Vra vir Faffa

Inligting oor die mees ekonomiese boerderypraktyke op aangeplante weiding

Vraag

Ek boer hier in Stampriet, Namibië op 16 000 hektaar met 4 000 swartkop Dorpers en 400 koeie. Ek het 70 ha spilpunte opgesit en na baie somme het lusernverbouing na 'n te groot risiko gelyk en die toerusting sal my naby aan R4.5miljoen kos. Ek wil graag aangeplante weiding aanplant en dit is nou my vraag, speenkalwers of lammers of ooie. En ook watter tipe weiding, volgens GWK se produksiekoste gids lyk die speenkalwers na 'n goeie roep? Ek is 'n jong boer (33) en ek bestuur my boerdery self. Lammers en kalwers is maklik beskikbaar in my area. Kalwers is nou goedkoop en in praktyk sekerlik makliker om te bestuur.

Antwoord

Dit is altyd die beter opsie en meer doeltreffend om die aangeplante weiding direk in ‘n bemarkbare produk (vleis) om te sit. Deur ooie aan te hou, moet die weiding in melk omgesit word en die melk weer in die lam se “groei” (vleis) wat nie net ‘n stadige proses is nie, maar ook heelwat meer ondoeltreffend as die afronding van diere waar die weiding direk in vleis omgesit word. Ooie is vir vyf maande dragtig waartydens hulle geen inkomste inbring nie en dan neem dit nog vier tot vyf maande voordat die lammers bemark kan word. Jongooie lam eers op ongeveer 15 maande ouderdom, met ander woorde dit is ‘n stadige proses. Verder vereis skaapboerdery baie meer arbeid terwyl siektes, maar veral interne parasiete ‘n groot probleem op aangeplante weiding is. Dus is die afronding van diere vir die slagmark ‘n beter opsie.

Die afronding van skape en veral lammers is meer arbeidsintensief as dié van speenkalwers. Resultate van plaaslike navorsingsproewe laat geen twyfel nie dat die stelsel wat die hoogste wins realiseer die afronding van speenkalwers op groenweiding met ‘n spesiale lek is. Speenkalwers is ook beter in staat om weiding in vleis om te sit weens hulle groot rumens.
Die grootste tekorte in groenweiding vir die afronding van speenkalwers is fosfaat, spoorelemente, energie en hoë gehalte natuurlike proteïen (deurvloeiproteïen). Indien hierdie tekorte nie aangevul word nie, lei dit tot ‘n stadiger groeitempo en ‘n laer voeromsetting by speenkalwers. Byvoeding op groenweiding word gekompliseer deurdat die meeste beskikbare aanvullings weidingsinname onderdruk (substitusievoeding). Aangeplante weidings is baie hoog in oplosbare en degradeerbare proteïen. Aangesien 75 tot 85 % van die plantproteïen in groenweiding in die grootpens afbreek, moet hierdie aanvullings daarom net deurvloeiproteïen en geen oplosbare proteïen soos ureum bevat nie om ‘n goeie groeirespons te verseker.
Voermol het die nuutste beskikbare tegnologie gebruik om nuwe generasieprodukte van hoogstaande gehalte te formuleer om tekorte in groenweiding aan te vul met die doel om ‘n hoë groeitempo te verseker en terselfdertyd die inname van die weiding te stimuleer. Voermol Molovite is ‘n brouersgraanverrykte produk wat teen ‘n inname van 1 kg per kalf per dag 6 g fosfor en al sewe noodsaaklike spoorelemente asook voldoende energie in die vorm van melasse om maksimum groei op groenweidings te verseker. Voermol Molovite bevat ook ‘n ionofoor. Hierdie ionofoor verhoog die doeltreffendheid van energiebenutting wat tot gevolg het dat daar meer energie vir groei beskikbaar is. Navorsing toon dat die ionofoor die voeromsettingsverhouding met tot 16 % verhoog. Die brouersgraan in Molovite voorsien hoë gehalte deurvloeiproteïen wat spiergroei van speenkalwers bevorder.
Daar is drie baie belangrike vereistes om hoë groeitoenames op groenweiding te kry. Daar moet eerstens ten alle tye volop aktief groeiende groenweiding beskikbaar wees. Hoe beter die gehalte van die weiding, hoe hoër is die groeitempo van die diere. Tweedens moet van ‘n geskikte oorinplantaat gebruik gemaak word om die hoogste moontlike wins te realiseer omdat dit groei en voeromsetting betekenisvol verbeter. Derdens moet die diere die voorgeskrewe lekinname (1 kg/dier/dag) inneem om goeie resultate te behaal. In die ontwikkelingsproewe het Molovite die groei van speenkalwers met 62 % verbeter (GDT van 1.23 kg vs. 0.758 kg) bo ‘n standaard fosfaatlek. Navorsing toon dat die gesamentlike effek (sinergisme) van Molovite en ‘n oorinplantaat die groei van speenkalwers op groenweiding bykans kan verdubbel. Om diere vinniger op weidings af te rond, kan Voermol Molovite in gelyke dele met gemaalde mielies gemeng word en dan teen 2 kg/kalf/dag gevoer word. Aangesien Namibië se vleis na die EU-lande uitgevoer word, word hulle produsente nie toegelaat om enige groeibevorderaars of hormooninplantate te gebruik nie. Voermol Molovite en oorinplantate mag dus nie in Namibië gebruik word nie. 
Die volgende aanvulling (1.5 tot 2 kg/kalf/dag) kan wel in Namibië gebruik word omdat dit geen groeibevorderaars bevat nie:
            500 kg gemaalde mielies
            240 kg Voermol Super 18
            200 kg Voermol HPK 36 (maar verkieslik Procon)
             40 kg Voermol Melassemeel
             15 kg voerkalk
            995 kg TOTAAL
 
