Vra vir Faffa

Inligting oor Russiese gras

Vraag

Ek soek meer inligting oor Russiese gras.

Antwoord

Oor Russiese gras spesifiek is daar nog nie “amptelik” navorsing in SA gedoen nie.

Russiese gras is ‘n ekotipe cum “kutlivar”  van Phalaris aquatica. Oor die spesie is daar ook maar min in SA gedoen.

Ek heg ‘n algemene beskrywing aan wat in sommige vaktydskrifte  en Weidingshandboeke gepubliseer is.

Russiese gras.

Die naam Russiese gras het die afgelope tyd weer sterk na vore gekom. Die gras is wetenskaplik bekend as Phalaris aquatica (voorheen P. tuberosa) en bitter min wetenskaplike resultate is in Suid- Afrika gepubliseer. Wat wel gepubliseer is, was onder ander volksname van die gras, soos Lewensgras, Kanariegras, Knolkanariegras en “Harding grass”.

Vir die doeleindes van die bespreking wat volg, word slegs aanhalings uit bekende Weidingsboeke of Handleidings gebruik.

Gedurende die 1960/70’s was daar ook ‘n kultivar bekend as Rompha wat ‘n kruising tussen Phalaris aquatica en Phalaris arundinacea was. Volgens Charlie Donaldson se boek “A Practical Guide to Planted Pastures” was Rompha meer droogte- en hittebestand as Kanariegras, maar minder smaaklik.

Waar groei dit?

Daar bestaan rekords dat dit in die verlede al aangeplant is by Bathhurst en Alexandria (Oos-Kaap) volgens Prof. Tainton (“Pasture Management in SA”). Mnr F.A. Roux (Grootfontein Landbou Ontwikkeling Sentrum) noem lokaliteite soos Hofmeyer, Middelburg (Kaap), Cradock en Cookhouse (vir Russiese gras). Persoonlik het ek Rompha in Petrus Steyn in die Vrystaat sien groei. 

Produksie

Oor die algemeen is hierdie gras goed in die winterreënvaldele aangepas, asook in die koeler somerreënvaldele, met hoër reënval en besproeiing (Kynoch Weidings-handleiding). Ten opsigte van groeiperiode en produksie vergelyk dit goed met die meer bekende Langswenkgras.

Die Kynoch Weidingshandleiding gee die totale jaarlikse produksie aan as 5 tot 7 ton/ha onder droëland en 10 tot 12 ton/ha onder hoë reënval of besproeiing, met 200 en meer kg/ha stikstof. Prof. Tainton noem produksiesyfers van 4.5 tot 6.6 ton/ha in die Oos-Kaap, vermoedelik onder droëland. Verder dui hy ook aan dat geen produksie in Januarie/Februarie/Maart plaasvind nie, maar in April begin, met ‘n piek in Junie, laer in Augustus/September en dan die hoogste produksie in Oktober.

Beweiding- en drakragresultate is maar skaars en syfers uit Amerika dui op ‘n verwagte drakrag van 3.5 tot 4.0 GVE/ha vir die nege maande produksieperiode. 

Interessante eienskappe

Die ouer spesienaam tuberosa is afgelei van die Engelse woord “tuber” wat knol beteken. Prof. Tainton dui aan dat die gras ‘n verdikte (swollen) polbasis en wortelstok het, wat aan ‘n knol herinner. Die funksie daarvan is om die koolhidrate wat in die gras gevorm word, tydens fotosintese, ondergronds te stoor. Dit is dan waarskynlik die rede waarom die gras so ‘n lang groeiperiode het en gouer na beweiding kan herstel. 

Anti-kwaliteits eienskappe

Amerikaanse navorsing het aangedui dat hierdie gras ‘n toksiese alkaloïede bevat wat die smaaklikheid drasties kan beïnvloed en diarree kan veroorsaak (meer by skape as beeste). In uiterste gevalle kan dit neurologiese en hartsiektes by vee veroorsaak (Kynoch Weidingshandleiding).

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1360&bih=744&q=phalaris+aquatica&oq=Phalaris+aquatica&gs_l=img.1.0.0l3j0i30l2j0i24l5.1974.12958.0.17616.17.10.0.7.7.0.358.2601.2-9j1.10.0….0…1ac.1.64.img..0.17.2654.1JKq7z_1ZiA

https://en.wikipedia.org/wiki/Phalaris_aquatica

Geskryf deur: Prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

8 Desember 2015


Kommentaar

Een kommentaar op “Inligting oor Russiese gras

  1. mkruger
    mkruger

    Ek het in Juniemaand van die gras by Oom Lampies gaan koop.
    Daar was in 2012 ‘n artikel oor hom en die gras in Landbouweekblad geplaas.
    Ek was aanvanklik maar skepties oor die gras veral omdat ek dit in die winter aangeplant het.
    Hier by ons word dit tot -16 grade.
    Ek het meer as een oggend gesien dat die gras spierwit geryp is en dit het niks oorgekom nie.
    Dit het na so 6 weke van ‘n klein enkelpol gegroei tot ‘n redelike groot pol.
    Soos dit warmer geword het, het die groei vinniger geword.
    Die gras het na my mening egter een groot probleem.
    As jy nie water het nie, moet jy nie eers probeer om dit te plant nie.
    Ek is vertel dat dit met die goeie jaarlikse reenval wat ons hier het sal floreer.
    As dit egter nie elke derde dag natgegooi word nie, vrek dit vinnig.
    Ons kry wel baie reen maar ons kry nie elke 3 de dag reen nie.
    Veral nie in die winter nie.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X