Vra vir Faffa

Hooivergiftiging

Vraag

Is daar ‘n moontlikheid dat probleme kan voorkom as ek voer aankoop vir my diere wat a.g.v. van die droogte nie kos het nie.

Antwoord

Met die droogtesituasie wat tans heers, word hooi tans van verskeie plekke in die land na droogtegeteisterde gebiede vervoer. Dit is belangrik vir boere om te weet en voorbedag te wees op siektes en vergiftigings wat wel deur hooi veroorsaak kan word.

Die volgende vergiftigings het al in die verlede voorgekom waar hooi gevoer is:

Swamme, tulp, tjienkerientjee, nitraat  (misbredie, sorghum, Soedangras, graan sorghum, hawer, rog, koring, mielies), bloudissel, melkbos, wilde lusern of jaagsiektebossie en meer onlangs wilde sonneblom wat in lusernhooi voorgekom het.

Dr. Douw Steyn het die volgende geskryf in sy boek Vergiftiging van Mens en Dier wat in 1949 geskryf is en R2,50 in 1967 gekos het.

Algemene Beginsels in verband met die Voer van Giftige Veevoer

“Sommige van ons waardevolste voersoorte kan onder sekere omstandighede vergiftiging onder vee veroorsaak. Om verskeie redes is dit klaarblyklik onwenslik om oormatige hoeveelhede van enige besondere voersoort aan diere te voer.

Daar bestaan egter geen rede waarom daar nie ten volle gebruik gemaak kan word van sommige van hierdie voersoorte nie, aangesien hulle net in enkele gevalle en slegs wanneer hulle in oormatige hoeveelhede en aan honger diere gevoer is, vergiftiging veroorsaak het. As die volgende reëls nagekom word, veral ten opsigte van kragvoer, kan die gevaar van vergiftiging van diere vermy of tot ‘n minimum beperk word:

(a)   Voer waaraan diere nie gewoond is nie, moet aanvanklik in klein hoeveelhede gevoer word en geleidelik vermeerder word. Groot skade kan aangerig word onder vee as hulle skielik groot hoeveelhede gevoer word van ‘n voer (veral kragvoer) waaraan hulle nie gewoond is nie. Ons het selfs uitbreke van “domsiekte” onder dragtige ooie gesien in sulke gevalle.

(b)   Verskeie voersoorte, en nie slegs een nie, moet terselftertyd gegee word bv. op lupine alleen.

(c)   Voersoorte wat gevaarlik is as hulle in oormatige hoeveelhede gevoer word (bv. lynsaadkoek, katoensaadkoek, ens.) moet nie aan diere wat baie honger is gevoer word nie, maar slegs in klein hoeveelhede (5 persent van die totale rantsoen) en dit is verkieslik om dit met onskadelike voersoorte te meng. Sojaboontjies of sojaboontjiekoek moenie meer as 5 persent van die rantsoen uitmaak nie.

(d)   Voersoorte wat geneig is om vergiftiging te veroorsaak en swambesmette voersoorte moenie aan waardevolle diere gevoer word voordat hul uitwerking op ‘n paar minderwaardige diere uitgetoets is nie.

(e)   Gevaarlike voer moet met tussenpose en nie voortdurend gevoer word nie. Dit sou raadsaam wees om sulke voersoorte vir ‘n paar weke te voer.”

‘n Voorbeeld van vergiftiging wat plaasgevind het, is waar 109 uit ‘n trop van 568 skape gevrek het toe tuisgemaakte skaapkorrels aan hulle gevoer is. Die korrels het swambesmette koring- of garsstrooi wat met luernhooi gemeng is, bevat. Een maand nadat die korrels aanhoudend gevoer is, het skape begin vrek. Nadat die voer onttrek is, het skape nog vir 3 tot 4 weke gevrek. Aborsies het voorgekom en die immuniteit van die skape is onderdruk sodat hulle van pasteurellose en kolibasillose gevrek het.

Lamsiekte

Maak seker dat beeste teen lamsiekte geïmmuniseer is aangesien daar knaagdiere, slange en ander diere ingebaal kan wees wat die lamsiektegifstof bevat.

Bosluise

Bloubosluislarwes wat met Asiatiese of Afrikarooiwater besmet is, kan in hooi voorkom en uitbreke van hierdie siektes kan groot verliese veroorsaak.

Dieselfde kan gesê word waar bontbosluis nimfe en volwasse bontbosluise, wat met hartwaterorganismes besmet is, in hooi voorkom.

Weerstandbiedende bloubosluisstamme kan ook “ingevoer” word.

Bronne:

Steyn, D. G. 1949. Vergiftiging van mens en dier. J.L van Schaik Bpk, Pretoria

Kellerman,T.S, Coetzer, J.A.W, Naude, T.W and Botha, C.J. 2005. Plant poisonings and mycotoxicosis of livestock in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 576613

Saamgestel deur dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant  met die hulp van dr. Neil Fourie, Toksikoloog en prof. Christo Botha, Toksikoloog, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

1 Februarie 2016

Lees ook:

Optrede tydens ‘n rooiwater uitbreek

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/optrede-tydens-n-rooiwater-uitbreek/

Lamsiekte

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/lamsiekte/

Hartwater

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/verskuiwing-van-beeste-na-n-hartwatergebied/

Tulpvergiftiging

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/dro%c3%ab-tulpblare-is-giftig/

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/gif-en-geaktiveerde-houtskool/

Tjienkerientjee

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/tjienkerientjee-is-erg-giftig/

Melkbos

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/vergiftiging-veroorsaak-deur-melkbos/

Bloudissel

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/bloudisselvergiftiging/

Wilde lusern

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/wilde-lusern-of-jaagsiektebossie-vergiftiging/

Wilde sonneblom

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/wilde-sonneblom-vergiftiging-verbesina-encelioides/

Nitraat

https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/hawervergiftiging-by-skape-en-beeste/

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X