Vra vir Faffa

Hoogs suksesvolle skaapboerdery

Vraag

Wat moet ek doen om van my skaapboerdery ‘n sukses te maak?

Antwoord

Hoogs suksesvolle skaapboerdery

 

Kilogram vleis geproduseer per hektaar word as die belangrikste winsdrywer in skaapboerdery beskou.  Volgens Lynch en Hanrahan (2011) het die top 25 % plase in hulle ondersoek, sonder om die ooigetalle te verhoog, 35 % meer kilogram lamkarkas per hektaar geproduseer as die gemiddelde van al die plase weens die gebruik van moderne tegnologie en die nuutste boerderypraktyke.

 

Die meeste skaapkuddes beskik oor ‘n inherente hoë genetiese reproduksie- en produksiepotensiaal, maar in die meeste kuddes word dit nie ten volle ontsluit nie weens die gebruik van ondoeltreffende bestuur- en voedingspraktyke.  Deur die gebruik van ‘n “Omkeerstrategie” wat gebaseer is op bewese navorsingsresultate om diere se genetiese potensiaal ten volle te ontsluit, kan ‘n gelyktydige verhoging van die doeltreffendheid en produktiwiteit van die skaapboerdery bewerkstellig word waardeur die wins uit die skaapvertakking gemaksimeer word.

 

Fokuspunte vir ‘n omkeerstrategie van ‘n skaapboerdery om vleisproduksie per hektaar te verhoog

 

  • Spesiale grootmaak en versorging van jongooie om hulle leeftydproduksie en -reproduksie te verhoog.
  • Korrekte voorbereiding van teelramme en teelooie vir die paarseisoen asook die gebruik van koggelramme om die lampersentasie met 15 – 20 % en selfs meer te verhoog.
  • Beperking van resorpsie (fetale afsterwing) tot minder as 1 %, dit kan so hoog as 23 % of selfs meer wees.
  • Korrekte voorbereiding van laatdragtige ooie vir maksimum uierontwikkeling om hoë biesproduksie te verseker asook optimale geboortemassa (4.5 – 5.5 kg) waardeur lamvrektes tot ‘n minimum beperk word.
  • Doeltreffende lamstelsels om lamvrektes tot minder as 5 % te beperk.
  • Gebruik van ‘n elektroniese apparaat wat met ultra-hoë klankgolwe en ‘n aromatiese reukmiddel werk as ‘n hulpmiddel om ongedierteverliese tot ‘n minimum te beperk.
  • Korrekte voeding en bestuur van lakterende ooie om hoër speenmassas te verseker asook betekenisvolle hoër lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen.
  • Voorsiening van spesiale kruipvoermengsels om lammers al vanaf 60 tot 84 dae ouderdom op 25 kg te speen.
  • Afronding van vroeggespeende lammers in voerkrale vir die vertikale uitbreiding van skaapboerdery deur die ooigetalle met tot 25 % te verhoog sonder om voorgeskrewe drakrag te oorskry.
  • Toepassing van oordeelkundige kruisteling om lampersentasie met tot 10 – 20 % en speenmassas van kruislammers met tot 5.5 kg te verhoog.  Kruisteling is ‘n kragtige hulpmiddel omdat kruislammers vroeër gespeen word weens hulle hoër groeitempo en hulle doeltreffender voeromsetting.
  • Gebruik van meer winsgewende produksiestelsels.
  • Gebruik van ‘n Elektroniese Skaapbestuurs- en Voedingsprogram.
  • Rekordhouding om probleme te identifiseer asook onproduktiewe en laag produktiewe diere vir uitskot; hoogs produktiewe diere vir verdere teling; meting van vordering en verlaging van sekere insetkostes (bv. ramkostes).

 

Suksesstorie

 

Dr. Jasper Coetzee, ‘n Skaapvoeding- en Bestuurspesialis, het in 2006/2007 met ‘n omkeerstrategie begin in die Dorperstoetery van Charl en Sarel Saunderson van Nooitgedacht naby Kenhardt.  In 2011 is die Saundersons as die Nasionale Skaapboer van die Jaar aangewys.  In hierdie tydperk is hulle kudde se  speenpersentasie van 51 tot 143 % verhoog.  Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat hulle gemiddelde reënval slegs 132 mm/jaar is. 

Kontak die skrywer vir meer besonderhede.

 

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consultancy

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stell.

Professionele Veekundige (400328/83)

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

 

19 Julie 2012


Kommentaar

Een kommentaar op “Hoogs suksesvolle skaapboerdery

  1. gerhard
    gerhard

    Is dit die moeite wert om met skaape te boer en om te begin boer . Met water getal skaape kan ke begin


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X