Vra vir Faffa

Herwinning van aangeplante weiding

Vraag

Ons het Smutsvingerlande wat erg besmet was met bankrotbos. Ons het die bankrotbos doodgespuit in 2013 en die veld het toe in dieselfde jaar afgebrand. Die lande het nou min Smutsvinger oor en is besmet met fyn kweek en dekgras. Ek wil die lande se weidingspotensiaal weer terugkry, maar ek sal die fyn kweek moet uitwerk. Watter ander eenjarige gewasse of dalk peulgewasse kan ek plant sodat ek die fyn kweek kan uitspuit, maar wat ek ook dan later kan laat bewei deur my beeste? Ek is dan van plan om in die volgende jaar weer gras te vestig as die kweek onder beheer is. Ek is in die Klerksdorp/Ventersdorpomgewing.

Antwoord

Dit is ‘n goeie plan (soos voorgestel) om ‘n eenjarige weiding te plant voordat die Smutsvinger hervestig word. Die beste sal wees om te wag totdat die kweek en dekgras begin hergroei en ‘n mooi groen voorkoms het (wat binnekort behoort te gebeur). Spuit dit dan met ‘n onkruiddoder wat ‘n kort nawerking het, soos byvoorbeeld glifosaatbevattende doders. Sodra die gras dood is, begin met ‘n deeglike saadbedvoorbereiding. Tandimplemente werk gewoonlik beter aangesien skaarimplemente die kweek herplant.

Plant dan in November ‘n eenjarige somervoergewas soos Baster Babala of ‘n Voersorghum in alternatiewe rye met Dolichos (Lablab), wat goeie weiding sal verskaf. Plant dan op in die volgende seisoen ‘n Smutsvinger en Rhodesgrasmengsel. Goeie saadbedvoorbereiding is belangrik asook die regstelling van die grondvrugbaarheid (pH, fosfaat en kalium) voor plant.

Geskryf deur: prof Chris Dannhauser, weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za ) www.grasssa.co.za 

12 Oktober 2015

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X