Vra vir Faffa

Huur vs koop van grond

Vraag

Ek het u berig op die Landbou webtuiste rakende die beste beesboerdery gebied in die land gelees en dit baie insiggewend gevind. Ek stel belang om my besigheidsbelange uit te brei na boerdery en dus as ‘n beginner boer te begin. Ek sal graag ook u opinie wil hoor i.t.v. huur grond vs eie grond. Indien u my vrae kan beantwoord en raad gee of my dalk kan verwys sal dit hoog op prys gestel word.

Antwoord

Daar is sekere aspekte waarna gekyk moet word voordat so ‘n besluit geneem kan word.

 
Agtergrond
 
Vir meer as 20 jaar het grondpryse in Suid-Afrika min of meer stagnant gebly en bitter min verander. Die afgelope 10 jaar het pryse in die veeboerderystreke vyf- en selfs sesvoudig verhoog. Huurpryse het ook verhoog, maar nie heeltemal so veel nie. Daar is verskeie redes waarom grondpryse so gestyg het en elkeen sal nie hier behandel word nie. Onthou net die bevolking het toegeneem en grond bly ‘n konstante en kan nie vermeerder nie.
 
Algemeen
Die eerste en belangrikste vereiste is ‘n goeddeurdagte huurkontrak waarin die regte en verpligtinge van beide die huurder en verhuurder uiteengesit word. Verhuring geskied normaalweg op twee maniere :
1)    Verhuring per hektaar per jaar
2)    Verhuring per vee-eenheid per tydseenheid (gewoonlik/maand).
Laasgenoemde word veral gebruik in die graanproduserende gebiede waar winterweiding (oesreste) vir ‘n beperkte tyd beskikbaar is.
‘n Algemene duimreël wat geld is dat jou huurkoste ongeveer 8 – 10 % van jou grondprys is.
Voorbeeld : Grondprys = R3000/ha ; Huurprys = R240 – R300/ha/jaar.
Op die huidige stadium is huurpryse effe laer as die 8 – 10 % norm.
 
 
Aanbevelings
1)    Vir ‘n beginnerboer is dit altyd lekker om sy eie grond te besit, maar die aankoopkoste is ‘n baie groot uitgawe en die rente op geleende kapitaal moet in berekening gebring word
2)    Indien vee ook aangekoop moet word, kan die aanvanklike kapitaal uitgawe te hoog word.
3)    Die grootste voordeel om eie grond aan te koop, is die feit dat enige veranderings/verbeterings wat aangebring word vir eie voordeel is.
4)    Die beste aanbeveling is gewoonlik om grond te huur met die opsie om later te koop.
5)    Die grootste probleem is dat huurgrond baie skaars is en buitestaanders (persone wat nie in die distrik woon waar huurgrond beskikbaar is nie) te laat daarvan hoor.
 
Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)
 
4 Julie 2011
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X