Voer hierdie mengsel daagliks met voldoende vreetspasie.
Skakel met verteenwoordigers van saadmaatskappye sodat hulle ‘n aanbeveling kan doen oor die beste weidingmengsel vir die tipe grond en die klimaat. Suiwer peulplantweidings het altyd die risiko van opblaas by diere en daarom word grasklawermengsels verkies. Om die beste groeirespons met die kalwers op aangeplante weiding te verkry, moet op die volgende aspekte gelet word:
Tipe weiding en weidingsbestuur
 
Om maksimum groei op aangeplante groenweidings te verseker, is dit ook belangrik dat die weiding en weidingsbestuur aan die volgende vereistes voldoen:
¨     Die diere moet nie te gou op jong groenweiding geplaas word nie. Hoewel die eerste groei baie hoog in proteïen is, is dit baie waterig en voorsien dit baie min energie. Die beste resultate word verkry gedurende die periode van maksimum weidingsgroei.
¨     Die skielike oorskakeling van droë na baie sappige weiding moet met omsigtigheid geskied omdat laasgenoemde weiding lakserend is wat veroorsaak dat die diere heelwat massa verloor. Die voorsiening van addisionele droë ruvoer (bv. lusernhooi) gedurende die eerste week of twee sal in ‘n groot mate help om diarree en massaverlies te beperk.
¨     Die weiding moet jonk, aktief-groeiend en blaarryk wees. Welig en vinniggroeiende onvolwasse weiding bevat meer proteïen, energie, minerale en vitamines en het ‘n hoër verteerbaarheid as volwasse gras. Soos die weiding volwasse raak, neem die vesel- en lignieninhoud daarvan toe en die energie-inhoud af. Aanvanklik kan die diere in ‘n mate kompenseer vir die afname in die kwaliteit deur die beste kwaliteit weiding te selekteer, mits die weiding baie dig en volop is. Indien ‘n geskikte aanvulling nie verskaf word nie, kan die groeitempo drasties afneem.
¨     Die weidingstand moet dig en volop wees om ‘n hoë inname en gevolglik ‘n hoë groeitempo te verseker. Speenkalwers vreet daagliks tot 30 – 40 kg en selfs meer nat weiding. Sulke hoë innames is slegs moontlik indien volop weiding van ‘n hoë kwaliteit beskikbaar is.
¨     Die hoogte van die weiding is ook ‘n belangrike vereiste. Weiding wat tot ‘n hoogte van 15 tot 20 cm gegroei word, maksimeer die hoeveelheid voedingstowwe wat per hap ingeneem word (Polan & Mowrey, 2000). Om ‘n hoë groeitempo op weidings te handhaaf, moet die weiding nie korter as 10 cm gevreet word nie om te verseker dat daar voldoende weiding is vir maksimum weiding- en dus energie-inname. ‘n Praktyk wat op aangeplante weiding goeie resultate lewer, is om die weiding tot ‘n hoogte van 10 cm (minimum 5 cm) te vreet en die diere dan te skuif na ‘n volgende kamp met langer weiding (15 – 20 cm). ‘n Elektriese draad kan in sekere gebiede gebruik word om strookbeweiding toe te pas en diere dan te skuif sodra die weiding tot 10 cm hoogte gevreet is.
¨     Die aanbevole drakrag hang van die kwaliteit en hoeveelheid weiding af asook die ouderdom en kondisie van die diere. Hoër groeitoenames word by laer drakragte verkry omdat die diere by ‘n laer drakrag meer geleentheid gebied word om die materiaal met die hoogste voedingswaarde en verteerbaarheid te selekteer. Daarenteen is die massatoename per hektaar weer hoër met hoër drakragte (Eng, 2000).
¨     Die smaaklikheid en verteerbaarheid van die weiding is ook ‘n baie belangrike aspek, want dit sal bepaal hoeveel van die weiding die diere sal eet en hoe goed hulle die voedingstowwe na vleis sal omsit.
¨     Hoe beter die gehalte van die weiding, hoe hoër is die groeitempo van die diere.
Tipe speenkalf
 
