Vra vir Faffa

Inenting – breë spektrum-entstof

Vraag

Ek wil graag weet of daar breë spektrum-entstowwe beskikbaar is op die mark,waarmee jy skape en beeste kan ent teen die mees algemene siektes, soos bloednier, rooiwater, hartwater, lamsiekte en ander algemene siektes. Kan 'n mens ook beeste en bokke met dieselfde middels ontwurm? - Johann Nell (johann@gtss.co.za)

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet of daar breë spektrum-entstowwe beskikbaar is op die mark,waarmee jy skape en beeste kan ent teen die mees algemene siektes, soos bloednier, rooiwater, hartwater, lamsiekte en ander algemene siektes. Kan ‘n mens ook beeste en bokke met dieselfde middels ontwurm? – Johann Nell (johann@gtss.co.za)

Antwoord:
Daar is verskeie entstowwe op die mark beskikbaar wat diere teen meer as een siekte immuniseer. Voorbeelde van dié entstowwe is:
 

  • Supavax (Intervet, G2643) ‘n kombinasie-entstof wat beeste immuniseer teen miltsiekte, sponssiekte en lamsiekte. As diere die eerste keer ingeënt word, moet ‘n skraagdosis 4-6 weke later met Duovax (G2328) wat antigene teen sponssiekte en lamsiekte bevat, gegee word. Daarna hoef diere net jaarliks met Supavax (G2643) ingeënt te word.

     

  • Indien kalwers gevoer gaan word, asook vir melkbeeste, word aanbeveel dat ‘n multiklostridiale entstof, soos Multiclos (Intervet G3392), toegedien word wat die kalwers teen sponssiekte (Clostriduim chauvoei), bakteriese rooi uriene (C.haemolyicum), Black disease (C.novyi tipe B), wat nie in Suid-Afrika voorkom nie, rooiderm wat deur C. Perfringens tipe B, C en D veroorsaak word, asook kwaadaardige edeem wat deur C.septicum en C.sordellii veroorsaak word, immuniseer.

     

  • Kombinasie-entstowwe teen die respiratoriese siektes wat veral in melkerye en voerkrale gebruik word, is beskikbaar, bv. Bovilis Qarat (G2586) wat ‘n dooie entstof is en diere immuniseer teen BVD, IBR en BRSV. Hierdie entstof moet ook na 4-6 weke herhaal word as diere die eerste keer ingeënt word en daarna jaarliks voor dekking. Hierdie entstof kan in ‘n teelkudde gebruik word. Daar is ook lewende entstowwe beskikbaar wat veral vir speenkalwers in die voerkrale gebruik word bv. Bovitect III (G3211) teen BVD, Mannheimia (Pasteurella) haemolytica en IBR.

     

  • Nog ‘n kombinasie-entstof wat in dragtige koeie voor kalwing gebruik word om kalwers teen diaree siektes soos E.coli, corona en rotavirusse te immuniseer, is Lactovac C (G3410).

    Kombinasie-entstof vir skape
    Vir skape is daar ‘n kombinasie-entstof teen sponssiekte (C.chauvoei), baarmoedersponssiekte (C.septicum), bloednier (C.perfringens tipe D), klem-in-die-kaak en pasteurella-infeksies. Die entstof Multivax P (G1517) is ‘n dooie entstof en moet ook 2 keer 4-6 weke uitmekaar toegedien word as die entstof die eerste keer toegedien word. Dit is aan te beveel dat ooie geënt word ongeveer 6 weke voordat hulle gaan lam sodat die lammers deur die biesmelk-immuniteit beskerm kan word.

    Skape wat gevoer gaan word, kan ook met Multiclos soos hierbo vir beeste beskryf, ingeënt word.

    Vir volledigheidshalwe gee ek hier ‘n lys van die belangrikste "enkelentstowwe" wat beskikbaar is:

    Entstowwe vir beeste, skape en bokke
     

  • Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes
     
  • Dikkop
     
  • E.coli
     
  • Hartwater
     
  • Hondsdolheid
     
  • Lamsiekte
     
  • Miltsiekte
     
  • Sponssiekte
     
  • Slenkdalkoors
     
  • Tetanus.

    Enstowwe vir beeste
     

  • Anaplasmose/Galsiekte
     
  • Brusellose
     
  • Drie-Dae-Stywesiekte
     
  • Kalwerparatifus
     
  • Knopvelsiekte
     
  • Leptospirose
     
  • Moraxella
     
  • Neosporose
     
  • Pasteurella beeste
     
  • Rooiwater (Afrika)
     
  • Rooiwater (Asiaties)
     
  • Vibriose
     
  • Trigomoniase.

    Entstowwe vir skape en bokke
     

  • Bloednier – aluin
     
  • Bloednier – olie
     
  • Bloedpens
     
  • Bloutong
     
  • Blou-uier
     
  • Brucella Rev 1
     
  • Corynebacterium ovis
     
  • Ensoötiese aborsie
     
  • Pasteurella
     
  • Vuilbek.

    Dit is baie belangrik om die produkinligtingsbiljet baie goed deur te lees, veral waar bokke met die miltsiekte entstof ingeënt word. Indien die entstof in die nek gespuit word, kan ‘n geweldige swelsel ontstaan wat selfs tot vrektes kan lei, aangesien die lugweë toeswel.

    Die antwoord op die vraag wat u vra of u beeste en bokke met dieselfde middels kan ontwurm is die volgende:
    Lees die produkinligtingsbiljet goed deur. Die meeste produkte kan wel vir beeste, skape en bokke gegee word. Maak net seker dat u die korrekte dosis gee. U sal sien dat die makrosikliese laktoon (Groep 1) nie in die inspuitbare vorm nie, maar wel as ‘n orale dosering vir bokke gegee kan word.

    27 Julie 2005


Kommentaar

Een kommentaar op “Inenting – breë spektrum-entstof

  1. Elizbe
    Elizbe

    Vir watter 10 siektes spuit mens 10 in 1 by skape of kry mens net 1 10 in 1 mengsel wat vir skaap en bees gemaak word


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X