Vra vir Faffa

Hormone in vleis: Die waarheid

Vraag

Die hormooninhoud van een bier is gelykstaande aan ongeveer tien biefstukke van soortgelyke gewig elk, skryf 'n kenner.

Antwoord

Vraag:
Hoe veilig is dit om vleis te eet van diere wat met hormone behandel is?

Antwoord:
Net soos H2O (algemeen bekend as water) noodsaaklik is vir feitlik alle vorme van lewe, kom hormone ook natuurlik in wisselende hoeveelhede in alle biologiese organismes voor, insluitend groente, vrugte, grane en olies wat onttrek word uit bronne, soos sojabone en sonneblomsaad. Hormone kom ook voor in produkte van dierlike oorsprong soos, vleis, melk en eiers.

Dit word algemeen aanvaar dat hormone of hormoonverwante stowwe (fitohormone en selfs verbindings wat die endokriene funksie kan versteur) in baie voedselbronne en in water voorkom, en ‘n groot deel uitmaak van die voedselhormone wat daagliks deur die mens ingeneem word.

Beesvleis verskaf oor die algemeen ‘n relatiewe klein hoeveelheid van ses belangrike hormone in die menslike dieet. Drie hiervan word natuurlikerwys in diere se liggame vervaardig, naamlik testosteroon, estradiol-17 beta en progesteroon, terwyl trenboloon asetaat, seranol en melengesterol asetaat xenobiotiese (vreemde/nie-natuurlike) verbindings is.

Kommersiële vorms van hierdie hormone is geregistreer as groeistimulerende verbindings in Suid-Afrika, die VSA en baie ander lande in die wêreld, uitgesluit die Europese Unie (EU). Die meeste van hierdie stowwe is slegs beskikbaar as onderhuidse inplantings in die oor wat stadig ‘n klein en veilige konsentrasie van die hormoon aan die dier vrystel. In Suid-Afrika word antibiotika nie meer gebruik as groeistimulante nie, terwyl nie-steroïdale herverdelingsmiddels, wat met die voer gemeng word, baie gewild is. Dit is belangrik om daarop te let dat dit nie vir ‘n produsent ekonomiese sin maak om enige hormoon te oordoseer nie, aangesien daar nie voordele is wat betref groei en doeltreffendheid nie.

Die veiligheid van vleis vanaf hormoonbehandelde diere word bepaal deur die aanvaarbare daaglikse inname en maksimum residu-limiet in weefsels. Die resultate van verskeie studies toon dat daar uiters lae konsentrasies van hierdie stowwe in die vleis van hormoonbehandelde diere voorkom. Daar is wetenskaplik bewys dat ‘n 250 g biefstuk van ‘n slag-os wat behandel is met estradiol-17 beta ongeveer 5 ng van die hormoon bevat, in vergelyking met ‘n biefstuk van ‘n slagos wat nie met hormone behandel is nie, wat ongeveer 2,5 ng bevat. Nog ‘n veelseggende bevinding is dat die hormooninhoud van een bier (340 ml) gelykstaande is aan ongeveer tien biefstukke van soortgelyke gewig elk.

Die EU se verbod op hormooninplantings in veeproduksie as ‘n ‘veiligheidsbeginsel’, ten spyte van die resultate van ‘n aantal soortgelyke wetenskaplike studies, is rede tot groot kommer. Hierdie verbod het die siening oor die kwaliteit van vleis wat buite die EU geproduseer word negatief beïnvloed. Dit het ‘n aantal plaaslike produsente en kettingwinkels aangespoor om ‘hormoonvrye’ vleis te bemark, selfs al is die vleis ooglopend nie vry van hormone nie en die verskille in die hormooninhoud onbeduidend in vergelyking met dié van hormoonbehandelde diere.

Die belangrikste punt is egter dat die hormoonvlakke van selfs hormoonbehandelde beeste slegs ongeveer 1% is van die natuurlike hormoonvlakke in pre-pubertale manlike of vroulike diere, wat aandui hoe uiters laag die vlakke in werklikheid is. Gevolglik het die Codex Alimentarius Commission bepaal dat vleis afkomstig van hormoonbehandelde beeste (volgens goeie landboupraktyk) absoluut veilig is vir menslike verbruik. Die hormooninhoud van normale eiers, melk en sekere olies soos soja-olie is aansienlik hoër as dié van beesvleis.

  • Geskryf deur:prof EC Webb, Hoof: departement van Vee- & Wildkunde, Universiteit van Pretoria.
    Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan hom by Edward.webb@up.ac.za

    Hierdie artikel het verskyn in: Afgriland, (2006) 50 (3), 26.

    9 Junie 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X