Om maksimum groei te verseker, moet die speenkalf aan die volgende vereistes voldoen:
¨     Pasgespeende kalwers groei swakker op weiding omdat hulle moeiliker en langer neem om aan te pas as gevolg van die speenskok. Gee dus voorkeur aan kalwers wat alreeds ‘n paar weke gelede gespeen is of “oorwinterde” kalwers (long weaners).
¨     Matige voeding gedurende die winterperiode op droë weiding (in die somerreënvalgebied) verseker die mees doeltreffende weidingsbenutting gedurende die afrondingsfase op groenweiding omdat dit massatoename maksimeer weens kompensatoriese groei. Vir die beste resultate word verkies dat die kalf voor speen teen ‘n hoë (meer as 600 g/dag) en na speen teen ‘n matige tempo (300 – 700 g/dag) groei voordat hulle afgerond word. Hierdie praktyk verseker ‘n goed uitgegroeide dier wat vinniger op ‘n hoë kwaliteit voer (bv. weiding) groei, hoofsaaklik spiergroei, weens kompensatoriese groei. Hierdie praktyk sal ook vetneerlegging tot aan die einde van die afrondingsperiode vertraag. Kalwers wat op 8 maande ouderdom op massas laer as 180 kg gespeen word, toon nie kompensatoriese groei nie (Oddy, 1999).
¨     Verskeie plaaslike proewe toon dat speenkalwers die hoogste massatoename toon indien hulle 215 tot 230 kg weeg wanneer hulle vir afronding op groenweiding geplaas word. Te ligte (minder as 200 kg) kalwers groei stadig omdat hulle baie moeiliker aanpas en omdat hulle nie in staat is om voldoende gras in te neem om ‘n hoë groeitempo te handhaaf nie. Inkomste gerealiseer per hektaar bemeste Smuts-vingergras teen ‘n drakrag van 495 kg/ha (± 2.3 diere/ha) was die hoogste by die groepe waarvan die beginmassa 215 kg was. Die ideale aanvangsmassa vir afronding op weiding hou egter verband met die tipe kalf. Vir die vroeg- tot mediumryptipe word die hoogste daaglikse massatoename verkry met ‘n aanvangsmassa van ongeveer 215 kg terwyl in die geval van die laatryptipe die swaarder kalf (± 275 kg) die hoogste groeitempo toon.
¨     Kruisraskalwers presteer beter weens verhoogde groei as gevolg van basterkrag.
Maksimering van groeirespons
Algemene aanbevelings om maksimum groeirespons te verseker:
¨     Vir die beste resultate moet die kalwers in homogene groepe volgens massa en kondisie verdeel word en die onderskeie groepe moet in aparte kampe geplaas word.
¨     Om doeltreffende voeromsetting en ‘n hoë groeitempo te verseker, moet diere met ‘n doeltreffende middel ontwurm word indien hulle met interne parasiete besmet is. Indien siektes voorkom wat die prestasie van die diere kan beïnvloed, soos pasteurella, moet hulle daarteen geïmmuniseer word.
¨     Soms is diere baie traag om lek te vreet wanneer volop, smaaklike groenweiding beskikbaar is. Dit word daarom hoogs aanbeveel om diere vir ongeveer 7 tot 10 dae voordat hulle op die groenweiding geplaas word die lekaanvulling te voer om hulle aan die lek gewoond te maak indien dit enigsins prakties moontlik is.
