende ooie. Die proteïen in die produkte is gedeeltelik in ‘n formaat wat maklik deur die mikro-organismes (rumen degradeerbare proteïen) en die res in ‘n formaat wat direk deur die ooie (deurvloeiproteïen) benut kan word. Die deurvloeiproteïen in Maxiwolkonsentraat is ‘n spesifieke kombinasie van minstens vier hoëgraadse deurvloeiproteïenbronne om aminosuurbalans en proteïenbenutting te optimiseer. In hierdie verband beveel Klopfenstein et al. (1985) aan dat nie meer as 60 % van die totale deurvloeiproteïen van een grondstof afkomstig is nie.
 
(2) Invloed van voeding op aanvang van biesmelkafskeiding
 
Hoewel ongeveer 70 % van die uierontwikkeling gedurende die laaste vier weke voor lam plaasvind, begin vinnige aansameling van biesmelk ‘n paar dae voor lam plaasvind (Nowak, 1996). Mellor en Murray (1986) het gevind dat, indien ooie op hoë voedingspeil vyf tot 10 dae voor lam geplaas word, biesmelkproduksie met 30 % verhoog. Waar ooie volop sappige aangeplante weiding bewei het, het byvoeding vir die laaste sewe dae voor lam die melkproduksie (538 vs. 250 ml) een uur na lam meer as verdubbel (McNeill & Murphy, 1990). Australiese navorsers vind dat byvoeding 15 dae voor lam ‘n groter verbetering in melkproduksie van ooie met tweelinge as dié met enkelinge teweegbring en dat die hoogste biesmelkproduksie in eersgenoemde plaasvind indien hulle hoë deurvloeiproteïenbyvoeding ontvang (Hall,  et al. 1992). Hierdie navorsers kom tot die gevolgtrekking dat strategiese byvoeding gedurende laatdragtigheid die kanse dat die lam voldoende biesmelk kry, sal vergroot en sodoende meehelp om ‘n sterk ooi-lamband te vorm, waardeur lamoorlewing verhoog word.
 
(3) Invloed van voeding op moederlike gedrag
 
Ernstige ondervoeding gedurende dragtigheid onderdruk moederlike gedrag en verhoog lamvrektes van beide enkeling- en meerlinglammers. Putu et al. (1988b) het gedemonstreer dat die voorsiening van byvoeding aan laatdragtige ooie, wanneer die weiding skaars was, moederlike gedrag en lamoorlewing verbeter het. Die proporsie ooie met enkelinge sowel as tweelinge wat voldoende moederlike sorg (gedrag) geopenbaar het, het toegeneem as gevolg van byvoeding en hulle het ook langer op die geboorteplek gebly. Die gemiddelde lamvrektes van die ooie wat byvoeding ontvang het, het by beide die enkelinge (2 % vs. 6 %) en die tweelinge (15 % vs. 33 %) afgeneem in vergelyking met die ooie wat geen byvoeding ontvang het nie. ‘n Ondersoek wat met Merino-ooie by Grootfontein Navorsinginstituut op natuurlike veld uitgevoer is, het getoon dat die gemiddelde lamvrektes van die kudde wat geen byvoeding ontvang het nie 17.5 % was teenoor die 12.2 % van die ooie wat ‘n hoë deurvloei-proteïenlek gedurende laatdragtigheid en laktasie ontvang het (Hoon et al., 2000). Navorsing toon dat goed gevoerde ooie of waar volop goeie gehalte weiding beskikbaar is, beter moedereienskappe openbaar en beter na hulle pasgebore lammers omsien en ook nader aan hulle lammers die eerste paar uur na geboorte bly as ondervoede ooie waardeur lamoorlewing verhoog word.
 
(4) Invloed van ongure weer op lamoorlewing
 
Dit is algemeen bekend dat baie koue, nat en winderige weerstoestande lamvrektes by pasgebore lammers kan verhoog (Obst & Day, 1968). Afnemende liggaamstemperatuur binne die eerste twee uur na geboorte kan direk vir lamvrektes verantwoordelik wees omdat die lammers kan vrek sonder dat hulle gestaan of gesuip het. Moederlike sorg en gedrag van die ooi asook die nageboortelike aktiwiteite van die lam, veral die soek na spene, kan deur blootstelling aan koue belemmer word (Alexander et al., 1980). Navorsing toon dat die ongemak as gevolg van die koue gedurende die pogings om die spene te vind, belangriker is as die invloed van die vooraf verlies van energiereserwes.  Die speensoekaktiwiteit word ook deur koue weer verlaag wat weer die lam sy suiprefleks laat verloor (as liggaamstemperatuur van lam met slegs 2.5 0 C verlaag, kan hy nie sluk nie). Die voorsiening van skuiling is ‘n noodsaaklike strategie in gebiede waar ongure weer tydens lamtyd voorkom om lamvrektes te beperk (Nowak, 1996). Waarnemings toon dat lammerooie gedurende koue, winderige en nat weer gewoonlik skuiling soek (Lynch & Alexander, 1980). Ongeveer 14 % van Lacaune-ooie het in beskutte areas gelam wanneer die windspoed minder as 3 m/sekonde was terwyl tot 89 % van die ooie daar gelam het toe die windspoed meer as 3 m/sekonde was (Lécrivain & Janeau, 1987). Daarenteen is daar min bewyse dat Merino-ooie vrywillig skuiling gaan soek behalwe as hulle kort voor lam geskeer is en ongunstige klimaatstoestande ondervind word. ‘n Mate van beskerming kan teen ongure weer verleen word deur die keuse van lam- en skeertye, gebruik van meer beskutte lamkampe en die voorsiening van skuiling (Nowak, 1996).
 
