Vra vir Faffa

Insaai van grasse in die Roggeveld

Vraag

Watter tipe grasse kan ek tussen natuurlike veld insaai om my drakrag te verhoog? Die plaas is tussen Sutherland en Middelpos geleë.

Antwoord

Veldgrasse is van nature skaars in die veldtipes wat tussen Sutherland en Middelpos voorkom (sien Acocks se “Veld Types of South Africa”, asook Mucina & Rutherford se “The vegetation of South Africa, Lesotho and Swaziland”).  Hierdie gebied staan in die volksmond as die Roggeveld bekend.  Dit is vernoem na die Roggras (Secale africana) wat voorheen daar voorgekom het en tans bykans uitgesterf is.

Alhoewel grasse skaars in die gebied is, word daar wel  ʼn paar grasspesies aangetref, waarvan Erharta calycina (Rooisaadgras) en Merxmeullera disticha (Suurpol) die bekendste is.  Rooisaadgras is ʼn wintergras, terwyl Suurpol ʼn somergras is.  Ander grassoorte wat soms aangetref word, is Aristida diffusa (Beessteekgras), Stipagrostis ciliata (Langbeenboesmangras) en Stipagrostis obtusa (Kortbeenboesmangras).

Die sukses met die vermeerdering van spesifieke plante met behulp van die insaai van saad, is wisselend.  Dit is dikwels beter om te gaan kyk of daar nog oorblyfsels van daardie plante in die veld is (hulle kruip gewoonlik binne-in ander plante weg en word “refugia” genoem).  As hulle wel nog voorkom, volg dan ʼn spesifieke beweiding-strategie wat daardie plante sal toelaat om te vermeerder.  Gestel u vind oorblyfsels van Rooisaadgras by u op die plaas.  Aangesien Rooisaadgras ʼn wintergras is, sal dit dan baat om daardie kampe vir ʼn paar jaar tydens die aktiewe groeistadium van Rooisaadgras (wat die die wintermaande is) van alle beweiding te onttrek.  Dit sal die Rooisaadgras toelaat  om saad te maak, wat dan metteryd die getal Rooisaadgras-plante sal laat toeneem.

Die saad van Rooisaadgras en Suurpol is in die handel beskikbaar.  U kan ook oorweeg om Hartbeesgras (Chaetobromus dreageanus) op die proef te stel.  Skakel met mnr. Hannes Botha (023-342 2663) by die Worcester Veldreservaat of dr. Sue Milton (023-541 1828 na-ure) by Renu-Karoo Veld Restoration as u saad wil aankoop of meer oor die onderwerp wil uitvind.

Geskryf deur:

Dr Louis du Pisani

Nasionale Bestuurder:  Produksie Advies en Ontwikkeling

NWKV

louis@nwga.co.za

7 September 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X