¨     Plaaslike waarnemings dui daarop dat tropgrootte ook ‘n rol speel by die groeitempo van die diere. Waar kampe van 100 ha na 25 ha verklein is en die drakrag dieselfde gebly het, is die daaglikse massatoename met tot 200 g/bees verhoog. Waar die infrastruktuur dit toelaat, byvoorbeeld in die geval van aangeplante weiding, kan elektriese drade gebruik word om die kampe en sodoende die troppe kleiner te maak.
¨     Waar die diere vir die slagmark afgerond word, moet die diere met ‘n geskikte oorinplantaat, wat minstens 100 dae aktief is, geïnplanteer word omdat dit groei met tot 15 % verhoog (dit is nie in Namibië toelaatbaar nie). Jaaroudosse reageer die beste op ‘n inplantaat, mits hulle goeie kwaliteit weiding bewei wat hulle toelaat om meer as 500 g/dag te groei (Sawyer & Casey, 1997). Die gesamentlike gebruik van ‘n ionofoor en ‘n inplantaat lei tot ‘n veel hoër groeitempo as wanneer dit afsonderlik gebruik word weens die sinergistiese werking tussen die twee produkte.
¨     Kalwers wat oor lang afstande vervoer word asook ligte en pasgespeende kalwers is meer onderhewig aan stres wat tot verlaagde voerinname aanleiding gee asook die diere meer vatbaar maak vir siektes. Navorsing toon dat die aanvulling van antioksidant spoorelemente (bv. mangaan, sink, selenium en koper) gedurende strestoestande voordele soos ‘n verhoogde groeirespons inhou (Stokka, 1999; Chew, 2000).  Aanvulling van hierdie spoorelemente verhoog terselfdertyd die diere se weerstand teen siektes (NRC, 1996).
¨     Onder hoë reënvaltoestande of waar lekbakke nie beskikbaar is nie kan Voermol Energieblok (hierdie produk mag nie in Namibië gebruik word nie omdat dit ‘n ionofoor bevat) ook met groot welslae gebruik word vir die afronding van speenkalwers en beeste op groenweiding.
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
9 April 2012

Weidigskundige se antwoord:

As ek na die huidige profiel op die plaas kyk, lyk dit vir my of julle met  4000 skape reeds  goeie ondervinding met skaapboerdery het, daarom  sal my keuse slaglammers wees. Met die 70 ha besproeiing (hooi uitgesluit) sal die fokus sekerlik op winterweiding moet wees.
Die reënval in die omgewing van Stampriet is in die orde van 250 mm per jaar. Die verdamping is 3000 mm en meer per jaar. Die gewas moet dus, ten spyte van die besproeiing, droogtebestand wees. Die volgende gewasse kan oorweeg word:
1.     Japanese radyse
2.     Witteberghawer
3.     Stoelrog (mengsel van ‘n kort en lang groeiseisoen tipe, bv. LS35 en LS62)
Vir die somer kan Bloubuffelsgras onder besproeiing geplant word. Borseltjiegras kan droëland oorleef (as dit meer as 650 mm kry, kry dit roes) en bied uitstekende staandehooi vir die winter.
‘n Droogtebestaande eenjarige somergewas kan ook oorweeg word bv. Baster Babala.
Beskrywing van alle genoemde gewasse:
 