Verbetering van moederlike gedrag deur seleksie
 
Die vermoë van ooie om die eerste dag of twee na geboorte vir tweelinge te sorg, varieer baie tussen kuddes. In Australië is in ‘n fynwol Merinokudde, wat op skaars weiding gelam het, maar voldoende byvoeding ontvang het, gevind dat ongeveer die helfte van die ooie met tweelinglammers permanent van ten minste een van die tweelinglammers gedurende die eerste dag na geboorte geskei is (Alexander et al., 1983b). Selfs onder goeie weidingstoestande het 25 % van Merino-ooie met tweelinge kontak met ‘n tweelinglam kort na geboorte verloor (Alexander et al., 1983). In beide gevalle was swak moederlike gedrag die grootste oorsaak van skeiding. Daarenteen het skeiding tussen ‘n ooi en ‘n tweelinglam slegs in 8 % van Nieu-Seelandse Romney-ooie, wat geselekteer is vir hulle vermoë om tweelinge suksesvol groot te maak, (d.i. meerlinggrootmaakvermoë) voorgekom (Hight et al., 1975). Navorsing in Australië toon verder dat die vermoë van ooie om vir tweelinge te sorg met ondervinding eerder as ouderdom verbeter (Alexander et al., 1984). Ongeveer twee tot drie keer meer ooie wat vir die eerste keer tweelinge kry, word van ten minste een van die tweelinglammers geskei veral omdat hulle korter op die geboorteplek bly. Navorsers is dit eens dat ooie wat vir die eerste keer lam en veral dié wat tweelinge produseer, meer intensief bestuur moet word om te verhoed dat hulle die geboorteplek te gou verlaat voordat ‘n sterk ooi-lamband gevorm is (Alexander et al., 1984).
 
Moederlike gedrag, oftewel moedereienskappe, wissel tussen skaaprasse onder beide ekstensiewe (Alexander et al., 1983) en intensiewe toestande (Poindron et al., 1984). Lamoorlewing kan deur seleksie vir grootmaakvermoë verbeter word omdat grootmaak-prestasie herhaalbaar (Piper et al., 1982; Haughey, 1984) en oorerflik is. Ooie wat by Trangie in Australië vir meer as 30 jaar geselekteer is vir die aantal lammers wat hulle grootgemaak (d.i. ‘n saamgestelde eienskap wat vrugbaarheid, meerlinggeboortes en grootmaakvermoë insluit) het, het langer op die geboorteplek gebly en ‘n kleiner persentasie van hulle het tydelik of permanent van hulle lammers as die kontrolegroep geskei (Atkins, 1980). Laasgenoemde ooie is tevrede indien slegs een lam van ‘n tweeling hulle volg. Die nuutste is waar ooie eksperimenteel vir temperament (kalm vs. senuweeagtig) geselekteer word. Aanduidings is gevind dat kalm ooie ‘n hoër besetting het, beter moeders is en laer lamvrektes het as senuweeagtige ooie (Murphy et al., 1994). Kalm ooie spandeer meer tyd met hulle lammers, het ‘n korter vlugafstand wanneer versteur word en keer vinniger terug na hulle lammers as senuweeagtige ooie. Gevolglik was die lamvrektes van kalm ooie vanaf geboorte tot speen ongeveer die helfte minder (ooie met enkelinge: 7 vs. 16 % en ooie met tweelinge: 16 vs. 26 %) as dié van die senuweeagtige ooie. Die swak moederlike gedrag van senuweeagtige ooie was die belangrikste faktor wat vir lamvrektes verantwoordelik was (Martin et al., 2004). Seleksie van ooie met ‘n kalm en rustige temperament kan die produktiwiteit van ooie verbeter omdat dit (1) estrussiklus verleng (Braden & Moule, 1964; Przekop et al., 1984); (2) ovulasietempo verhoog (Doney et al., 1976); (3) besetting verhoog (McMillan & Knight, 1982); embrio-oorlewing verhoog (Van Niekerk et al., 1968) en seksuele gedrag verbeter (Gelez et al., 2003). In ander spesies het temperament ook die produksie verbeter deurdat dit (1) groeitempo verhoog het (Voisinet et al., 1997; Burrow, 1998; Fell et al., 1999); (2) immuniteit verbeter het (Fell et al., 1999); melkproduksie verhoog (Lawstuen et al., 1988); en vleiskwaliteit verbeter (Jones & Hocking, 1999; Reverter et al., 2003).
 
