Vra vir Faffa

Inligting oor skuimopblaas

Vraag

Hoe word skuimopblaas veroorsaak?

Antwoord

Opblaas wat deur plante veroorsaak word,  verdeel in gas- of skuimopblaas. Beide opblaastipes is dodelik. In Suid-Afrika word gasopblaas dikwels geassosieer met verlamming van die rumen (grootpens) wat veroorsaak word deur die hartglikosiede (bv. tulpe, slangkop en plakkies).  Skuimopblaas kom voor waar die herkouer nie gas kan opbring nie omdat dié in stabiele skuim vasgevang is. Peulplante  veroorsaak in die algemeen opblaasprobleme veral as hulle onvolwasse, verlep of  deur ryp beskadig  is.

Lusern (Medicago sativa), rooiklawer (Trifolium pratense) en witklawer (T. repens) is veral die belangrikste opblaas veroorsakende spesies in gematigde klimaatstreke.  T. subterraneatum word minder geblameer dat dit opblaas veroorsaak.

Die hoeveelheid gas (koolsuurgas en metaan) wat daagliks in die rumen geproduseer word, is ongeveer 400 liter vir beeste en 50 liter vir skape. Gedurende opblaas is die totale volume van die rumen ongeveer 115 liter.

Die opblaas veroorsakende stowwe in plante wat opblaas veroorsaak, is oplosbare proteïene en moontlik saponiene, maar lg. is betwisbaar nadat proewe gedoen is en dit nie bewys kon word nie. Oplosbare proteïene in die membrane van die gasborrels stabiliseer die skuim in die rumen.

Die selwande van opblaasveroorsakende peulplante (lusern, rooi – en witklawer) is dunner en disintegreer vinniger gedurende sellulose vertering as die peulplante wat nie opblaas veroorsaak nie.  Die rede vir die opblaas is dat die vinnige vrystelling van die selinhoud in die rumen blykbaar gunstige toestande skep vir die ontwikkeling van stabiele skuim. Dit is veral jong peulplante wat probleme veroorsaak omdat die geil blare ryk is aan oplosbare proteïene en koolhidrate en omdat hulle selwande vinnig  in die rumen skeur.

Totale oplosbare stikstof en totale oplosbare proteïene kan bepaal word om die opblaaspotensiaal van lusern te bepaal.

Ander plantstowwe soos lipiede mag ook ‘n rol speel om die oppervlaktespanning van gasborrels te verhoog.

Die voorkoms van opblaas word ook verhoog as verhoogde fermentasie in die rumen plaasvind wat meer gas vrystel. Die toename in die mikrobepopulasie in die rumen en gepaardgaande  verhoogde inname van voer ryk aan verteerbare oplosbare koolhidrate wat die protosoëpopulasie bevoordeel, veroorsaak probleme. Wanneer die protosoë in groot getalle sterf, mag hulle selwande bydra tot die vorming van stabiele skuim.

Skuim word ook geassosieer met hoë klorofielvlakke in die boonste sak van die rumen.

Party beeste is meer vatbaar vir opblaas  en sommige diere se vatbaarheid mag selfs wissel van dag tot dag.

Om ‘n trokar vir skuimopblaas te gebruik, sal nie help nie. Plantaardige olies kan ingegee word om die skuim op te breek as gepolimeriseerde metielsilikoon of poloxileen (Bloatguard G1027, G1026; Docusol G1790) nie beskikbaar is nie.

Van hierdie skuimopblaasmiddels kan voorkomend vir diere ingegee of op die weiding gespuit word, raadpleeg jou veearts vir meer inligting.

Hoë energie- en hoë proteïenaanvullings verhoog die voorkoms van opblaas. Deur lusern en hierdie aanvullings ‘n paar uur uitmekaar te gee, kan die voorkoms van opblaas verminder word.

As lusern terselfdertyd met graan of melasse gevoer word, verhoog die insidens van opblaas. Stadig fermenteerbare voere verlaag die insidens. Deur ruvoer in die vorm van grashooi net voor  of gedurende die beweiding van geil onvolwasse peulplantweidings te gee, sal die voorkoms van opblaas verminder.

Hoë druk beweidingstelsels word ingestel om diere te forseer om die hele plant te vreet en nie net die sappige toppies nie om sodoende die voorkoms van opblaas te verminder.

Die volgende plante kan ook opblaas veroorsaak: Phytolacca dioica (belhambra boom), Noltea Africana, Senna italic subspesie arachoides, Indigofera sessilifolia en Zygophyllum foetidum.

Vergiftiging deur die hartglikosiede veroorsaak gasopblaas en dus kan die dier met ‘n trokar afgeblaas word.

Bron:  Kellerman, T.S.,Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

20 Oktober 2014

Lees ook:

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/opblaas/

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/opblaas-van-speenkalwers-op-eenjarige-raaigras/


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X