STOELROG: (Secale cereale)
Die stoelrogtipes word in 3 groepe verdeel (kort-, medium- en langseisoen groeiers), maar ons konsentreer net op kort- en langgroeiers bv. LS35 en LS 62
Reënvalbehoefte: 650 mm + (Goeie herfs rn)
·           Smaaklike weiding met meer volume en ‘n hoër produksie as hawer. Lewer ‘n goeie groen weiding en selfs kuilvoer.
·         Hoofplanttyd vir kortgroeiers April/Mei en die langgroeiers Februarie tot April in koue areas en Maart tot Mei in warm areas. Beide kan ook September/Oktober in koel areas geplant word. Sou kortgroeier na die winter geplant word, gaan dit vinnig oor na saadproduksie. 
·         Kortgroeiers groei meer regop as die lang groeiers. Rotasie weiding (kampe) is die beste.
·         Doen goed op meeste grondsoorte, maar verkies ligte sanderige grond, met goeie voghouvermoë.
                                            
                                                                      Plantdigtheid: 25 – 50 kg/ha
HAWER:(Avena sativa) 
Twee tipes hawer is in die handel beskikbaar: – Lentegroeiers en Wintergroeiers. Kortliks: Lentehawer is vinnig na vestiging gereed vir beweiding, maar dit kom ook vroeg (mid-winter) in saad (2 weidingsiklusse en dan saadproduksie). Winterhawer vestig stadiger, maar gee meer wei-siklusse (3 en meer siklusse) en produseer eers laat in die winter of herfs saad.
Kultivars:
Lente hawer: Overberg
Winterhawer: Witteberg
Reënvalbehoefte: 650 mm + (Goeie herfsrn)
·           Baie smaaklike groen weiding vir die winter- of lentemaande. Maak ‘n goeie hooi en kan ingekuil word.
·           Hoofplantseisoen is Januarie tot April. In koue areas kan in September / Oktober ook geplant word.
·           Onder droëlandtoestande moet goeie vogbewaring voor plant toegepas word. Reageer goed op besproeiing. Rotasieweiding is noodsaaklik.
·           Doen goed op meeste grondtipes.
                                                                       Plantdigtheid: Droëland: 50kg/ha            Besproeiing: 50 – 75 kg/ha
JAPANESE RADYS: (Raphanus sativus)
Kultivars:  Nooitgedacht
Reënval behoefte: 650 mm + (Goeie herfs rn)
·       Die gewas is bekend vir sy rol as voergewas in die koeler, somerreënvaldele.
·       Die knolgedeelte van die plant maak tot 50% van die totale produksie uit en die voginhoud kan so hoog as 90% wees. Beide die blare en knolle kan as jong vars materiaal benut word.
·       Die beste aangepas in die koeler oostelike gedeeltes van die land, waar betroubare neerslae gedurende Januarie tot April voorkom.
·       Dit is koue- en droogtebestand, maar sal nie versuiptoestande oorleef nie.
·       Dit is die beste op sand- en sandleemgronde, wat ‘n goeie waterhouvermoë het, aangepas. Selfs kleigronde met ‘n goeie voghoudingsvermoë is geskik.
·       Die normale plantdatum is Januarie/Februarie, maar in die koeler oostelike Hoëveld kan dit so vroeg as middel Desember geplant word. Indien te vroeg geplant, kan dit te gou begin blom wat knolvorming benadeel.
·       Dit is ‘n goeie wisselbougewas met mielies en verder het dit uitstekende melkproduksie-stimulerende eienskappe. Japanese radyse kan uitgehaal word en na diere geneem word of dit kan met behulp van klein kampies of elektriese heining bewei word.
·      
Plantdigtheid:   Rywydtes van 90 cm word aanbeveel.       In rye 2 kg/ha     Breedwerpig: 4 kg/ha
BLOUBUFFEL(Cenchrus ciliaris)
Cultivars: Molopo
                 (blou-grys-groen, baie gehard, maar word minder smaaklik as volwasse).
             Gayndah
                  (lig-groen, verkies rotasie beweiding, blaarryk en smaaklik).
Reënval behoefte: 450 mm +
·       Goeie weiding en hooigewas en behou sy kwaliteit selfs in die winter.
·       Plant vanaf Oktober tot Februarie, in koue areas, tot April in warm areas.
·       Droogtebestand –  sal in lae reënvalgebiede groei (300 – 400 mm).
·       Lewer hoë produksies onder besproeiing.
·       Bewei of sny wanneer 60-90 cm hoogte bereik. Die gras kan stokkerig word as dit lank uitgroei en nie kort gehou word nie. N- en P-bemesting is noodsaaklik om smaaklikheid te behou (mis werk ook).
·       Alle grondtipes behalwe sandgronde (wit of ligte sand).
Saaidigtheid: onverpil: 4-6 kg/ha.        Verpil: 5-8 kg/ha.
BORSELTJIEGRAS(Anthephora pubescens)
Reënvalbehoefte: 400 mm +
·                     Baie smaaklike blaarryke weiding en uitstekende winterweiding as staande hooi.
·                     Plant Oktober tot Februarie in koue areas en tot Februarie/Maart in warm areas asook lande met baie onkruid.
·                     Ideale gras vir baie droë gebiede met lae reënval. Kan roes kry as reënval te hoog is.
·                     Verkies ligte, sanderige gronde, doen nie goed op klei gronde nie.
 