‘n Kommersiële Coopworth-ooikudde in Nieu-Seeland wat sedert 1974 vir moedereienskappe geselekteer is, se gemiddelde lamoorlewing van tweelinglammers is 94 % in vergelyking met die nasionale gemiddelde van 80 % (Everett-Hincks et al., 2005). Weens jare lange seleksie vir goeie moedereienskappe deur die uitskot van beide die ooi en haar lam(mers) wanneer sy swak moedereienskappe openbaar, met geboorte gehelp word of as sy swak lammers speen (lae produktiwiteitsindeks o.g.v. massa lam gespeen per ooi gepaar), het Ben Brynard van Klawervlei naby Calvinia daarin geslaag om die afgelope 19 jaar ‘n gemiddelde lam-oorlewingspersentasie van meer as 97 % te handhaaf in ‘n Merinokudde met ‘n speen-persentasie (lammers gespeen per ooie gepaar) van tot 161 %. Sy ooie lam op gespaarde weiding met ‘n Maxiwolgebaseerde lek wat vrylik tot hulle beskikking is tydens lamtyd sodat minimale versteuring van ooie plaasvind. Wanneer die lammers ongeveer 10 tot 14 dae oud is, word die lek met ‘n Maxiwolgebaseerde volvoer vervang. Hy gebruik die klein troppie-lamstelsel (maksimum 50 ooie/kamp) en in die geval van ooie met tweelinge word in sekere omstandighede (bv. tydens piek lamtyd, waar ooie mekaar se lammers steel, ensovoorts) van die lamhokstelsel gebruik gemaak. Die Milmatha Dohnestoet van Daan en Johan Slabbert van die Malmesbury-omgewing het in 2005 ‘n lampersentasie van 196.6 % gehad. Hierdie stoet het ‘n baie hoë lamoorlewing gehad deurdat slegs 5 % van die lammers tussen geboorte en speen gevrek het. Hierdie hoë oorlewing kan in ‘n groot mate aan baie streng seleksie toegeskryf word. Jongooie word op op 10/11 maande ouderdom op ‘n minimum massa van 45 kg gepaar. Alle jongooie wat oorslaan of lam, maar nie ‘n lam speen nie word summier geprul. Deur hierdie seleksiestrategie word daar direk vir verhoogde lamoorlewing en lam-grootmaakvermoë geselekteer.
 
Samevatting
 
Lamoorlewing word deur verskeie faktore beïnvloed soos die genotipe, gedrag, temperament, ouderdom en ondervinding van die ooi; samewerking van beide die ooi en lam; lewenskragtigheid en gedrag van die lam. Faktore wat die sukses van lamtyd asook oorlewing van lammers bydra en ook deur bestuur gemanipuleer kan word, sluit in tyd wat die ooi op die geboorteplek deurbring; voeding gedurende laatdragtigheid en lamtyd. In hierdie verband is dit ook uiters belangrik dat ooie in gelyke en beskutte kampe lam wanneer dit koud, nat en winderig is of in kampe met voldoende skaduwee tydens warm weerstoestande.
 
Die twee belangrikste “hekkies” wat die pasgebore lam moet oorkom, is om die geboorteproses te oorleef en voldoende biesmelk onmiddellik na geboorte in te neem. Produksie van biesmelk is baie gevoelig vir ‘n tekort aan beide deurvloeiproteïen en energie terwyl die aanvang van laktasie ook daardeur vertraag word. Biesmelkproduksie word ook nadelig beïnvloed deur die kondisie van ‘n ooi omdat ooie in ‘n skraal kondisie ‘n laer biesproduksie het. Indien lammers ‘n optimum geboortemassa (3.5 – 5.5 kg) het, normaal gebore word sonder komplikasies, genoegsame hoeveelheid energie en teenliggaampies via die biesmelk inneem en ‘n sterk band met hulle moeder ontwikkel, is hulle kanse op oorlewing uitstekend. Om dit te verseker, moet die bestuur, versorging en voeding van ooie regdeur deur dragtigheid en die toesig gedurende lamtyd op ‘n hoë vlak wees. Daarmee saam moet alle ooie wat gelam het en nie ‘n lam speen nie, summier geprul word terwyl die gebruik van teelramme wat gebore is uit ooie wat al hulle lammers suksesvol tot speen grootgemaak het as ‘n vereiste gestel word.
 
Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere.
(Telno.: 021 – 8879559; 0833 86 83 82; jasperco@iafrica.com)
 
26 April 2011
 

Kommentaar

Kommentaar (2) “Invloed van ooi- en lamgedrag op lamoorlewing

  1. tania horn
    tania horn

    Wat kan as al my bokke se lammes te vroeg af kom. Wat sal julle se veroorsaaj dit. Wat kan ek doen om hulle te genees? Help asb.

    • Jan Bezuidenhout

      Tania, Jy sal ‘n veearts moet sien sodat hy die bokke kan diagnoseer en vir jou die korrekte genesing voorskryf.
      Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X