Vra vir Faffa

Hartwaterbeheer in kleinvee in die Oos-Kaap

Vraag

'n Leser vra wat die algemene praktyk om hartwater in kleinvee in die Oos-Kaap te beheer is en een van ons kundiges help.

Antwoord

‘n Leser vra wat die algemene praktyk om hartwater in kleinvee in die Oos-Kaap te beheer is en een van ons kundiges help.

Vraag:
Ons het nou die nare gogga van hartwater hier op ons een plaas. Wat ‘n gemors om die arme diere elke 14 dae te moet inspuit. Vrydag was ek in die kraal om te help met die Angora’s. O jissie, dis vreeslik hoe daai Hi Tet inspuiting brand. Hulle bulk soos beeste en gaan lê met stywe nekke. Ek haat dit absoluut om hulle so te sien stres, veral omdat hulle ver dragtig is.

Ek wens ons kon die entstof kry waarvan Arthur Rudman van gepraat het op die Bokhaar Kongres. Hy het genoem dat Onderspoort wel al een ontwikkel het, maar dat dit nog iets soos 12 jaar – of so iets belagliks is – voor die lisensie kan verkry word. Dit is verstommend hoe hierdie siekte versprei. Hier is nou al ‘n hele paar boere wat dit op hul plase het – waar dit nooit voorheen was nie. Ek weet nie hoekom Noag nie sy twee muskiete plat geslaan het en sy twee bosluise plat gedruk het nie. – Elna van den Berg.

Antwoord:

Hartwater wat deur besmette nimfe en volwasse bontbosluise oorgedra word, is ‘n groot probleem vir kleinvee in die kusstreke van die Oos-Kaap. Hartwater was nog altyd ‘n probleem in die Oos-Kaap en mense skryf die voorkoms en verspreiding van die siekte toe aan koedoes.

‘n Praktyk wat baie goed werk, is om skape elke 18 dae en bokke elke 17 dae te blok met ‘n vol dosis van ‘n kortwerkende tetrasikliene bv. Reverin 100 (G 2871) of Engemycin 10% (G2470). Daar moet op gelet word dat sekere tetrasikliene op die mark baie meer weefselskade asook erge pyn veroorsaak. Skakel u veearts om u meer inligting hieroor te gee.

Die teorie is dat die behandeling met tetrasikliene hartwaterinfeksie vir ongeveer 2 tot 4 dae na behandeling sal verhoed. As diere daarna met ‘n bontbosluis, wat met die hartwaterorganisme besmet is, gebyt word, is die inkubasieperiode van hartwater, 10 tot 12 dae voordat diere met ‘n koorsreaksie begin. Die volgende behandeling 18 dae na die vorige behandeling sal die siekte beheer.

Die skrywer van hierdie antwoord het hierdie metode vir die laaste 18 jaar op haar plaas in die Bathurst-distrik vir haar skape en boerbokke gebruik. Na 3 tot 6 maande, afhangende van die seisoen en die bosluislading, ontwikkel hierdie diere ‘n volledige immuniteit teen hartwater. Bathurst se bosluisbesmetting is baie hoog (mens wil dit graag so hê, sodat diere immuniteit kan ontwikkel) en deur dure ondervinding is gevind dat dit die enigste metode is wat werk.

Dit is belangrik om te weet dat as die behandeling elke 14 dae gedoen word, dan word die hartwaterinfeksie in die diere gesteriliseer en ontwikkel die diere nie ‘n immuniteit nie. Diere word slegs gedip wanneer die bosluislading te hoog word en dan kan selfs net kolbehandeling toegepas word. Diere gaan gereeld deur ‘n voetdip om voetabsesse te voorkom wat deur bosluise veroorsaak word. Dit is wenslik dat daar onvolwasse bontbosluise op diere voorkom om die dier se immuunstelsel teen hartwater te stimuleer.

Probleme kan ondervind word as daar nie genoeg hartwaterbesmette bosluise teenwoordig is om ‘n endemiese stabiliteit teen hartwater in stand te hou. Fort Beaufort is een van die areas waar daar ‘n yl verspreiding van bontbosluise is. Daar word ook gevind dat bokke hulself skoonmaak van bosluise ("grooming") wat beteken dat hulle nie genoeg bosluise op hulle het om ‘n endemiese stabiliteit in stand te hou nie.

Die skrywer laat daarom haar bokke bloei om vas te stel of haar bokke genoeg teenliggame teen hartwater opgebou het, voordat die gereelde toediening van tetrasikliene gestaak word.

Hartwaterentstof:
Die gevriesde entstof is effektief in skape, maar hulle het nie dieselfde mate van aangebore weerstand teen hartwater as kalwers nie. Gevolglik moet ‘n dagoud lam wat die entstof intraveneus ontvang, met tetrasikliene geblok word of verkieslik moet temperature daagliks geneem word en dan word skape behandel as hulle ‘n koorsreaksie ontwikkel. Hierdie feit, plus die moeilike verkryging van die entstof, het daartoe gelei dat die entstof nie baie gebruik word nie.

Wat nou van die toekoms? Die gebruik van tetrasikliene elke 18 dae vir ‘n periode lei tot ‘n endemiese stabiliteit, mits daar genoeg hartwaterbesmette bontbosluise op die plaas teenwoordig is. Daar word gereken dat omtrent 10% van bontbosluise met die hartwaterorganisme besmet is. Soos reeds hierbo genoem kan diere se teenliggaaam vlakke teen hartwater vasgestel word en dan besluit word of daar met die tetrasiklien behandelings opgehou kan word.

 

  • Geskryf deur: Dr. Jane Pistorius, bestuurder: Veeartsenydiens, Westelike gebiedvan die Oos-Kaap (jane.pistorius@agr.ecprov.gov.za).

    2 Oktober 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X