Vra vir Faffa

Hondjie het kors op sy neus

Vraag

Ons Yorkie het ‘n korslaag ontwikkel wat sy neus oorgroei. Dit is ’n droë kors en bloei of sweer nie. Hy jeuk of krap ook nie. Lyk net baie sleg en ongemaklik.

Antwoord

Aantasting van die vel van die neus kan deur  siektes veroorsaak word. Letsels kan op die brug van die neus voorkom, op die neusopeninge of beide.

Waar die ontsteking deur kieme, swamme of myte (demodekose) veroorsaak word, is die harige gedeelte van die neus gewoonlik aangetas.

Outo-immuunsiektes kan ook kliniese tekens soos korste op die neus veroorsaak. Die hond se immuunsisteem vervaardig teenliggaampies teen sy eie proteïene wat dan tot ontsteking lei. Name vir hierdie kondisies is dikoïede lupus eritematose en pemfigus.

Kliniese tekens

Afskilfering (korste) en verlies aan pigment van die neus word in 90% van honde gesien. Die oppervlakte van die neusspieël word glad en grys gekleur i.p.v die normale swart, geriffelde voorkoms. Na verloop van tyd kan die lippe, vel om die oë, die ore en geslagsdele ook aangetas word. Later mag die die letsels ontsteek en ook weefselbeskadiging plaasvind. Weens sonblootstelling kan die letsel op die neus in die somer vererger.

Diagnose

Besoek u veearts, wat monsters kan neem om ‘n definitiewe diagnose te maak.

Behandeling

Vermy sonblootstelling  en wend ‘n sonbrandmiddel aan wat nie sinkoksied bevat nie. Die veearts kan u ook van middels voorsien wat kortisoon en antibiotika bevat.

Honderasse wat gewoonlik aangetas word, is: Kollies, Duitse herdershonde, Shetland skaaphonde, Siberiese Husky’s, die Brittany en Duitse korthaar pointer.

Besoek ook die volgende webtuistes:

http://en.wikipedia.org/wiki/Canine_discoid_lupus_erythematosus

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1455&bih=665&q=discoid+lupus+erythematosus+in+dogs&oq=Lupus+erythematosus+in+dogs&gs_l=img.1.1.0j0i5i30l4.3408.28816.0.34508.27.18.0.9.9.0.542.4623.2-5j5j2j1.13.0.msedr…0…1ac.1.64.img..5.22.4817.4p0eiRWG4uA

Bronne:

The Merck Veterinary Manual, tenth edition. 2010. Merck & Co. Inc. ISBN 0-911910-93-X

Wikipedia.org/wiki/Canine_discoid_lupus_erythematosus soos op 6 April 2015

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

6 April 2015


Kommentaar

Een kommentaar op “Hondjie het kors op sy neus

  1. Prof Joop Boomker
    Prof Joop Boomker

    Dit hang ook af van hoe oud die hondjie is. Hoe ouer, hoe meer dikwels groei daar ‘n harde kors op die neus – min of meer dieselfde as die welige wenkbroue en neushare in ou mense!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X