Vra vir Faffa

Inligting oor droë galsiekte

Vraag

Ek soek inligting oor dro? galsiekte. Kan dro?, gemaalde silk galsiekte gee?

Antwoord

Vraag:
Ek soek inligting oor droë galsiekte. Kan droë gemaalde silk galsiekte gee? – Peet van Rensburg (kenyavanrensburg@yahoo.com)

Antwoord:
Droë-galsiekte staan ook bekend as stop-galsiekte of verstopping of verlamming van die groot- en blaarpens van ‘n herkouer. Onder normale omstandighede trek ‘n herkouer se grootpens gereeld saam (een tot twee keer per minuut). Dit kan selfs meer dikwels wees wanneer die dier vreet of herkou. Die rede vir die sametrekkings is om te help met die verteringsproses van die kos, deurdat die voedsel gemeng en gemaal word en opgebring word om herkou te word. Net soos die grootpens trek die ruitjies- en blaarpens ook gedurig saam. Tydens hierdie hele proses word die voedsel deeglik gemaal en met die verteringsappe gemeng. Verteringsorganismes (bakterieë en protosoë oftewel eensellige “diertjies”) kry ook geleentheid om deeglik met die voedsel te meng om te help met vertering.

Wanneer hierdie sametrekkings om die een of ander rede tot stilstand kom, ontstaan droë- of stop-galsiekte. Verskeie oorsake speel hier ‘n rol:
1. In die somerreënstreek kan baie droë weiding (veral in die winter) hierdie toestand veroorsaak. Dit kan ook gebeur met ‘n gebrek aan voldoende drinkwater. Die harde, droë en reeds moeilik verteerbare kos in die grootpens is dan so droog dat die pense se sametrekkings dit nie meer kan beweeg nie, maar slegs saamdruk tot ‘n harde massa. Herkou- en die voortbeweging van die voedsel word nou belemmer en die sametrekkings verswak en staak uiteindelik. Droë silk sal dus definitief ‘n oorsaak kan wees!
2. ‘n Gebrek aan voldoende koolhidrate (stysels, bv. suikers) in die rantsoen van ‘n herkouer kan ook droë- of stop-galsiekte veroorsaak. Dit is omrede die koolhidrate die bron van energie in die liggaam is wat weer nodig is om vette te help verbrand. Met ‘n koolhidraat-tekort verbrand vette onvolledig net tot in die ketoon stadium – wat dan die liggaam vergiftig en die hele spysverteringsstelsel omkrap en selfs die grootpens kan verlam.
3. Die pensinhoud (sappe) moet suur wees vir die sametrekkings om plaas te vind. Te min stysels, of te veel proteïene kan bv. veroorsaak dat die verteringsorganismes afneem, met gevolglike daling van asynsuurvorming in die grootpens. ‘n Alkaliese (basiese) toestand ontstaan in die grootpens wat ook lei tot verlamming van die spysverteringsstelsel.
4. Sommige siektes wat koors veroorsaak, kan ook verlamming van die grootpens veroorsaak deurdat die voedsel weens die koors uitdroog en impakteer. Rooiwater en bosluis-galsiek is voorbeelde hiervan.
5. Sekere gifstowwe kan ook die pense se sametrekkings belemmer soos met “blousuur” vergiftiging.

Die simptome van droë- of stop-galsiek is voor die hand, maar sluit in aptytsverlies, lusteloosheid, die hare staan kroes, diere loop soms met ‘n krom rug, die mis word hard en droog en later kan die diere glad nie meer mis nie. Daar is egter ‘n afwesigheid van koors in “ware” droë- of stop-galsiekte. As jy met jou vuis in die linker “hongerholte” teen die grootpens druk, voel mens dat die pens oorvol maar “hard” is, en dat die sametrekkings swak of afwesig is.

Behandeling word gebaseer daarop om die veroorsakende veranderinge in die voormae weer te herstel:
1. Gee baie water, selfs met ‘n maagbuis, indien nodig. Masseer die grootpens via die linker “hongerholte”. 225 g tot 450 g tafelsout kan bygevoeg word om die dier dors te maak en meer water te laat drink.
2. Daar is middels op die mark wat suikers, sure en rumen- (grootpens) stimulante bevat om die tekorte of abnormaliteite wat in die grootpens voorkom, te help herstel. Indien dit egter onmoontlik is om hierdie middels te bekom, kan die volgende stappe geneem word:
a. Voeg koolhidrate by die water in die vorm van 500 g suiker of 500 ml melassestroop.
b. Voeg suur by (om die alkaliese toestand teen te werk) in die vorm van 0,5 tot 1,5 bottels asyn.
c. Voeg vars pensmis (verkry vanaf die slagplaas) by om die verminderde verterings-organismes aan te vul.
3. Middels wat die grootpens prikkel en die spiere laat saamtrek, kan dan intussen bekom word en so 12 tot 18 ure ná bogenoemde behandeling gegee word.

Voorkoming is weer eens gerig daarop om die oorsake te vermy. Maak seker dat diere altyd voldoende vars drinkwater tot hul beskikking het. As daar geen ander opsie is as om baie droë voer/hooi te voer nie, klam dit aan met verdunde melasse, en sit ook melasse-lekke uit. Hedendaagse kommersiële winterlekke is egter só gevorderd dat indien veeboere dit korrek en genoegsaam gebruik, daar genoeg suikers, proteïne en fosfaat voorsien word om droë- of stop-galsiekte te voorkom.

4 Oktober 2005


Kommentaar

Kommentaar (3) “Inligting oor droë galsiekte

  1. Johan Nortje
    Johan Nortje

    Dankie die stukkie was baie goeie inligting. ek het twee ouerige koeie verloor. Hulle het n baie groot gal gehad toe ons hulle oopgemaak het. Ek sal melassa by die dieet bysit.

  2. George Kotze
    George Kotze

    Ons boer in die suide (namib) van Namibië. Ons het baie gannabos. Ons het reeds 6 jong bees verloor. Die bees blaas geweldig op, grootpens is leeg met baie water en die dier ontwikkel hoë koors. Die onderste gedeelte van die pens is hard en erg opgeblaas. Ons voeg hypo by die drinkwater en ook browse feed by die lek. Tog het ons pas weer ‘n vrekte gehad. Die skaap kom egter niks oor nie. Het iemand dalk raad?

  3. Belsie Lombard
    Belsie Lombard

    Ons het n koei wat droe galsiek gehad het en ons het haar gespuit en sy is nog steeds lusteloos en haar apteit is nog nie reg nie wat kan ons nog gee?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X