Saaidigtheid: onverpil: 4-6 kg/ha     Verpil: 5-8 kg/ha.
 
BASTER BABALA(Pennisetum hibried)
Standaard cv: Hypearl millet
Speedfeed, Milkstar, Nutrifeed
Reënvalbehoefte: 500 mm +
·           ‘n Puik, vinnige weiding met hergroeivermoë, een van die beste groen weidings as dit vroeg geplant word. Geen blousuur nie – ‘n ideale bees-, skaap-, bok- en perdeweiding.
·           Plant na 15 Oktober tot Desember in koue areas en Januarie in warm areas.
·           Indien te laat geplant – maak dit gou blomstele. Ignoreer dit of sny af. Hergroei is stadiger na Februarie, plant dus vroeg. Kan na 4 -5 weke begin wei (30 – 50 cm hoogte) en kan hergroei na 3 tot 4 weke weer wei.
·           Doen goed op sand tot kleigrond maar vermy versuipgronde.
 Saaidigtheid: Droëland 3-5 kg/ha           Besproeiing 5-8 kg/ha.
Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)
9 April 2012

Kommentaar

Kommentaar (5) “Inligting oor die mees ekonomiese boerderypraktyke op aangeplante weiding

  1. Frank
    Frank

    Baie dankie vir die informasie ek gaan definatief hierdie raad implimenteer .
    Groete uit Namibie

  2. Virginia Beukes
    Virginia Beukes

    Baie dankie, kan baie leer en toepas .
    Groete uit n pragtige Namibia

  3. Jappa
    Jappa

    Frank kontak my asb. Ek wil graag weet of jy begin het om weiding aan te plant, wat jy geplant het en is dit suksesvol. Ek wil ook graag weiding aanplant op klein skaal en hoofsaaklik om slaglammers daarop af te rond. Ek is nie ver van Stampriet nie.

  4. Dr Vetja Haakuria
    Dr Vetja Haakuria

    Insiggewend, dankie. Sal die riglyne van toepassing wees vir bokke ook? Ek wil bok lammers afrond vir bemarking. Ek is in die Witvlei omgewing.
    Sal jou advies regtig waardeer.

    • Jan Bezuidenhout

      Goeiedag dr.
      kontak asb. dr Chris by: (chriswei@vodamail.co.za)
      Groete


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X