Vra vir Faffa

Hoe perdesiekte entstof toegedien moet word

Vraag

Wat is die korrekte manier om perdesiekte entstof toe te dien?

Antwoord

Die perdesiekte entstof wat tans in Suid Afrika beskikbaar is, bevat sewe lewende verswakte virusstamme. Bottel 1 bevat serotipes 1,3 en 4 terwyl Bottel 2 tipes 2,6,7 en 8 bevat. Die ander twee bekende serotipes (5 en 9) is nie ingesluit in die entstof nie maar daar is redelike goeie kruisbeskerming tussen tipes 8 en 5 asook tussen tipes 6 en  9.

Lewende verswakte entstofstamme vermeerder in die liggaam na inenting. Tydens  vermenigvuldiging word remstowwe (interferons) gevorm wat die vermenigvuldiging van ander virusse(asook entstofstamme )blokkeer. Wanneer ‘n mengsel van virusstamme ingespuit word, word dit ‘n wedloop en die liggaam vorm teenliggame teen slegs 2 of 3 van die stamme,ongesiens van die aantal stamme  wat ingespuit is.

Die ideaal is dus om slegs een lewende entstofstam op  ‘n keer in te spuit. Hierdie ideaal is egter nie prakties haalbaar nie en derhalwe moes ‘n kompromis gemaak word  (die huidige kombinasies).

Soos reeds genoem  vorm interferons nadat een of meer lewende entstofstamme ingespuit word. Interferons het n baie belangrike anti-virus funksie wat twee weke of selfs effens langer mag duur. Derhalwe sal die liggaam nie reageer teen n tweede inenting wat binne drie weke gegee word nie- vandaar die voorskrif  dat die MINIMUM tydsverloop  tussen twee entings drie weke is (in werklikheid   is 6 weke beter!)

Ek staan dikwels verstom oor die sogenaamde “ vindingrykheid” van diere-eienaars wat glo dat hulle kan verbeter op die voorskrifte van die entstofvervaardiger. Deur die inhoud van Bottels 1 en 2 tegelyk aan weerskante van die nek in te spuit, is niks anders as oëverblindery nie!. Binne 30 minute is albei inspuitings opgeneem in die bloedstroom, dus feitlik dieselfde  as om die twee bottels se inhoud te meng en by een plek in te spuit. Die perd moet dus teen sewe entstofstamme tegelyk reageer wat groter kompetisie meebring met n swakker immuunreaksie as wanneer dit volgens voorskrif  toegedien word.

Dit kan nie genoeg benadruk word dat met die gebruik van entstowwe (sowel as alle ander veemiddels) die meegaande voubiljet noukeurig gelees word en dat daar nie afgewyk moet word van die gebruiksvoorskrifte nie.

Geskryf deur: Dr. Baltus Erasmus (baltus@Deltamune.co.za), voormalige hoof van OBP, onder sy leiding is die huidige perdesiekte entstof ontwikkel

7 Maart 2017


Kommentaar

Een kommentaar op “Hoe perdesiekte entstof toegedien moet word

  1. veronique breed
    veronique breed

    Baie interessant en ideaal vir kliente wat gevaarlik ingelig is!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X