Vra vir Faffa

Hond met nierversaking

Vraag

Ek het 'n Rottweiler X teef, 12 jaar 8 maande oud, maar is nog sterk. Sy is 4 jaar gelede gediagnoseer met effense nierversaking. Die afgelope 2 maande eet sy baie swak - moet erg moeite doen dat sy eet. Nierkos wil sy glad nie eet nie - sien haar stoelgang is groenerig en slymerig - sien ook sy lek die duiwe se mis. Wil ook graag gras eet. Kan die gebrek aan eetlus en groen stoelgang dalk iets te doen hê met die duiwemis wat sy eet? Sal 'n antibiotika soos Trichazole haar help om haar maag weer te stabiliseer of sal dit 'n uitwerking op haar niere hê? Ek gee haar Protexin in haar kos, maar die afgelope tyd wat sy so sleg eet, sukkel ek om dit vir haar in te gee. Ek gee haar ook 1 Ulsanic Tablet in die oggende en 1 Clopomon tablet. Wat kan ek doen om weer haar eetlus aan te wakker?

Antwoord

Wanneer ek die tekens en die ouderdom van die rottweiler in ag neem, stel ek voor dat u haar na ‘n veearts neem vir ‘n ondersoek en dat u ernstig begin oplet na haar lewenskwaliteit, aangesien dit ‘n ryp ouderdom  vir ‘n grootras hond is.  

 Beide akute en chroniese nierversaking kan lei tot aptytsverlies. Wat die stoelgang aanbetref, kan ‘n verandering in kleur weens ‘n dunderm abnormaliteit wees, maar dit is nie ‘n teken wat eksklusief verwys na ‘n dunderm abnormaliteit nie. ‘n Kleurverandering in ontlasting dui op die volledigheid van spysvertering, asook bakteriële metabolisme van galpigmente. Dus kan beide malabsorpsie asook ‘n verandering in die mikroflora en die deurgangstyd in die derm die kleur van ontlasting verander. Slym in die ontlasting kan dui op ‘n dikderm abnormaliteit. 
 
Ek hoop dat al die bogenoemde medikasie aan die rottweiler gegee word onder leiding van ‘n veearts, want verskeie van die middels is nie geregistreer vir die gebruik in honde en katte nie. Die gebruik van antibiotika sonder dat daar enige kliniese aanduiding is dat dit nodig is, moet vermy word aangesien ‘n onvermybare newe effek van die gebruik van antibiotika die ontwikkeling en verspreiding van weerstandbiedende bakterieë is. Daar is ook publikasies wat aandui dat daar ‘n risiko bestaan dat weerstandbiedende bakterieë en/of weerstandbiedende gene vanaf honde en katte na mense oorgedra kan word. 
 
 
Verwysings
1. Ettinger S J & Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine. W.B. Saunders Company, USA
2. Guardabassi L, Schwarz S and Lloyd D H. 2004. Pet animals as reservoirs of antimicrobial-resistant bacteria. Journal of Antimicrobial Chemotherapy 54: 321 – 332
3. van den Bogaard A E and Stobberingh E E. 2000. Epidemiology of resistance to antibiotics: Links between animals and humans. Journal of Antimicrobial Agents 14 (4): 327 – 335
 
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc)
 
12 Mei 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X